Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Hoe kan mense vrede maak?

Hoe kan mense vrede maak?

Frank en Jerry was goeie bure—maar net totdat Jerry eenkeer tot laat in die nag partytjie gehou het. * Toe Frank oor die geraas kla, het Jerry hom vererg oor die manier waarop hy dit gedoen het. ’n Woordewisseling het ontstaan. Daarna het hulle mekaar vermy.

FRANK en Jerry het voor ’n algemene probleem te staan gekom. Wanneer twee mense ’n meningsverskil het, gaan hulle dikwels kwaad uitmekaar en gee hulle mekaar dalk die skuld. As hulle die geskil nie oplos nie, kan hulle van mekaar vervreemd raak.

Jy was dalk al in ’n soortgelyke situasie. Indien wel, was dit waarskynlik glad nie aangenaam nie! Ja, die meeste van ons wil in vrede met ons vriende en bure lewe en goed met hulle oor die weg kom. Maar hoe kan ons dit doen, al is daar nou en dan meningsverskille? Kan ons slegte gesindhede en gekrenkte gevoelens oorkom? Kan ons ons meningsverskille vreedsaam uit die weg ruim?

Dink aan Frank en Jerry se situasie. Hulle vriendskap het begin agteruitgaan toe hulle in verskeie opsigte verkeerd opgetree het: (1) Jerry was onbedagsaam, (2) Frank het sy ergernis uitgespreek op ’n manier wat Jerry kwaad gemaak het, (3) albei het hulle humeur verloor en (4) albei het geweier om toe te gee.

Maar later het redelikheid geseëvier. Die twee mans het hulle meningsverskille agter hulle gestel en vrede gemaak. Wat het hulle gehelp om dit reg te kry? Hulle het praktiese beginsels toegepas wat al gehelp het dat baie vriendskappe nie net gedurende moeilike situasies behoue bly nie, maar ook daarna selfs hegter word.

Die betrokke beginsels kan gevind word in die boek met die grootste verspreiding ter wêreld—die Bybel. Dit spoor ons aan om eienskappe aan te kweek wat vrede bevorder en emosionele wonde genees—eienskappe soos onderskeidingsvermoë, insig, goedhartigheid, liefde en geduld.—Spreuke 14:29; 1 Korintiërs 13:4, 5.

Frank en Jerry is net twee voorbeelde van die krag wat die Bybel het om mense se lewens ten goede te verander. Daar is baie ander voorbeelde, wat mense insluit wat diepgewortelde slegte eienskappe oorkom het. Byvoorbeeld, Robert, wat in Australië woon, het diepgewortelde woede oorkom. Nelson, in Timor-Leste, het jare lange vyandigheid opsygesit en van ’n voormalige vyand ’n hegte vriend gemaak. Hoe het die Bybel Robert en Nelson gehelp? Ontwaak! het ’n onderhoud met hulle gevoer om uit te vind.

ONDERHOUD 1

ROBERT, vertel ons van jou agtergrond.

Ek het in ’n ongelukkige huisgesin grootgeword. My pa het byvoorbeeld ’n verskriklike humeur gehad en het my dikwels geslaan. Soms het hy eers opgehou wanneer ek bebloed en bewusteloos was. Gevolglik het woede in my opgebou en het ek al hoe gewelddadiger geword. Gedurende my tienerjare was ek twee jaar lank in ’n verbeteringskool. Later het ek iemand ernstig aangerand en gevolglik in ’n maksimumveiligheidsgevangenis beland. Toe ek uiteindelik vrygelaat is, het ek na Australië getrek in die hoop om ’n nuwe begin te maak.

Robert was aggressief en gewelddadig as jong man en was selfs ’n ruk lank in die tronk

Het dit jou gehelp om jou weë te verander?

Dit was nie soseer die feit dat ek getrek het wat my laat verander het nie, maar ’n studie van die Bybel saam met Jehovah se Getuies. Maar ek het nog steeds gesukkel om my humeur te beteuel en ek het dikwels gefrustreerd en waardeloos gevoel. Toe het ek eendag nagedink oor Spreuke 19:11, wat sê: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn, en dit is mooi van hom om die oortreding oor te sien.” Omdat ek graag hierdie insig wou hê, het ek begin dink oor wat agter mense se gevoelens, woorde en dade sit. Ek het dus geleidelik meer begrip getoon en geduldiger en meer vergewensgesind geword.

