Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ek dit verwerk noudat my pa ons verlaat het?

Hoe kan ek dit verwerk noudat my pa ons verlaat het?

 Jongmense vra . . .

Hoe kan ek dit verwerk noudat my pa ons verlaat het?

“Dit was moeilik om sonder my pa groot te word. Ek sou net ’n bietjie aandag wou gehad het.”—Henry. *

JOAN was 13 jaar oud toe haar pa die huis verlaat het. Weens sy verslaafdheid aan alkohol het hy nie eintlik probeer om met sy kinders in aanraking te bly nadat hy weggegaan het nie. Joan se geval is ongelukkig nie uniek nie; baie jongmense is al deur hulle vaders verlaat.

As dit met jou gebeur het, vind jy dit dalk baie moeilik om dit te verwerk. Gevoelens van pyn en woede kan jou van tyd tot tyd oorweldig. Jy voel dalk soms hartseer en terneergedruk. Jy kom miskien selfs in die versoeking om opstandig te wees. Soos die Bybelskrywer Salomo eenkeer gesê het: “Onderdrukking kan ’n wyse waansinnig laat optree.”—Prediker 7:7NW.

‘Waansinnige optrede’

James ‘het waansinnig opgetree’ nadat sy pa die huis verlaat het. James het gesê: “Ek het na geen gesag geluister nie, nie eers na my ma nie. Ek het alewig met ander baklei. Ek het altyd leuens vertel en snags uit die huis gesluip, want daar was niemand om my te dissiplineer nie. My ma het my probeer keer, maar sy kon nie.” Het James se opstandigheid werklik sy lot in die lewe verbeter? Nie eintlik nie. James sê hy het kort voor lank “met dwelms begin eksperimenteer, stokkiesgedraai en op skool gedruip”. Hierdie slegte gedrag het gou vererger. “Ek het by winkels gesteel”, erken hy, “en ek het ook mense beroof. Ek is twee keer gearresteer en vir ’n rukkie in die tronk gesit, maar dit het my nie laat ophou nie.”

Toe hy gevra is wat hom so opstandig gemaak het, het James gesê: “Omdat my pa nie daar was nie, is ek nie gedissiplineer nie. Ek het regtig nie gedink hoe seer ek my ma, my klein boetie en sussie en ook myself gemaak het nie. Ek wou die aandag en dissipline van my pa hê.”

Maar om opstandig te wees, vererger net ’n slegte situasie (Job 36:18, 21, NW). James het byvoorbeeld nie net probleme vir homself veroorsaak nie, maar ook vir sy ma en broer en suster wat onnodige spanning moes verduur. Wat selfs ernstiger is, is dat opstandige gedrag ’n mens by God in onguns kan laat raak. Jehovah beveel jongmense immers om hulle moeder te gehoorsaam.—Spreuke 1:8; 30:17.

 Verwerk kwade gevoelens

Hoe kan jy dan die kwade gevoelens en gegriefdheid verwerk wat jy moontlik teen jou pa koester? Vir eers moet jy onthou dat dit nie jou skuld is dat jou pa julle verlaat het nie. Dit beteken ook nie noodwendig dat hy jou nie meer liefhet of nie vir jou omgee nie. Dit kan weliswaar baie pynlik wees as jou pa min moeite doen om jou te bel of te besoek. Maar soos die vorige artikel in hierdie reeks getoon het, * verloor baie afwesige vaders kontak met hulle kinders, nie omdat hulle hulle kinders nie liefhet nie, maar omdat hulle verskriklik skuldig en skaam voel. Ander, soos Joan se pa, is aan dwelms of alkohol verslaaf, en dit het ’n negatiewe uitwerking op hulle gedrag.

Wat die situasie ook al is, probeer onthou dat jou ouers onvolmaak is. Die Bybel sê: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23; 5:12). Dit is weliswaar nie ’n verskoning vir skadelike of onverantwoordelike gedrag nie. Maar as jy besef dat ons almal onvolmaak gebore is, kan dit vir jou makliker wees om van vernietigende woede en gegriefdheid ontslae te raak.

Wat in Prediker 7:10 gesê word, kan jou help om die kwade gevoelens en die gegriefdheid te verwerk wat jy waarskynlik teen jou ouers koester. Let op hoe dit daarteen waarsku om oor die verlede te bly dink: “Moenie sê nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? want nie uit wysheid vra jy hierna nie.” Pleks van te tob oor hoe dinge eers was, is dit beter om jou situasie ten beste te probeer benut.

Neem die inisiatief

Jy kan byvoorbeeld gerus die inisiatief neem om met jou pa in aanraking te kom. Hy is weliswaar die een wat julle verlaat het, en jy voel moontlik tereg dat dit sy verantwoordelikheid is om die eerste stap te neem. Maar as hy dit nog nie gedoen het nie en dit jou hartseer en ongelukkig maak omdat hy nie kontak behou het nie, is dit dan miskien nie die moeite werd as jy self probeer om die situasie te verbeter nie? Kyk hoe Jesus Christus sake hanteer het toe party van sy vriende hom seergemaak het. Op die laaste nag van sy menselewe het sy apostels hom verlaat. Petrus het gespog dat hy by Jesus sou bly ongeag wat gebeur. Nogtans het Petrus Jesus verraai—nie een keer nie, maar drie keer!—Matteus 26:31-35; Lukas 22:54-62.

