Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

 Ons beskou die wêreld

Misdaad se snelgroeiendste bedryf

Mensehandel “is die snelgroeiendste misdaadmark in die wêreld”, sê Pino Arlacchi, direkteur-generaal van die Verenigde Nasies se Buro vir Dwelmbeheer en Misdaadvoorkoming. Volgens mnr. Arlacchi is daar na raming ongeveer 200 miljoen mense wat deur handelaars beheer word. Hoewel 11,5 miljoen mense gedurende 400 jaar van slawerny in Afrika uitgevoer is, is meer as 30 miljoen vroue en kinders in net die afgelope dekade binne en van Suidoos-Asië verhandel. Die meeste is in werksplekke wat hongerlone betaal of word vir seksuele doeleindes gebruik. Mnr. Arlacchi stel voor dat regerings wat nie meer antislawernywette het nie, dit weer moet instel.

Marteling en wreedheid in Europa

“Sterfgevalle gedurende gewelddadige deportasies, marteling in aanhouding, mishandeling deur die polisie en etniese en godsdienstige onderdrukking” is onder die menseregteskendings wat in Europa opgemerk word, berig Amnestie Internasionaal in ’n persverklaring. “Hoewel baie mense in Europa basiese menseregte geniet, ervaar party mense, insluitende asielsoekers en etniese en godsdiensminderhede, steeds ’n kant van Europa wat in stryd is met sy beeld as ’n vesting vir menseregte en vryheid”, sê die verklaring. “Dit word veral bewys deur die algemene en gereelde aantygings van polisiewreedhede. Van die Verenigde Koninkryk tot Aserbaidjan is mense . . . wreed, onmenslik of vernederend deur die polisie behandel.” Die organisasie beweer dat diegene wat daarvoor verantwoordelik is dikwels nie gestraf word nie. Dit gee die volgende voorbeeld: “In Julie [1999] het die Europese Hof van Menseregte Frankryk skuldig bevind aan die skending van internasionale standaarde oor marteling en regverdige verhore” in die geval van ’n immigrant in polisieaanhouding. “Teen die einde van die jaar was die aangeklaagde polisiemanne nog steeds in hulle poste”, voeg die verklaring by.

Bejaardes verdien respek

’n Studie wat oor ses maande gedoen is, het getoon dat babataal dikwels in ouetehuise gebruik word. Maar wanneer daar so met bejaardes gepraat word, beroof dit hulle nie net van hulle waardigheid nie, maar dit is ook sleg vir hulle welsyn, berig die Duitse gesondheidsnuusbrief Apotheken Umschau. Sulke gebrek aan respek het na bewering ’n negatiewe uitwerking op gesondheid. Christine Sowinski van die Duitse Vereniging vir die Sorg van Bejaardes sê: “Hoe minder bejaardes gerespekteer word, hoe vinniger gaan hulle fisies en verstandelik agteruit.” Sy beveel aan dat vernederende woorde en kindertaal glad nie in verpleeginrigtings gebruik moet word nie, “aangesien die onderliggende gesindheid na aanleiding van die taalgebruik sal verander”.

Godsdienstige mense leef langer?

“Gereelde betrokkenheid by godsdiensbedrywighede gaan hand aan hand met beter fisiese gesondheid en ’n langer lewe, volgens ’n statistiese ontleding van 42 onafhanklike studies wat sedert 1977 gepubliseer is en hierdie kwessie bespreek het”, sê Science News. “Godsdiensbetrokkenheid, veral in die openbaar, toon volgens statistiek ’n opvallende ooreenkoms met hoër oorlewingsyfers, sê die wetenskaplikes.” Verskeie redes is vir die bevindings aangegee—die vermyding van gewaagde gedrag, huwelikstabiliteit, ’n afname in depressie wat verband hou met sake buite ’n mens se direkte beheer, sterker sosiale bande en positiewe emosies en gesindhede. Een verslag kom tot die slotsom: “Daar word nou gevind dat gereelde kerkbywoning . . . met langlewendheid gepaardgaan, veral onder vroue. Gereelde kerkgangers . . . het gesê dat hulle groter sosiale ondersteuning geniet, minder depressie ondervind en beter gesondheidsgewoontes het.”

Indië se bevolking steek die miljardkerf verby

Op 11 Mei 2000 het Indië se bevolking glo eenmiljard bereik. Die Associated Press het egter verduidelik: “In ’n land waar 42 000 kinders elke dag gebore word en waar mediese verslae onvoldoende is, is dit nogal moeilik om te besluit wanneer Indië die miljardkerf bereik.” As gevolg van die bevolkingsaanwas neem honger en ongeletterdheid toe ten spyte van groot vooruitgang in voedselproduksie en opvoeding. Hoewel  miljoene in armoede leef, word ’n nuwe kind as ’n potensiële broodwinner beskou, een wat kan werk en wat die gesin kan help om in hulle behoeftes te voorsien.

