Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek het hoop gevind toe ek dit die nodigste gehad het

Ek het hoop gevind toe ek dit die nodigste gehad het

Skielik het ek met my gesig in die water gelê. Ek het my kop probeer oplig om asem te haal, maar my nekspiere het nie gereageer nie. Ek was doodbang en het probeer omrol, maar ek kon my arms en bene net nie beweeg nie. Water het in my longe begin inloop. Op daardie warm somersdag in 1991 het my lewe heeltemal verander.

EK IS gebore in die stad Szerencs en het grootgeword in die dorpie Tiszaladány in die noordooste van Hongarye. In Junie 1991 het ek saam met ’n paar vriende na ’n plek langs die Tiszarivier gegaan waar ons nog nie was nie. Ek het gedink dat die water diep is en het ingeduik. Dit was ’n groot fout! Ek het drie werwels in my nek gebreek en my rugmurg beskadig. My vriend het gesien dat ek nie beweeg nie en het my versigtig opgelig en uit die water getrek voordat ek verdrink het.

Ek was by my volle bewussyn en het geweet dat iets ernstigs fout is. Iemand het die nooddienste ontbied, en ’n helikopter het gekom en my na ’n hospitaal geneem, waar dokters my rug gestabiliseer het. Later is ek na die hoofstad, Boedapest, verplaas om te herstel. Ek moes drie maande lank op my rug lê. Hoewel ek my kop kon beweeg, het ek geen spierbeheer van my skouers af ondertoe gehad nie. Op 20-jarige ouderdom het ek heeltemal van ander afhanklik geword. Ek het so mismoedig gevoel dat ek wou doodgaan.

Toe ek uiteindelik huis toe kon gaan, het my ouers opleiding ontvang sodat hulle my kon versorg. Maar die werk het hulle fisies en emosioneel uitgeput, en ná omtrent ’n jaar het ek in depressie verval. Op daardie stadium het ek professionele raadgewing ontvang, wat my gehelp het om my beskouing van my toestand te verander.

Ek het ook dieper oor die lewe begin nadink. Het dit ’n doel? Waarom het hierdie tragedie my getref? Ek het tydskrifte en boeke gelees op soek na antwoorde. Ek het ook die Bybel probeer lees, maar ek het gesukkel om dit te verstaan. Daarom het ek dit op die rak teruggesit. Ek het selfs met ’n priester gepraat, maar sy antwoorde was onbevredigend.

Toe, in die lente van 1994, het twee van Jehovah se Getuies my pa besoek, en hy het hulle gevra om met my te praat. Ek het geluister terwyl hulle my vertel het van God se voorneme om die aarde in ’n paradys te omskep en om siekte en lyding uit die weg te ruim. Dit het alles baie goed geklink, maar ek was skepties. Ek het nogtans twee Bybelstudiehulpe aanvaar. Nadat ek die boeke gelees het, het die Getuies aangebied om die Bybel met my te studeer, en ek het ingestem. Hulle het my ook aangespoor om te bid.

Ek het oortuig geraak dat God werklik vir my omgee

 Namate my studie gevorder het, het ek antwoorde op al my vrae direk uit die Bybel gekry. Ek het ook oortuig geraak dat God werklik vir my omgee. Uiteindelik, op 13 September 1997, nadat ek die Bybel twee jaar lank gestudeer het, is ek by die huis in ’n bad gedoop. Dit was een van die gelukkigste dae van my lewe.

In 2007 het ek na ’n inrigting vir die gestremdes in Boedapest getrek. Dit het my baie geleenthede gegee om ander te vertel van die wonderlike dinge wat ek geleer het. Wanneer die weer goed is, kan ek selfs uitgaan om met mense te praat met behulp van ’n gemotoriseerde rolstoel wat spesiaal aangepas is sodat ek dit met my ken kan bestuur.

Danksy die ruimhartige finansiële bystand van ’n gesin in my gemeente kon ek ook ’n skootrekenaar kry wat ek kan gebruik deur my kop te beweeg. Hierdie toestel maak dit vir my moontlik om mense deur middel van die Internet te bel en om briewe te skryf aan huisbewoners wat nie tuis was toe lede van my gemeente hulle probeer besoek het nie. Die feit dat ek ander op hierdie manier help, het my kommunikasievaardighede aansienlik verbeter en het my gehelp om minder op my eie probleme te konsentreer.

Ek vertel ander oor die Internet van die Bybel se boodskap deur middel van ’n toestel wat ek kan gebruik deur my kop te beweeg

Ek kan selfs Christelike vergaderinge bywoon. Wanneer ek by die Koninkryksaal aankom, dra my geestelike broers my versigtig in my rolstoel een verdieping op na die vergaderplek. Wanneer die gehoor gedurende die vergaderinge genooi word om kommentaar te lewer, steek die broer wat langs my sit, sy hand namens my op. Hy hou dan my Bybel of my studiehulp vas terwyl ek my kommentaar lewer.

Ek het heeltyd pyn, en ander moet byna alles vir my doen. Soms voel ek dus nog steeds mismoedig. Maar ek put vertroosting uit my vriendskap met Jehovah God, in die wete dat hy luister wanneer ek my hart voor hom uitstort. Ek put ook krag uit my daaglikse Bybellees en assosiasie met my geestelike broers en susters. Hulle vriendskap, emosionele ondersteuning en gebede help my om my geestelike en emosionele balans te behou.

Jehovah het my vertroosting gegee juis toe ek dit die nodigste gehad het. Hy het my ook die hoop op volmaakte gesondheid in ’n nuwe wêreld gegee. Daarom smag ek na die tyd wanneer ek kan ‘loop en spring en hom kan loof’ vir sy oorvloedige liefde en goedhartigheid.—Handelinge 3:6-9.