Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat jy moet weet omtrent epilepsie

Wat jy moet weet omtrent epilepsie

’N KENNIS val bewusteloos op die grond neer. Sy liggaam trek styf, en sy kop en ledemate begin ruk. As jy weet dat die persoon ’n epilepsielyer is, kan jy die nodige bystand verleen terwyl jy op hulp wag. Kom ons ondersoek ’n paar feite oor hierdie versteuring wat dikwels misverstaan word.

Wat is epilepsie? Epilepsie is ’n breinversteuring wat kort aanvalle veroorsaak. ’n Aanval duur gewoonlik minder as vyf minute. Die situasie wat aan die begin van hierdie artikel beskryf word, is kenmerkend van wat ’n grand mal-aanval genoem word.

Wat veroorsaak epileptiese aanvalle? Navorsers meen dat aanvalle plaasvind wanneer daar skielik ’n buitengewone toename in die elektrisiteit tussen breinselle is. Daar is nog nie duidelikheid oor waarom dit gebeur nie.

Wat moet ek doen as ek sien dat ’n epilepsielyer ’n grand mal-aanval kry? “Omstanders moet die aanval sy loop laat neem en die pasiënt laat lê net waar hy is nadat hulle seker gemaak het dat hy in geen fisiese gevaar is nie en dat hy kan asemhaal”, sê The Encyclopedia of the Brain and Brain Disorders. Maar die boek sê ook: “’n Ambulans moet ontbied word as die aanval langer as vyf minute duur, as nog ’n aanval onmiddellik op die eerste een volg of as die persoon nie binne ’n paar minute ná die aanval sy bewussyn herwin nie.”

Hoe kan ek die pasiënt tydens ’n aanval help? Plaas ’n sagte voorwerp tussen sy kop en die vloer, en sorg dat daar geen skerp voorwerpe naby sy kop is nie. Wanneer die stuiptrekkings ophou, moet jy die pasiënt op sy sy draai soos die bygaande tekeninge toon.

Wat moet ek doen nadat die pasiënt wakker geword het? Verseker hom eers dat alles in orde is. Help hom dan om op te staan en by ’n plek te kom waar hy die nodige rus kan kry. Die meeste mense is ná ’n aanval verward en lomerig; ander herstel gou en kan voortgaan met wat hulle voor die aanval gedoen het.

Gaan alle epileptiese aanvalle met stuiptrekkings gepaard? Nee. Party pasiënte verloor net vir ’n oomblik hulle bewussyn sonder om eens op die grond neer te val. Dit word ’n petit mal-aanval (of afwesigheidsaanval) genoem, wat gewoonlik kort is en geen blywende gevolge het nie. Party epilepsielyers kry langdurige petit mal-aanvalle, wat ’n hele paar minute aanhou. In so ’n  geval sal die pasiënt miskien in die vertrek ronddwaal, aan sy klere pluk of andersins vreemd optree. Ná die aanval sal hy dalk lighoofdig voel.

Hoe voel dit om ’n epilepsielyer te wees? Dit is te verstane dat baie epilepsielyers ’n knaende vrees het omdat hulle nie weet wanneer en waar hulle weer ’n aanval sal kry nie. Omdat hulle nie in die verleentheid wil kom nie, vermy hulle dit miskien om in die openbaar tussen mense te wees.

Hoe kan ek iemand met epilepsie ondersteun? Spoor hom aan om nie sy gevoelens op te krop nie. Wees ’n goeie luisteraar. Vra hom wat hy wil hê jy moet doen as hy ’n aanval kry. Aangesien baie epilepsielyers nie motor bestuur nie, kan jy aanbied dat hy saam met jou ry of kan jy ander dinge vir hom gaan doen.

Kan epileptiese aanvalle verminder word—of selfs voorkom word? Sekere faktore vergroot die waarskynlikheid van ’n aanval, soos spanning en te min slaap. Deskundiges spoor epilepsielyers dus aan om genoeg rus te kry en om gereeld oefening te doen, wat spanning sal verminder. In party gevalle help medikasie ook om aanvalle te voorkom.