Gedwarsboom deur die diere wat hy wou red

“’n Kaliforniese seevaarder wat ’n alleenvaart oor die Stille Oseaan aangepak het om die walvis te red, het die poging laat vaar . . . ná ’n voorval met twee walvisse”, berig The New York Times. Die seevaarder, Michael Reppy, het van San Francisco na Jokohama, Japan, vertrek. Hy het ’n rekordtyd met sy 18 meter lange renjag, Thursday’s Child, probeer opstel “om die benarde situasie van gevange walvisse bekend te maak”. Maar op die eerste dag van sy vaart het twee walvisse “vinnig verbygeswem”, en dit het moeilik geraak om die boot te beheer. “Hy het ontdek dat die onderste deel van die roer weg was, wat vermoedelik deur een van die verbygaande walvisse afgebreek is”, sê die Times. ’n Vorige probeerslag in 1997 “om die aandag op seediere se benarde situasie te vestig”, het geëindig toe sy boot ongeveer 500 kilometer van Tokio af omgeslaan het.

DDT leef voort om malaria te bestry

“DDT, ’n plaagdoder wat al byna 30 jaar in Europa en die VSA verbied is, sal waarskynlik nie wêreldwyd verbied word nie omdat dit die muskiete wat verantwoordelik is vir een van die wêreld se grootste doders—malaria—so doeltreffend uitroei”, sê die tydskrif BBC Wildlife. “Hoewel daar bewys is dat die uiters giftige samestelling van DDT ’n skadelike uitwerking op die natuurlewe het, sê voorstanders van gesondheid dat dit nog steeds een van die belangrikste wapens teen malaria is, ’n siekte wat jaarliks 2,7 miljoen mense se lewens eis en tot 500 miljoen chronies siek maak.” Hoewel die Wêreldgesondheidsorganisasie ’n verbod op DDT vir landboukundige doeleindes ondersteun, voer hulle aan dat dit gebruik moet word om malaria onder beheer te hou totdat ’n veilige en doeltreffende alternatief ontwikkel kan word.

Die seeskilpaaie is terug!

Bewaringsgesindes was hierdie jaar bly toe hulle sien dat die grootste aantal Ridley-seeskilpaaie sedert die middeltagtigerjare van die twintigste eeu aan die ooskus van Indië nesmaak. Volgens die omgewingstydskrif Down to Earth was dit verbasend, aangesien die kuslyn van die staat Orissa in 1999 deur ’n sikloon beskadig is. Hierdie kuslyn is die wêreld se grootste broeiplek vir dié bedreigde diere. Tussen 13 en 20 Maart het meer as 1 230 000 seeskilpaaie uit die see gekom, en 711 000 van hulle het eiers gelê, hoewel 28 000 seeskilpaaie deur vissersbote naby die kus doodgemaak is. Die seeskilpaaie word uit verskillende oorde bedreig—wilde varke en honde wat die eiers eet, wilddiewe wat seeskilpadvleis aan diegene voorsien wat dit as ’n lekkerny beskou en vissersbote sonder toestelle wat verhoed dat seeskilpaaie in nette verstrengel raak.

Tjernobil se radioaktiewe neerslag

Die Tjernobil-kernramp van 1986 “sal 50 000 nuwe gevalle van skildklierkanker onder jongmense veroorsaak wat in die gebied woon wat die ergste getref is”, sê The Guardian van Londen. Volgens ’n verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie is al meer as sewemiljoen mense tot dusver aangetas, en die presiese getal sal dalk nooit bekend word nie. Driemiljoen kinders het behandeling nodig, en baie sal vroegtydig sterf. In die Oekraïne is 73 000 mense glo sorgbehoewend. Ongeveer 23 persent van dié wat by die opruimingswerk betrokke was, is nou invalides, en ’n vyfde van die Belaroeswoude is nog steeds besoedel. In ’n voorwoord van die verslag het die VN se sekretaris-generaal Kofi Annan gesê: “Tjernobil is ’n woord wat ons almal graag sou wou vergeet”, maar “meer as 7 m[iljoen] van ons medemense kan dit nie sommer net vergeet nie. Hulle ly nog steeds elke dag as gevolg van wat gebeur het.”

Virtuele kerk

Die Katolieke aartsbisdom van Winnipeg, Manitoba, Kanada, beplan om “’n rekenaarnetwerk in werking te stel om die gelowige die geleentheid te bied om oor die Internet te peins, sy sondes te bely en om pastorale raad te vra”, berig die Calgary Herald. Richard Osicki, direkteur van kommunikasie vir die aartsbisdom, hoop dat die netwerk baie verklaarde Christene, waarvan ongeveer 75 persent nooit kerk toe gaan nie, sal beweeg om godsdiensbedrywighede te hervat. “Ons maak die kerk buite die fisiese geboue oop. Dit beteken dat jy met God kan kommunikeer terwyl jy voor jou rekenaar sit”, het hy gesê.