Sal jy vir ons ’n voorbeeld gee?

Ek het eenkeer ’n vriend onopsetlik kwaad gemaak, en hy het my woedend voor ander berispe. Ek het vernederd gevoel, om die minste te sê! Maar ek het die Bybel se raad onthou: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie”, en ek het dadelik om verskoning gevra (Romeine 12:17). Toe my vriend afgekoel het, het ek alleen met hom gaan praat en uitgevind dat hy gesinsprobleme het. Ons het vrede gemaak, en later het hy my ’n pragtige jas as geskenk gegee. Ek ys as ek dink aan wat kon gebeur het as ek nog soos vroeër opgetree het wanneer iemand my verneder het.

Hoe los jy gesinsprobleme op?

Ek en my vrou het ’n 20-jarige seun, en soos ander gesinne het ons soms meningsverskille. Maar ek het baie uit die Bybel geleer, onder andere hoe belangrik dit is om te sê: “Ek is jammer.” Dit is wonderlik om te sien hoe hierdie woorde, wanneer dit opreg uitgespreek word, ’n konfliksituasie kan voorkom of kan ontlont.

ONDERHOUD 2

NELSON, jy het ’n vriendelike glimlag en gesindheid. Maar eens op ’n tyd was jy vol haat, nie waar nie?

Ja! As ’n jong man het ek by ’n politieke groep aangesluit wat die regering teëgestaan het. Ek was ook haatdraend teenoor ’n politieke party wat om beheer oor ons streek meegeding het. Om beter te kan veg, het ek verweerkuns geleer, en ek het enigiemand aangerand wat my kwaad gemaak het.

As ’n jong man het Nelson by ’n politieke groep aangesluit wat die regering teëgestaan het

Wat het jou beweeg om te verander?

Ek het begin om die Bybel te studeer en die leringe daarin toe te pas, waarvan veral twee my hart geraak het. Die eerste is: “Alles wat julle . . . wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Die tweede is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). Ek het gesien dat die Getuies, wat my die Bybel geleer het, hierdie soort liefde toon, ongeag hulle ras of etniese agtergrond. Ek wou soos hulle wees. Ek het dit blykbaar reggekry, want my vorige kennisse was verbaas en is nie meer bang vir my nie.

Het jy ooit teruggeval?

Nie in die openbaar nie. Maar soms het ek gesukkel om my humeur by die huis te beteuel. Trouens, ek het eenkeer kwaad geword en my vrou geklap, iets waaroor ek baie spyt is. Sy het my egter goedhartig vergewe, en dit het my selfs meer vasbeslote gemaak om my emosies te beheers.

Jy het gesê dat mense nie meer vir jou bang is nie. Kan jy ons ’n voorbeeld gee?

Ja. Eendag het ek ’n vername lid van die mededingende politieke groep waarvan ek vroeër gepraat het, ’n man met die naam Augusto, teëgekom. Aanvanklik was hy baie skrikkerig vir my. Maar ek het hom hartlik gegroet, voorgestel dat ons ons meningsverskille vergeet en hom na my huis toe genooi. Hy het my aanbod aanvaar en was so verbaas oor die veranderinge wat ek aangebring het dat hy ook die Bybel begin studeer het. Nou is ek en Augusto nie net hegte vriende nie, maar ook geestelike broers.

“Wees . . . vreedsaam teenoor alle mense”

Die oorsake van konflik is ingewikkeld en verskillend, en nie almal sal gunstig reageer op jou pogings om vrede te maak nie. Daarom gee die Bybel hierdie praktiese raad: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.”—Romeine 12:18.

Die mense wat in hierdie artikel genoem word, is lewende bewys dat die wysheid wat in die Bybel gevind word, werklik prakties is—dat dit die krag het om selfs diepgewortelde slegte gesindhede as’ t ware omver te werp as ons dit toelaat (2 Korintiërs 10:4). Aangaande hierdie wysheid sê Spreuke 3:17, 18: “Sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede. Dit is ’n boom van die lewe vir dié wat dit aangryp, en dié wat dit stewig vashou, sal gelukkig genoem word.”

Nelson en Augusto is nou goeie vriende

Wil jy gelukkiger en vreedsamer word? Smag jy na vriendskappe wat nie sal agteruitgaan wanneer dit op die proef gestel word nie? Indien wel, sal jy nie teleurgesteld wees as jy die Bybel toelaat om jou die weg te wys nie.

^ par. 3 Name is verander.