Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONDERHOUD | STEPHEN TAYLOR

’n Professor van finansiële rekeningkunde verduidelik waarom hy aan God glo

’n Professor van finansiële rekeningkunde verduidelik waarom hy aan God glo

Professor Stephen Taylor is ’n dosent en navorser by die Universiteit van Tegnologie in Sydney, Australië. Hy bestudeer finansiële markte en maniere waarop dit doeltreffend gereguleer kan word. Ontwaak! het hom gevra hoe sy navorsing sy godsdiensoortuigings beïnvloed het.

Vertel ons van jou agtergrond.

Ek is grootgemaak deur kerkgaande ouers wat eerlik en hardwerkend was. Hulle het my aangespoor om ’n goeie opvoeding te kry, en daarom het ek handel aan die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis gestudeer. Ek het uitgevind dat ek van navorsing hou en het besluit om ’n akademiese loopbaan te volg.

In watter veld het jy besluit om navorsing te doen?

Ek wou baie graag verstaan hoe die aandelemark werk. Die aandelemark stel mense in staat om aandele in maatskappye te koop en te verkoop. Die maatskappye gebruik dan hierdie fondse om te funksioneer. Ek doen onder andere navorsing oor die faktore wat maatskappye se aandeelpryse beïnvloed.

Kan jy vir ons ’n voorbeeld gee?

Daar word van maatskappye verwag om gereeld oor hulle inkomste verslag te lewer. Beleggers kyk na hierdie verslae wanneer hulle die finansiële gesondheid van ’n maatskappy wil vasstel. Maar in sommige gevalle is daar nie ’n standaardmetode om oor inkomste verslag te lewer nie. Kritici gebruik dit as ’n skuiwergat in die stelsel wat deur maatskappye gebruik word om hulle ware waarde en winste weg te steek. Hoe kan beleggers akkurate en volledige inligting kry? Watter inligting het reguleerders nodig om te verseker dat finansiële markte eerlik handel dryf? Ek en my kollegas probeer tans antwoorde op hierdie vrae vind.

Wat is jou godsdiensagtergrond?

Ek het gereeld saam met my ouers na die Presbiteriaanse Kerk gegaan, maar gedurende my tienerjare het ek belangstelling in godsdiens verloor. Ek het aan ’n Skepper geglo en die Bybel gerespekteer, maar ek het gevoel dat godsdiens mense nie help om probleme in die lewe die hoof te bied nie. Vir my was godsdiensgroepe meer soos sosiale klubs. In Europa het ek verskeie groot kerke besoek en gewonder waarom hulle soveel rykdom besit terwyl daar soveel armoede in die wêreld is. Dit was vir my baie moeilik om hierdie teenstrydigheid te verstaan, en ek het baie skepties teenoor godsdiens geword.

Wat het jou beskouing verander?

My vrou, Jennifer, het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer en hulle vergaderinge begin bywoon. Ek het dus besluit om saam met haar te gaan om ondersoek in te stel. Ek het gou agtergekom dat ek amper niks van die Bybel weet nie. Ek was geskok! Gevolglik het ek die Bybel saam met die Getuies begin studeer.

Die Getuies se studiemetode het my werklik beïndruk. Hulle het vrae gevra, bewyse versamel en ontleed en dan tot logiese gevolgtrekkings gekom—metodes wat ek in my akademiese navorsing gebruik! In 1999, ’n paar jaar nadat Jennifer gedoop is, is ek ook as een van Jehovah se Getuies gedoop.

Het jou kennis van die ekonomie jou vertroue in die Bybel versterk?

Definitief. Die Wet wat God aan eertydse Israel gegee het, het byvoorbeeld ekonomiese probleme aangespreek wat ekonome vandag nog laat kopkrap. Die Wet het vereis dat die Israeliete ’n deel van hulle opbrengs vir die armes opsysit (’n vorm van belasting en versekering), lenings rentevry aan die armes toestaan (toegang tot krediet) en elke 50 jaar erfgrond aan die oorspronklike eienaars teruggee (beskerming van eiendomsregte) (Levitikus 19:9, 10; 25:10, 35-37; Deuteronomium 24:19-21). Hierdie en ander ekonomiese voorsienings het mense op drie belangrike maniere gehelp: Dit het (1) hulle gedurende ’n finansiële terugslag gehelp, (2) dit vir hulle moontlik gemaak om langtermynarmoede te vermy en (3) ekonomiese ongelykheid verlig—en dit alles meer as 3 000 jaar voor die ontstaan van die ekonomie as ’n wetenskap!

Die Bybel beklemtoon ook gesindhede en gedrag wat ekonomiese sekuriteit bevorder. Dit leer mense byvoorbeeld om eerlik, betroubaar, medelydend en vrygewig te wees (Deuteronomium 15:7-11; 25:15; Psalm 15). Dit is interessant dat sommige sakeskole en -organisasies beroepslui in die finansiële en sakewêreld ná die onlangse wêreldwye finansiële krisis aangespoor het om hulle daartoe te verbind om sekere etiese standaarde te handhaaf. Ek dink dat die Bybel se sedelike standaarde baie voortrefliker is as daardie sakeriglyne.

Watter uitwerking het jou geloof op jou gehad?

Om die Bybel te bestudeer, is die beste “belegging” wat ek nog ooit gemaak het

Wel, Jennifer sê dat ek redeliker geword het. Ek was voorheen geneig om ’n perfeksionis te wees en het ’n swart-en-wit-beskouing van dinge gehad. Miskien is dit hoekom ek goed is in rekeningkunde! Om volgens Bybelbeginsels te lewe, het my beslis gehelp om meer gebalanseerd te wees. Ek is nou baie gelukkiger, en my gesin is ook gelukkiger. Ons geniet dit ook om met ander oor die Bybel se praktiese wysheid te praat. Om die Bybel te bestudeer, is die beste “belegging” wat ek nog ooit gemaak het.