Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Unieke boek

’n Unieke boek

“Die Bybel is die boek met die grootste verspreiding in die geskiedenis.”—The World Book Encyclopedia.

MEER as 550 jaar gelede het die Duitse uitvinder Johannes Gutenberg met los drukletters begin druk. Die eerste noemenswaardige boek wat hy gedruk het, was ’n Bybel. * Sedertdien is miljarde der miljarde boeke oor elke denkbare onderwerp gedruk. Maar die Bybel is verreweg die uitsonderlikste van hulle almal.

  • Volgens skatting is meer as 4,7 miljard eksemplare van die Bybel (in sy geheel of gedeeltelik) al gedruk. Dit is meer as vyf keer soveel as die aantal eksemplare van die publikasie met die tweede grootste verspreiding, Quotations From Chairman Mao.

  • Meer as 50 miljoen eksemplare van die Bybel of dele daarvan is in ’n onlangse jaar alleen versprei. “Die Bybel is elke jaar die topverkoper van die jaar”, sê ’n verslag in die tydskrif The New Yorker.

  • Die Bybel is in sy geheel of gedeeltelik al in meer as 2 400 tale vertaal. Ten minste dele van die Bybel is beskikbaar in tale wat deur meer as 90 persent van die mensdom gepraat word.

  • Ongeveer die helfte van die Bybelskrywers het hulle geskrifte voltooi voor die geboorte van Confucius, die beroemde Chinese wysgeer, sowel as Siddharta Gautama, die stigter van Boeddhisme.

  • Die Bybel het ’n verreikende invloed op die kunste gehad, onder meer op party van die wêreld se beroemdste skilderye, musiek en literatuur.

  • Die Bybel het voortbestaan ondanks die feit dat dit deur regerings verbied, deur godsdiensteenstanders verbrand en deur kritici aangeval is. Geen ander boek in die geskiedenis het groter teenstand verduur en nogtans behoue gebly nie.

Die bogenoemde feite is uitsonderlik, nie waar nie? Indrukwekkende besonderhede en statistiek alleen bewys natuurlik nie dat die Bybel betroubaar is nie. Ons sal nou vyf redes ondersoek waarom miljoene mense oortuig is dat die Bybel betroubaar is.

^ par. 3 Gutenberg se Bybel, wat ook die 42-reël-Bybel genoem word, was ’n Latynse vertaling en is in 1455 voltooi.