Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP: IS ONS TE KOOPLUSTIG?

Waarom koop ons?

Waarom koop ons?

In ’n wêreldwye meningspeiling wat in 2012 vrygestel is, het die helfte van diegene wat ondervra is, erken dat hulle dinge koop wat hulle glad nie nodig het nie. Twee-derdes is bekommerd dat verbruikers te kooplustig is. Sulke bekommernisse is moontlik geldig. Baie verbruikers is in die wurggreep van skuld vasgevang. Navorsers sê dat dit nie tot groter tevredenheid lei as ’n mens baie koop nie, maar dat dit eerder meer spanning en ongelukkigheid tot gevolg kan hê! Waarom koop ons dan soveel?

AS VERBRUIKERS word ons voortdurend aan bemarking blootgestel. Wat is die doel van bemarkers? Om mense te laat dink dat hulle die dinge wat hulle wil hê, nodig het. Bemarkers weet dat verbruikers se gedrag hoofsaaklik deur emosie bepaal word. Die doel van advertensies en die koopondervinding self is dus om groot opwinding by verbruikers aan te wakker.

Die boek Why People Buy Things They Don’t Need sê: “Wanneer ’n verbruiker beplan om iets te koop, stel hy hom dikwels voor hoe wonderlik dit sal wees om na die artikel te soek, dit te vind en dit syne te maak.” Party deskundiges vermoed dat kopers so opgewonde kan raak terwyl hulle koop dat hulle adrenalien pomp. Die bemarkingsdeskundige Jim Pooler verduidelik: “As die verkoper hierdie gemoedstemming kan aanvoel, kan hy voordeel daaruit trek en munt slaan uit die klant se opgewondenheid en verswakte weerstand.”

Hoe kan jy voorkom dat jy ’n slagoffer van slinkse bemarkers word? Sit emosie opsy, en vergelyk bemarkingsbeloftes met die werklikheid.

 DIE BELOFTE: “Verbeter jou lewensgehalte”

Dit is natuurlik om ’n beter lewe te wil hê. Adverteerders bestook ons met boodskappe dat al ons begeertes—beter gesondheid, veiligheid, stresverligting en hegter verhoudings—bevredig kan word as ons die regte goed koop.

DIE WERKLIKHEID:

Namate ons besittings toeneem, kan ons lewensgehalte in werklikheid afneem. Hoe meer materiële dinge ons het, hoe meer tyd en geld is nodig om daarna om te sien. Druk weens skuld veroorsaak meer spanning, en daar is minder tyd vir familie en vriende.

Namate ons besittings toeneem, kan ons lewensgehalte in werklikheid afneem

Beginsel: “Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie.”Lukas 12:15.

DIE BELOFTE: “Verkry aansien”

Min mense sal erken dat hulle iets koop om ander te beïndruk. Maar Jim Pooler sê: “Wanneer mense inkopies doen, word hulle gedrag in groot mate gerig deur die feit dat hulle met vriende, bure, medewerkers en familielede meeding.” In advertensies sien ’n mens dus dikwels dat produkte deur suksesvolle, ryk mense gebruik word. Die boodskap wat sulke advertensies aan verbruikers oordra, is: “Dit kan jy wees!”

DIE WERKLIKHEID:

As ons ons eiewaarde bepaal deur ons met ander te vergelyk, veroorsaak dit ’n eindelose kringloop van ontevredenheid. Sodra die een doelwit bereik word, word daar onmiddellik na iets beters gestreef.

Beginsel: “Iemand wat silwer liefhet, sal nie genoeg kry van silwer nie.”Prediker 5:10.

DIE BELOFTE: “Wys wie jy is”

Die boek Shiny Objects verduidelik: “Ons wys dikwels vir ander wie ons is (of graag wil wees) deur die materiële besittings wat ons gebruik en vertoon.” Bemarkers weet dit en probeer handelsmerke—veral luukse handelsmerke—met spesifieke lewenstyle en waardes verbind.

Hoe beskou jy jouself, en hoe wil jy hê moet ander jou beskou? As stylvol? As atleties? Watter beeld jy ook al wil hê, bemarkers belowe dat jy bloot die regte handelsmerk moet koop om die gewenste beeld uit te straal.

DIE WERKLIKHEID:

Niks wat ons koop, kan verander wie ons werklik is of kan ons bewonderenswaardige eienskappe, soos eerlikheid en onkreukbaarheid, gee nie.

Beginsel: “Laat julle versiering nie dié wees . . . van die omhang van goue sierade of die dra van boklere nie, maar laat dit die geheime persoon van die hart [wees].”—1 Petrus 3:3, 4.