Ten spyte van Petrus se tekortkominge het Jesus hom nietemin nog steeds liefgehad. Ná Jesus se opstanding het Jesus die eerste stap geneem om hulle verhouding te herstel deur spesiaal aan Petrus te verskyn (1 Korintiërs 15:5). Interessant genoeg, toe Jesus vir Petrus die vraag gevra het: ‘Het jy my lief?’, het Petrus  geantwoord: “Ja, Here, u weet dat ek geneentheid vir u het.” Ondanks sy skandelike gedrag het Petrus Jesus nog steeds liefgehad.—Johannes 21:15.

Soos in die geval van Petrus en Jesus is die situasie tussen jou en jou pa dalk nie so hopeloos as wat dit lyk nie. Miskien sal hy reageer as jy ’n bietjie inisiatief aan die dag lê om te bel, ’n brief te skryf of hom te besoek. Henry, wat aan die begin gemeld is, sê: “Ek het eenkeer vir my pa geskryf, en hy het ’n brief teruggestuur waarin hy gesê het dat hy trots is op my. Ek het daardie brief geraam en dit jare lank teen my muur gehang. Ek het dit nog steeds tot vandag toe.”

Joan en haar broers en susters het ook die inisiatief geneem om hulle pa, wat ’n alkoholis is, te besoek. “Hy was in ’n slegte toestand”, erken Joan, “maar dit was nog steeds goed om hom te sien.” Miskien sal dit goeie resultate oplewer as jy die inisiatief neem. As daar aanvanklik geen reaksie is nie, moet jy dalk tyd laat verbygaan en dan weer probeer.

Hoe om met die pyn van verwerping saam te leef

Salomo herinner ons dat daar “’n tyd [is] om te soek en ’n tyd [is] om verlore te laat gaan” (Prediker 3:6). Soms moet ’n jongmens die pynlike feit aanvaar dat sy of haar pa nie ’n verhouding met sy kinders wil hê nie. As dit met jou pa die geval is, sal hy miskien eendag besef hoeveel hy verloor het omdat hy nie ’n verhouding met jou wou hê nie.

Maar wees intussen verseker dat sy verwerping van jou nie beteken dat jy niks werd is nie. Die Bybelpsalmis Dawid het gesê: “Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem” (Psalm 27:10). Ja, jy is nog steeds baie kosbaar in God se oë.—Lukas 12:6, 7.

Nader God in gebed as jy dus mismoedig of terneergedruk voel (Psalm 62:9). Vertel hom presies hoe jy voel. Wees verseker dat hy na jou sal luister en jou sal vertroos. Nog ’n Bybelpsalmis het geskryf: “As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel.”—Psalm 94:19.

Hartlike omgang met mede-Christene kan jou ook help om sulke verwerping die hoof te bied. Spreuke 17:17 (NW) sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.” Jy kan sulke ware metgeselle in die Christengemeente van Jehovah se Getuies vind. Dit kan veral help as jy party van die gemeentelike opsieners leer ken. Joan se broer Peter gee hierdie raad: “Praat met die ouer broers en susters in die gemeente, en hulle sal van groot hulp wees. As jou pa julle verlaat het, vertel hulle hoe jy voel.” Die gemeentelike opsieners kan ook praktiese wenke gee oor hoe om na party van die verantwoordelikhede om te sien wat jou pa vroeër gehad het, soos instandhoudingswerk aan die huis.

Jou ma kan ook ’n bron van ondersteuning wees. Dit is waar dat sy dalk self emosionele spanning ondervind. Maar as jy jou gevoelens op eerbiedige wyse met haar bespreek, sal sy ongetwyfeld haar bes doen om te help.

Ondersteun julle gesin!

Jou pa se afwesigheid kan julle gesin op verskeie maniere beïnvloed. Jou ma moet miskien ’n werk kry—selfs twee—om die pot aan die kook te hou. Jy en jou broers en susters sal dalk meer takies in en om die huis moet doen. Maar jy kan by sulke veranderinge aanpas as jy onselfsugtige Christelike liefde aankweek (Kolossense 3:14). Dit kan jou help om ’n positiewe gesindheid te behou en gegriefdheid te onderdruk (1 Korintiërs 13:4-7). Peter sê: “Om ons gesin te help, is die regte ding om te doen, en ek voel goed omdat ek weet dat ek my ma en my susters help.”

Dit is sonder twyfel ’n tragiese, pynlike gebeurtenis wanneer ’n pa die huis verlaat. Maar jy kan met God se hulp en die hulp van liefdevolle Christenvriende en familie seker wees dat jy en jou gesin dit kan verwerk. *

[Voetnote]

^ par. 3 Die name is verander.

^ par. 11 Sien die artikel “Jongmense vra . . . Waarom het my pa ons verlaat?” in ons nommer van 22 November 2000.

^ par. 27 Sien die artikels “Jongmense vra . . . ”, wat in 22 Desember 1990 en 22 Maart 1991 verskyn het, vir verdere inligting oor enkelouergesinne.

[Prente op bladsy 26]

Party jongmense het die inisiatief geneem om met hulle pa in aanraking te kom