Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kinders verdien om welkom en geliefd te wees

Kinders verdien om welkom en geliefd te wees

 Kinders verdien om welkom en geliefd te wees

“GEE ’n kind ’n bietjie liefde, en jy word ryklik daarvoor vergoed.” Dit is wat die 19de-eeuse Engelse skrywer en kritikus John Ruskin geskryf het. Die meeste ouers sal waarskynlik saamstem dat dit voordele inhou om jou kinders lief te hê, nie net weens die liefde wat jy van hulle af terugontvang nie, maar selfs belangriker, weens die positiewe uitwerking wat hierdie liefde op hulle sal hê.

Die boek Love and Its Place in Nature het byvoorbeeld gesê dat “kinders geneig is om te sterf” as hulle nie liefde kry nie. En Ashley Montagu, ’n bekende Britse antropoloog, het selfs gesê: “Die kind wat nie liefde gekry het nie, is biochemies, fisiologies en sielkundig baie anders as die een wat wel liefde gekry het. Eersgenoemde groei selfs anders as laasgenoemde.”

Die Toronto Star het oor ’n studie verslag gelewer wat soortgelyke gevolgtrekkings gemaak het. Dit het gesê: “Kinders wat grootgemaak word sonder dat hulle gereeld omhels, geliefkoos of gestreel word . . . , het abnormaal hoë vlakke van streshormone.” Trouens, fisiese verwaarlosing gedurende die kinderjare “kan op die lange duur ’n ernstige uitwerking op die leervermoë en geheue hê”.

Hierdie bevindings beklemtoon hoe belangrik die fisiese teenwoordigheid van ouers is. Hoe kan sterk bande tussen ouer en kind andersins ontwikkel? Maar ongelukkig is die neiging deesdae, selfs in ryk wêrelddele, om in die kind se behoeftes te probeer voorsien sonder dat die ouers daarby betrokke is. Kinders word weggestuur skool toe, weggestuur Sondagskool toe, weggestuur om te gaan werk, weggestuur skoolkampe toe en geld gegee en weggestuur na vermaaklikheidsplekke. Omdat kinders uit die gesinskern gewerp word en as ’t ware op ’n afstand wentel, voel miljoene kinders—al is dit net in hulle onderbewussyn—dat hulle verwaarloos word en nie welkom en geliefd is nie, omring deur ’n onvriendelike grootmenswêreld. Hierdie algemene gevoel onder kinders kan een rede wees waarom daar na raming 3 000 straatkinders in Berlyn is. Micha se kommentaar is tipies: “Niemand wou my meer hê nie.” ’n Negejarige Duitse seun het eweneens gesê: “Ek sou eerder ons hond wou wees.”

Mishandeling van kinders neem baie vorme aan

Kinderverwaarlosing is ’n vorm van mishandeling wat ’n gebrek verraai aan wat die Bybel “natuurlike geneentheid” noem (Romeine 1:31; 2 Timoteus 3:3). En dit kan tot ernstiger vorme van mishandeling aanleiding gee. Sedert die Internasionale Jaar van die Kind in 1979 is meer aandag byvoorbeeld geskenk aan die probleme van fisiese mishandeling en seksuele molestering van kinders. Dit is natuurlik moeilik om akkurate statistiek te verkry, en dit verskil van plek tot plek. Maar daar is min twyfel dat dit moeilik is om die letsels uit te wis wat seksueel gemolesteerde kinders as volwassenes oorhou.

Ongeag watter vorm mishandeling aanneem, dit dra aan kinders die boodskap oor dat hulle ongeliefd en onwelkom is. En dit lyk of hierdie probleem al hoe erger word. Volgens die Duitse koerant Die Welt “word al hoe meer kinders as sosiaal wanaangepastes groot”. Dit voeg by: “Kinders ervaar nie die warmte van die nes nie. Volgens [Gerd Romeike, die hoof van ’n voorligtingsentrum vir kinders in Hamburg], word die emosionele band tussen kinders en ouers swakker, of dit word in die eerste plek nooit gesmee nie. Sulke kinders voel verwaarloos,  en hulle begeerte na sekuriteit word nie bevredig nie.”

Kinders wat hulle reg ontsê word om welkom en geliefd te wees, kan verbitterd word en dan uiting gee aan hulle frustrasies teenoor diegene wat hulle verwaarloos het of moontlik teenoor die gemeenskap in sy geheel. Goed ’n dekade gelede het ’n verslag van ’n Kanadese taakgroep die behoefte aan onmiddellike optrede beklemtoon sodat ’n hele geslag, “wat dink dat die gemeenskap nie vir hulle omgee nie”, nie verlore gaan nie.

Kinders wat voel dat hulle nie geliefd of welkom is nie, kan in die versoeking kom om van die huis af weg te loop om hulle probleme te ontvlug en vind dan net groter probleme in stede waar misdaad, dwelms en onsedelikheid aan die orde van die dag is. Trouens, meer as 20 jaar gelede het die polisie geskat dat 20 000 wegloopkinders onder 16 in slegs een metropolitaanse gebied in Amerika woon. Hulle is beskryf as “die produkte van gebroke huise en wrede behandeling, en dikwels is dit alkohol- en dwelmverslaafde ouers wat hiervoor verantwoordelik is. Hulle begeef hulle na die strate en gebruik hulle liggaam om aan die lewe te bly, en dan, nadat hulle deur koppelaars geslaan en hulle eiewaarde ontneem is, lewe hulle in vrees van weerwraak as hulle ’n nuwe blaadjie probeer omslaan.” Ondanks opregte pogings om hierdie betreurenswaardige situasie te verander, bestaan dit ongelukkig nog steeds.

