Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Voortgesette soeke na oplossings

’n Voortgesette soeke na oplossings

 ’n Voortgesette soeke na oplossings

DIE Verenigde Nasies het sedert sy ontstaan in kinders en hulle probleme belanggestel. Aan die einde van 1946 het dit die Verenigde Nasies se Internasionale Kindernoodfonds (UNICEF) as ’n tydelike maatreël gestig om na kinders in oorloggeteisterde gebiede om te sien.

In 1953 is hierdie noodfonds in ’n permanente organisasie verander. Hoewel dit nou amptelik as die Verenigde Nasies-kinderfonds bekend staan, het dit sy oorspronklike akroniem, UNICEF, behou. UNICEF voorsien kinders regoor die wêreld dus al meer as ’n halwe eeu van voedsel, klere en mediese sorg en probeer na kinders se behoeftes oor die algemeen omsien.

In 1959 is daar meer aandag aan die behoeftes van kinders gegee toe die Verenigde Nasies ’n Verklaring van die Regte van die Kind aangeneem het. (Sien venster, bladsy 5.) Daar is gehoop dat hierdie dokument belangstelling in die probleme van kinders sou aanwakker en sou help om dit op te los deur openbare ondersteuning, finansieel en andersins, aan te moedig.

Maar “twintig jaar later”, volgens Collier se 1980 Year Book, “het die meeste van hierdie ‘regte’—veral dié wat met voeding, gesondheid en liggaamlike welsyn verband hou—vir baie van die wêreld se 1,5 miljard kinders nog nie ’n werklikheid geword nie”. Gevolglik het die Verenigde Nasies, ter erkenning van die voortdurende behoefte om kinders se probleme op te los en in ooreenstemming met sy verklaarde doelwitte, 1979 as die Internasionale Jaar van die Kind verklaar. Regerings-, burger-, godsdiens- en liefdadigheidsgroepe regoor die wêreld het vinnig gereageer om oplossings te help vind.

Was dit alles net ’n “klug”?

Ongelukkig het kinders in ontwikkelende lande, volgens ’n UNICEF-verslag, nie gedurende die Internasionale Jaar van die Kind goed gevaar nie. Teen die einde van daardie jaar was ongeveer 200 miljoen kinders nog steeds  ondervoed, en die helfte van die sterfgevalle van die 15 miljoen kinders jonger as vyf kon aan ondervoeding toegeskryf word. Van die 100 kinders wat elke minuut van daardie jaar in hierdie lande gebore is, sou 15 voor die einde van hulle eerste jaar sterf. Minder as 40 persent sou laerskool voltooi. ’n Hoofartikel in die koerant die Indian Express het oor die UNICEF-verslag kommentaar gelewer en gekla dat die Jaar van die Kind ’n “klug” was.

Party persone het vooraf gesien dat dit sou misluk. Fabrizio Dentice het byvoorbeeld reg aan die begin van die jaar in die tydskrif L’Espresso geskryf: “Meer as die Jaar van die Kind is nodig om die situasie reg te stel.” Die tydskrif het gesê: “Die hedendaagse lewenswyse maak ons wat ons is, en dít is wat verander moet word.”

In die voortgesette soeke na oplossings vir die probleme van kinders is ’n wêreldspitsberaad in September 1990 by die VN se hoofkantoor gehou. Dit was een van die grootste vergaderinge van wêreldleiers in die geskiedenis. Meer as 70 regeringsleiers was teenwoordig. Die byeenkoms is gehou na aanleiding van die Konvensie oor die Regte van die Kind, wat op 20 November 1989 aangeneem is en op 2 September 1990 in werking getree het. Teen die einde van daardie maand is die ooreenkoms reeds deur 39 lande bekragtig.

“Die Konvensie”, het UNICEF onlangs gesê, “het vinnig die menseregteverdrag geword wat deur die meeste lande nog aangeneem is en het sodoende ’n wêreldwye momentum vir kinders geskep.” Trouens, sedert November 1999 is die Konvensie deur 191 lande aangeneem. UNICEF het gespog: “In die dekade ná die aanneming van die Konvensie oor die Regte van die Kind is meer vooruitgang gemaak om kinders se regte te bekragtig en te beskerm as in enige ander vergelykbare tydperk in die mensegeskiedenis.”

Ondanks hierdie vooruitgang het die Duitse president Johannes Rau gesê: “Dit is jammer dat ons in ons dag nog daaraan herinner moet word dat kinders regte het.” Of daaraan herinner moet word dat hulle nog steeds ernstige  probleme het! UNICEF het in November 1999 erken dat “baie nog gedoen moet word” en het verduidelik: “Wêreldwyd sterf daar elke jaar ongeveer 12 miljoen kinders onder vyfjarige ouderdom, hoofsaaklik aan maklik voorkombare oorsake. Sowat 130 miljoen kinders in ontwikkelende lande is nie in die laerskool nie . . . Ongeveer 160 miljoen kinders is ernstig of taamlik ondervoed. . . . Talle verwerpte kinders kwyn weg in weeshuise en ander inrigtings, waar hulle opvoeding en toereikende gesondheidsorg ontsê word. Hierdie kinders word dikwels fisies mishandel. Na raming verrig 250 miljoen kinders die een of ander vorm van arbeid.” Dit het ook gepraat van die 600 miljoen kinders wat in volslae armoede lewe en die 13 miljoen wat teen die einde van 2000 ten minste een ouer aan vigs sou verloor het.

Dit lyk nie of politieke leiers bevredigende oplossings vir hierdie probleme kan vind nie. Maar kinders se probleme is nie tot ontwikkelende lande beperk nie. In Westerse lande ondervind kinders ander soort ellendes.

[Lokteks op bladsy 4]

“Dit is jammer dat ons in ons dag nog daaraan herinner moet word dat kinders regte het”

[Venster/Prent op bladsy 5]

Die VN se Verklaring van die Regte van die Kind:

● Die reg op ’n naam en nasionaliteit.

● Die reg op toegeneentheid, liefde en begrip, asook op materiële sekuriteit.

● Die reg op toereikende voeding, behuising en mediese dienste.

● Die reg op spesiale sorg as hulle gestrem is, hetsy dit fisies, verstandelik of maatskaplik is.

● Die reg om van die eerstes te wees om beskerming en steun in alle omstandig- hede te ontvang.

● Die reg om teen alle vorme van verwaarlosing, wreedheid en uitbuiting beskerm te word.

● Die reg op ’n volle geleentheid vir speel en ontspanning en ’n gelyke geleentheid vir gratis en verpligte onderwys om die kind in staat te stel om sy individuele vermoëns te ontwikkel en om ’n nuttige lid van die samelewing te word.

● Die reg om sy volle potensiaal te ontwikkel in toestande van vryheid en waardigheid.

● Die reg om in ’n gees van begrip, verdraagsaamheid, vriendskap onder mense, vrede en wêreldwye broederskap grootgemaak te word.

● Die reg om hierdie regte te geniet ongeag ras, kleur, geslag, godsdiens, politieke of ander menings, nasionale of maatskaplike oorsprong en eiendom, geboorte of ander status.

[Erkenning]

Opsomming gebaseer op Everyman’s United Nations

[Foto-erkennings op bladsy 3]

UN PHOTO 148038/Jean Pierre Laffont

UN photo

[Foto-erkenning op bladsy 4]

Photos on pages 4 and 5 Giacomo Pirozzi/Panos Pictures