Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Hou die voëls noukeurig dop’

‘Hou die voëls noukeurig dop’

VOËLS kom in alle wêrelddele voor, en in vergelyking met ander diere is dit maklik om hulle dop te hou. Die groot verskeidenheid soorte met hulle verskillende kleure, geluide, manewales en gewoontes kan voëlkykery ’n vermaaklike en bevredigende stokperdjie maak.

Swartkeelgeelvink

Dit is dalk selfs vir jou moontlik om ’n voël se daaglikse bedrywighede deur jou kombuisvenster dop te hou: ’n hadida wat na wurms grawe, ’n vlieëvanger wat insekte vang, ’n duif wat sy maat die hof maak, ’n swaeltjie wat onvermoeid sy nes bou of ’n vink wat sy honger kleintjies voer.

Gewone Tarentaal

Party voëls sal jou beïndruk—soos arende en valke wat in die lug sweef. Ander sal jou dalk vermaak: mossies wat oor ’n lekker happie baklei, ’n duif wat sy bors uitstoot om ’n wyfie te beïndruk wat blykbaar nie belangstel nie of ’n vink wat sy nes bou. En dit is opwindend om migrerende ooievaars, kraanvoëls of ganse in die lug te sien vlieg. Ja, hierdie migrasies word al duisende jare lank waargeneem, en voëlkykers is verstom oor voëls se vermoë om op presies die regte tyd te migreer en  groot afstande af te lê. Trouens, die Skepper self het gesê: “Die ooievaar in die hemel—hy ken sy vasgestelde tye goed; en die tortelduif en die windswael en die tiptol—hulle neem die tyd van hulle koms goed in ag.”—Jeremia 8:7.

Voëls in Bybeltye

In die Bybel word daar dikwels na voëls verwys om ons waardevolle lesse te leer. Byvoorbeeld, God het vir ’n man met die naam Job aangaande die volstruis en hoe vinnig hierdie voël is, gesê: “Wanneer sy haar vlerke in die hoogte klap, lag sy die perd en sy ruiter uit” (Job 39:13, 18). * God het Job ook gevra: “Is dit aan jou verstand te danke dat die valk opwaarts sweef . . . ? Of is dit op jou bevel dat ’n arend hoog opvlieg?” (Job 39:26, 27). Wat is die les? Voëls doen dit alles sonder enige hulp van ons. Hulle vermoëns getuig van God se wysheid, nie ons s’n nie.

Koning Salomo het geskryf oor “die stem van die tortelduif”, wat die koms van die lente aankondig (Hooglied 2:12). ’n Psalmis het die swaeltjie gemeld toe hy geskryf het oor sy sterk begeerte om in God se tempel te dien. Met ’n tikkie afguns het hy gesê: “Selfs die voël het ’n huis gevind en die swaeltjie ’n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neergelê het—u grootse altaar, o Jehovah.”—Psalm 84:1-3.

“Julle hemelse Vader [voed] hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie?”—Matteus 6:26

Van die pragtigste woorde oor voëls is deur Jesus Christus geuiter. Kyk na hierdie woorde in Matteus 6:26: “Hou die voëls van die hemel noukeurig dop, want hulle saai nie saad nie en hulle oes nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie; nogtans voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie?” Hierdie treffende illustrasie verseker Jesus se volgelinge dat hulle vir God kosbaar is en hulle nooit oor lewensbenodigdhede hoef te kwel nie.—Matteus 6:31-33.

Voëlkykery is vandag ’n gewilde stokperdjie—en dit is te verstane, want voëls se manewales, prag, hofmakery en sang verstom ons. Wat meer is, hulle kan iemand wat hulle met insig dophou, ook waardevolle lesse oor die lewe leer. Sal jy ‘die voëls noukeurig dophou’?

^ par. 6 Die volstruis is die grootste lewende voël en hardloop ook die vinnigste, aangesien hy oor kort afstande teen ’n snelheid van tot 72 kilometer per uur kan hardloop.