Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sleutel 5—Motiveer jouself en jou gesin

Sleutel 5—Motiveer jouself en jou gesin

“Elke skerpsinnige sal met kennis optree” (Spreuke 13:16). As jy basiese inligting oor gesondheid opdoen, kan dit jou in staat stel en jou motiveer om die nodige veranderinge te maak om jou en jou gesin se gesondheid te verbeter.

Hou aan leer. In baie lande voorsien openbare en private instellings opvoedkundige programme en lektuur oor ’n groot verskeidenheid gesondheidsonderwerpe. Maak gebruik daarvan en vind uit op watter basiese maniere jy jou gesondheid kan verbeter en kan voorkom dat jy dit in gevaar stel. Behou ’n oop gemoed en wees bereid om eenvoudige veranderinge te maak.

Die goeie gewoontes wat jy aanleer en beoefen, sal jou kinders en húlle kinders heel moontlik tot voordeel strek. As ouers ’n goeie voorbeeld stel wanneer dit kom by gesonde eetgewoontes, fisiese reinheid, slaapgewoontes, oefening en die voorkoming van siektes, sal hulle kinders heel waarskynlik daarby baat vind.—Spreuke 22:6.

Wat is nog nodig? Besorgdheid oor jouself is nie genoeg om ’n gesonde lewenswyse te begin volg en daarmee vol te hou nie. Dit kan moeilik wees om ontslae te raak van diepgewortelde slegte gewoontes, en dit verg dikwels kragtige motivering om selfs klein veranderinge te maak. Selfs die gevaar van ernstige siekte en die dood sal party mense nie noodwendig beweeg om te doen wat hulle weet goed is vir hulle nie. Wat sal? Hulle moet, soos ons almal, in gedagte hou dat daar ’n meer verhewe doel in die lewe is.

Huweliksmaats moet gesond en sterk bly sodat hulle kan aanhou om mekaar te help. Ouers wil graag aanhou om hulle kinders te ondersteun en op te lei. Volwasse kinders moet na bejaarde familielede omsien. En dan is daar die edele begeerte om eerder ’n aanwins as ’n las vir die gemeenskap te wees. Dit alles behels liefde en besorgdheid oor ander.

’n Selfs kragtiger motivering spruit voort uit dankbaarheid teenoor ons Skepper en toegewydheid aan hom. Diegene wat aan God glo, wil graag sy kosbare gawe van die lewe bewaar (Psalm 36:9). As ons gesond is, kan ons God in groter mate dien. Daar is nie ’n meer verhewe rede of kragtiger motivering om na ’n mens se gesondheid om te sien nie.

Geniet die voordele van ’n gesonde lewenstyl