Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP | TRAGIESE GEBEURTENISSE—HOE JY DIT KAN VERWERK

Verlies van gesondheid

Verlies van gesondheid

Mabel, in Argentinië, het ’n aktiewe lewe gelei en was ’n fisioterapeut. In 2007 het sy ontsettend moeg begin voel en elke dag hewige hoofpyne gekry. “Ek het na ’n hele paar dokters toe gegaan en verskillende soorte geneesmiddels gebruik”, sê sy, “maar niks het gehelp nie.” Uiteindelik het Mabel ’n MRB-skandering gehad, wat getoon het dat sy ’n breingewas het. Sy sê: “Ek was verbysterd! Ek kon nie glo dat ek met hierdie vyand binne my leef nie.

“Maar eers nadat ek geopereer is, het ek besef hoe ernstig my situasie is. Toe ek in die intensiewesorgeenheid wakker word, kon ek nie beweeg nie. Ek kon net na die plafon lê en staar. Voor die operasie was ek aktief en onafhanklik. Skielik kon ek niks doen nie. Terwyl ek in die intensiewesorgeenheid was, was ek verward, en die geraas van mediese toerusting, noodalarms en die gekreun van ander pasiënte het heeltyd in my ore weerklink. Dit was asof daar pyn en lyding oral om my was.

“Ek het nou al tot ’n mate herstel. Ek kan sonder hulp loop en soms selfs alleen uitgaan. Maar ek het dubbelvisie en swak spierkoördinasie.”

HOE OM DIE TRAGEDIE TE VERWERK

Behou ’n positiewe beskouing. Die Bybel sê in Spreuke 17:22: “’n Vreugdevolle hart is ’n goeie geneesmiddel, maar ’n verslae gees droog die gebeente uit.” Mabel vertel: “Terwyl ek herstel het, het ek voor dieselfde uitdagings as my pasiënte te staan gekom. Die oefeninge was baie pynlik, en soms wou ek moed opgee. Maar ek het my gedwing om hierdie negatiewe gedagtes op die agtergrond te skuif omdat ek besef het dat die inspanning uiteindelik goeie resultate sal meebring.”

Versterk jou hoop sodat jy kan volhard. “Omdat ek die Bybel bestudeer, weet ek waarom tragedies plaasvind”, sê Mabel. “Maar ek weet ook dat die tyd wanneer pyn vir ewig weg sal wees, elke dag nader kom.” *

Onthou dat God vir jou persoonlik omgee (1 Petrus 5:7). Mabel vertel hoe dit haar gehelp het: “Toe hulle my in die operasiesaal instoot, het ek ondervind hoe waar God se woorde in Jesaja 41:10 is: ‘Moenie bang wees nie, want ek is met jou.’ Groot vrede het oor my gekom omdat ek geweet het dat Jehovah God vir my omgee.”

Het jy geweet? Die Bybel leer dat ’n tyd sal aanbreek wanneer die mensdom nie meer deur gesondheidsprobleme geteister sal word nie.—Jesaja 33:24; 35:5, 6.