Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sleutel 1—Eet gesond

Sleutel 1—Eet gesond

“Eet kos. Nie te veel nie. Meestal plante.” Dit is hoe die skrywer Michael Pollan eenvoudige, beproefde raad oor dieet opsom. Wat bedoel hy?

Eet vars kos. Maak seker dat jy “regte” kos eet—onverwerkte, vars kos wat mense al eeue lank geniet—eerder as moderne, verwerkte kos. Kommersieel verpakte geregte en kitskos van kettingrestaurante bevat gewoonlik baie suiker, sout en vet, wat verbind word met hartsiekte, beroerte, kanker en ander ernstige siektes. Probeer om kos eerder te stoom, te bak of te rooster as om dit in olie te braai. Probeer meer kruie en speserye gebruik sodat jy minder sout hoef te gebruik. Maak seker dat vleis behoorlik gaar is, en moet nooit bedorwe kos eet nie.

Moenie te veel eet nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie berig dat daar regoor die wêreld ’n gevaarlike toename is in oorgewig en vetsugtige mense, dikwels as gevolg van ooretery. Volgens een studie is daar in dele van Afrika “meer kinders wat oorgewig is as wat ondervoed is”. Vetsugtige kinders loop die gevaar om nou sowel as in die toekoms gesondheidsprobleme te ondervind, insluitende suikersiekte. Ouers, stel ’n goeie voorbeeld vir julle kinders deur self nie te veel te eet nie.

Eet meestal plante. ’n Gebalanseerde bord kos bestaan uit meer vrugte, groente en volgraankosse as vleis en stysel. Probeer om een of twee keer per week vis in plaas van vleis te eet. Eet minder geraffineerde kosse soos pasta, witbrood en witrys, wat baie van hulle voedingswaarde verloor het. Vermy egter gewilde maar potensieel gevaarlike diëte. Ouers, beskerm julle kinders se gesondheid deur hulle te help om ’n smaak te ontwikkel vir gesonde kosse. Byvoorbeeld, laat hulle eerder peusel aan neute en vars vrugte en groente, wat deeglik gewas is, as aan aartappelskyfies of lekkers.

Drink genoeg vloeistowwe. Volwassenes en kinders moet elke dag genoeg water en ander onversoete vloeistowwe drink. Drink meer daarvan wanneer dit warm is en wanneer jy fisies hard werk en oefen. Sulke vloeistowwe bevorder spysvertering, reinig die liggaam van gifstowwe, is goed vir die vel en bevorder gewigsverlies. Dit help jou om goed te voel en te lyk. Moenie te veel alkohol en versoete koeldrank drink nie. Een gaskoeldrank per dag kan jou byna sewe kilogram in ’n jaar laat aansit.

In party lande verg dit dalk harde werk en is dit duur om skoon water te kry. Maar dit is noodsaaklik om water te drink. Besoedelde water moet gekook of met chemikalieë behandel word. Vuil water veroorsaak glo meer sterftes as oorloë of aardbewings; dit veroorsaak na bewering die dood van meer as 4 000 kinders per dag. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan dat babas die eerste ses maande slegs borsvoeding ontvang, en daarna borsvoeding tesame met ander kos totdat hulle ten minste twee jaar oud is.