Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ONDERHOUD | DAVEY LOOS

’n Biochemikus verduidelik waarom hy aan God glo

’n Biochemikus verduidelik waarom hy aan God glo

Dr. Davey Loos is ’n biochemikus in België. Hy het vroeër aan die bestaan van ’n Skepper getwyfel en eerder aan evolusie geglo. Later het hy van gedagte verander. Wat het ’n navorser laat besluit om sy opvattings oor die oorsprong van lewe te heroorweeg? Ontwaak! het met dr. Loos gesels oor sy wetenskap en sy geloof.

Hoe het jy by wetenskaplike navorsing betrokke geraak?

Toe ek universiteit toe is, het ek besluit om chemie te studeer. Ek is veral gefassineer deur proteïene en nukleïensure, wat verreweg die kompleksste molekules op ons planeet is. Later het ek baie begin belangstel in die wyse waarop sekere molekules op sonlig reageer.

Het jy aan God geglo?

Ek het toe ek ’n seuntjie was. Maar later, terwyl ek aan die Katolieke Universiteit van Leuven gestudeer het, het ek geleer dat lewende dinge deur middel van natuurlike prosesse ontstaan het. Die professors het party van hierdie prosesse redelik ingewikkeld laat klink. Hulle was ervare wetenskaplikes, en daarom het ek geglo wat hulle sê. Dit was uiteindelik vir my moeilik om te aanvaar dat God bestaan.

Wat het jou weer oor die oorsprong van lewe laat wonder?

In 1999 het ek ’n ou skoolvriend raakgeloop wat een van Jehovah se Getuies geword het, en ek het een van hulle vergaderinge bygewoon. Om en by dieselfde tyd het een van Jehovah se Getuies ons huis besoek en die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? * by ons gelaat.

Wat het jy van die boek gedink?

Die gehalte van die navorsing daarin het my beïndruk. Ek het begin wonder of evolusie werklik verklaar waar die ontwerpe wat  ons in die natuur sien, vandaan kom.

Watter ontwerpe in die natuur het jou beïndruk?

My werk as ’n biochemikus het behels dat ek navorsing doen oor die ontwerp van sekere molekules wat in seelewende siaanbakterieë voorkom. Hierdie mikro-organismes is nie van ander lewende dinge afhanklik vir voedsel nie. Party navorsers dink dat hierdie organismes die eerste lewende dinge op ons planeet was. Die mikro-organismes gebruik sonligenergie in ’n uiters ingewikkelde chemiese proses, wat nog nie ten volle verstaan word nie, om water en koolstofdioksied in voedsel om te sit. Ek was ook verstom oor siaanbakterieë se vermoë om lig met verbasende doeltreffendheid op te neem.

Blare gebruik ook sonlig om voedsel te vervaardig. Wat is dan so merkwaardig omtrent hierdie bakterieë?

Hoe dieper jy in die see afgaan, hoe minder lig is daar. Die siaanbakterieë wat daar lewe, moet dus elke titseltjie ligenergie opvang wat hulle bereik, en hulle doen dit deur middel van hoogs ontwikkelde antennas. Die versamelde energie word op uiters doeltreffende wyse oorgedra na sentrums wat voedsel vervaardig. Die ontwerp van hierdie ligversamelende stelsel het selfs die belangstelling van sonpaneelvervaardigers gewek. Mensgemaakte sonselle is natuurlik nie naastenby so doeltreffend soos die stelsels in bakterieë nie.

Tot watter slotsom het dit jou laat kom?

Ek het gedink aan hoe ingenieurs die merkwaardige stelsels in lewende dinge probeer namaak, en ek het tot die slotsom gekom dat lewe beslis deur God ontwerp is

Ek het gedink aan hoe ingenieurs die merkwaardige stelsels in lewende dinge probeer namaak, en ek het tot die slotsom gekom dat lewe beslis deur God ontwerp is. Maar my geloof was nie net gegrond op wat ek in die wetenskap bestudeer het nie. Dit was ook op ’n noukeurige studie van die Bybel gegrond.

Wat het jou oortuig dat die Bybel van God kom?

Een van die talle dinge wat my oortuig het, is die feit dat Bybelprofesieë tot in die fynste besonderheid vervul word. Jesaja het byvoorbeeld eeue vooruit baie besonderhede voorsien oor hoe Jesus sou sterf en begrawe sou word. Ons weet dat hierdie profesie voor Jesus se dood opgeteken is, want die Jesaja-rol, wat in Qumran gevind is, is ongeveer honderd jaar voor Jesus se geboorte oorgeskryf.

Hierdie profesie sê: “Hy sal sy graf by die goddeloses maak, en by die ryk klas in sy dood” (Jesaja 53:9, 12). Dit is merkwaardig dat Jesus saam met misdadigers tereggestel is, maar in die graf van ’n ryk familie begrawe is. Dit is maar net een voorbeeld van die talle vervulde profesieë wat my oortuig het dat die Bybel deur God geïnspireer is (2 Timoteus 3:16). Ek het later een van Jehovah se Getuies geword.

Waarom is jy bly dat jy een van Jehovah se Getuies is?

Ons geloof is nie blinde geloof wat wetenskaplike feite verontagsaam nie

Ons geloof is nie blinde geloof wat wetenskaplike feite verontagsaam nie. Ook word ons deur beginsels gerig wat stewig op die Bybel gegrond is. As een van Jehovah se Getuies geniet ek dit om ander van die Bybel se vertroostende boodskap te vertel en hulle te help om antwoorde op hulle vrae te vind.

^ par. 9 Uitgegee deur Jehovah se Getuies.