Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Romeinse akwadukte—Wonders van die ingenieurswese

Romeinse akwadukte—Wonders van die ingenieurswese

VAN alle eertydse ingenieursprestasies is Romeinse akwadukte onder die merkwaardigstes. “Vergelyk gerus hierdie talle onontbeerlike strukture wat soveel water vervoer, met die onpraktiese piramides of die nuttelose, hoewel beroemde, werke van die Grieke!”, het Sextus Julius Frontinus (35–ca. 103 HJ), ’n Romeinse goewerneur en waterkommissaris, geskryf. *

Waarom was akwadukte nodig?

Eertydse stede is gewoonlik naby ’n ryk waterbron gebou, en Rome was geen uitsondering nie. Aanvanklik het die Tiberrivier en nabygeleë fonteine en putte genoeg water voorsien. Maar vanaf die vierde eeu VHJ het Rome vinnig gegroei, en so ook die behoefte aan water.

Aangesien min mense lopende water in hulle huise gehad het, het die Romeine honderde private en openbare baddens gebou. Die eerste openbare bad in die stad Rome is van water voorsien deur middel van die Aqua Virgo, wat in 19 VHJ ingewy is. Die bouer van hierdie akwaduk, Marcus Agrippa, ’n hegte vriend van Caesar Augustus, het ’n groot deel van sy ontsaglike rykdom gebruik om Rome se watertoevoerstelsel op te knap en uit te brei.

Baddens het ook gewilde kuierplekke geword, en groteres het selfs tuine en biblioteke gehad. Die akwadukwater, waarvan die toevoer nie afgesny kon word nie, het van die baddens af in die rioolstelsel gevloei, waar dit voortdurend die afval, insluitende dié van toilette langs die baddens, weggespoel het.

Konstruksie en instandhouding

Laat die woorde “Romeinse akwaduk” jou aan hoë brûe dink wat tot by die horison strek? Brûe het in werklikheid minder as 20 persent van hierdie kanaalstelsels uitgemaak, waarvan die grootste deel onder die grond was. Hierdie goedkoper ontwerp het die akwadukte nie net teen erosie beskerm nie, maar het ook die impak daarvan op landerye en woonbuurte verminder.  Byvoorbeeld, die Aqua Marcia, wat in 140 VHJ voltooi is, was ongeveer 92 kilometer lank, maar brûe het net omtrent 11 kilometer daarvan uitgemaak.

Voordat ’n akwaduk gebou is, het ingenieurs die gehalte van ’n potensiële waterbron bepaal deur die helderheid, stroomsnelheid en smaak van die water te ondersoek. Hulle het ook gekyk na die fisiese toestand van die plaaslike mense wat dit gedrink het. Nadat ’n waterbron goedgekeur is, het ingenieurs die regte pad en helling vir die kanaal uitgewerk, asook die grootte en lengte daarvan. Slawe is klaarblyklik gebruik om die akwadukte te bou. Dit kon jare neem om ’n akwaduk te voltooi, wat dit redelik duur gemaak het—veral as brûe nodig was.

Wat meer is, akwadukte moes in stand gehou en beskerm word. Op een stadium was daar omtrent 700 mense in die stad Rome wat hierdie werk gedoen het. Die ontwerp het ook instandhouding moontlik gemaak. Ondergrondse gedeeltes van die akwadukte kon byvoorbeeld deur mangate en skagte bereik word. As groot herstelwerk gedoen moes word, kon ingenieurs die water tydelik van ’n beskadigde gedeelte weglei.

Rome se stedelike akwadukte

Teen die vroeë derde eeu HJ het 11 groot akwadukte die stad Rome van water voorsien. Die eerste een, die Aqua Appia, wat in 312 VHJ gebou is en net oor die 16 kilometer lank was, het byna heeltemal onder die grond geloop. Die Aqua Claudia, waarvan gedeeltes tot vandag toe behoue gebly het, was sowat 69 kilometer lank. En ongeveer 10 kilometer daarvan het uit brûe bestaan, waarvan party 27 meter hoog was!

Hoeveel water het die stad se akwadukte vervoer? Baie! Die Aqua Marcia, wat vroeër gemeld is, het byvoorbeeld daagliks omtrent 190 000 kubieke meter water na Rome gelei. Sodra die water stedelike gebiede bereik het—met behulp van swaartekrag—het dit in verspreidingstenks gevloei, en dan in vertakkings, wat die water na ander verspreidingstenks gelei het, of na plekke waar dit gebruik kon word. Party skat dat Rome se waterverspreidingstelsel uitgebrei is totdat dit daagliks meer as 1 000 liter water vir elke inwoner voorsien het.

Volgens die boek Roman Aqueducts & Water Supply het die Romeine akwadukte gebou in al die gebiede wat hulle verower het. Mense wat Klein-Asië, Frankryk, Spanje en Noord-Afrika besoek, kan nog steeds vol bewondering na hierdie antieke wonders van die ingenieurswese kyk.

^ par. 2 Die Romeine was nie die eerstes wat waterkanale gebou het nie. Ander eertydse nasies, soos die Assiriërs, Egiptenaars, Indiërs en Perse, het dit voor hulle gedoen.