Kinders wat in die bogenoemde omstandighede grootword, word uiteindelik ongebalanseerde volwassenes, wat dikwels nie hulle eie kinders reg grootmaak nie. Omdat hulle self onwelkom en ongeliefd is, bring hulle later meer van hulle eie soort voort—kinders wat onwelkom en ongeliefd voel. ’n Duitse politikus het dit so opgesom: “Kinders sonder liefde word volwassenes vol haat.”

Miljoene ouers doen natuurlik hulle bes om seker te maak dat hulle kinders weet dat hulle welkom en geliefd is. Hulle sê dit nie net vir hulle nie, maar bewys dit deur hulle kinders die liefdevolle sorg en persoonlike aandag te gee wat elke kind verdien. Maar probleme bestaan nog steeds—probleme wat ouers duidelik nie op hulle eie kan oplos nie. In party wêrelddele voorsien onvolmaakte menslike ekonomiese en politieke stelsels kinders byvoorbeeld nie van toereikende gesondheidsorg, geskikte opvoeding en genoeg voedsel, sowel as beskerming teen die plaag van kinderarbeid en betreurenswaardige lewensomstandighede nie. En alte dikwels word hierdie toestande deur hebsugtige, korrupte, selfsugtige en onbedagsame volwassenes vererger.

Kofi Annan, die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het sommige van die groot probleme gemeld waarmee kinders vandag te kampe het toe hy geskryf het: “Miljoene kinders verduur nog steeds die verskriklike vernederings van armoede; honderdduisende ly weens konflikte en  ekonomiese chaos; tienduisende word in oorloë vermink; baie meer word wees gelaat deur MIV/vigs of sterf daaraan.”

Maar nie al die nuus is sleg nie! VN-agentskappe, soos die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF) en die Wêreldgesondheidsorganisasie, het hard gewerk om kinders se lot te verbeter. Annan het gesê: “Meer kinders word gesond gebore en meer word geïmmuniseer; meer kan lees en skryf; meer het die geleentheid om te leer, te speel en eenvoudig net kinders te wees as wat slegs ’n dekade gelede moontlik geag is.” En tog het hy gewaarsku: “Dit is nie nou die tyd om ons op die verlede te roem nie.”

Kinders wat spesiale aandag verdien

Party kinders verdien spesiale aandag. In die vroeë 1960’s was die wêreld geskok om verslae uit verskeie lande te hoor oor die geboorte van duisende sogenaamde talidomiedkinders. Toe die kalmeermiddel en slaappil talidomied deur swanger vroue gebruik is, het dit ’n onverwagse newe-effek gehad wat veroorsaak het dat hulle geboorte gegee het aan kinders sonder ledemate of met misvormde ledemate. Hulle arms en bene was dikwels niks meer as stompies nie.

Vier dekades later is landmyne die waarskynlikste oorsaak van verminking onder kinders. * Party skat dat daar tussen 60 miljoen en 110 miljoen lewendige myne regoor die wêreld versprei lê. Elke jaar word ongeveer 26 000 mense gedood of vermink—onder andere baie kinders. Sedert 1997, toe Jody Williams die Nobelprys vir vrede gewen het vir haar kampanje om landmyne te verbied, is baie aandag aan hierdie probleem geskenk. Maar mynvelde bestaan nog. ’n Duitse politikus het die volgende gesê oor pogings om die wêreld van landmyne te bevry: “Dit is soos om ’n bad met ’n teelepel te probeer leegmaak terwyl die kraan loop.”

Nog ’n groep kinders wat spesiale aandag nodig het, is dié wat nie ouers het nie. Dit was Jehovah God, die mens se Skepper, se voorneme dat kinders met die liefdevolle aandag van ’n moeder sowel as ’n vader grootword. ’n Kind het ’n behoefte aan en verdien sulke gebalanseerde ouerlike sorg.

Weeshuise en aannemingsagentskappe probeer in die behoeftes van ouerlose kinders voorsien. Maar ongelukkig is van die minderbevoorregte kinders wat dit die meeste nodig het juis die kinders wat dikwels nie aangeneem word nie—diegene wat siek is, leersteurnisse het, liggaamlik gestremd is of van vreemde herkoms is.

Organisasies is gestig wat mense aanmoedig om gereeld geld te skenk en sodoende ’n kind in ’n minder gegoede land “aan te neem”. Geskenkte geld word gebruik om die kind op te voed of om lewensbenodigdhede te voorsien. Foto’s en briewe kan selfs op versoek uitgewissel word om die verhouding te versterk. Hoewel hierdie reëling nuttig is, is dit nie die ideale oplossing nie.

Nog ’n interessante voorbeeld van wat al gedoen  is om ouerlose kinders te help, is ’n beweging wat in 1999 sy vyftigste bestaansjaar gevier het.

Die SOS-Kinderdorp

In 1949 het Hermann Gmeiner die SOS-Kinderdorp, soos hy dit genoem het, in Imst, Oostenryk, gestig. Van hierdie klein begin het sy organisasie gegroei sodat dit byna 1 500 dorpe en soortgelyke instellings in 131 lande in Afrika, Amerika, Asië en Europa insluit.

Gmeiner het sy onderneming op vier rigsnoere gegrond—die moeder, die kinders, die huis en die dorp. ’n “Moeder” vorm die grondslag van ’n “gesin” van vyf of ses—moontlik meer—kinders. Sy woon saam met hulle en probeer hulle die liefde en aandag gee wat van ’n regte moeder verwag word. Die kinders bly saam as deel van dieselfde “gesin” en met dieselfde “moeder” totdat die tyd aanbreek dat hulle die “huis” moet verlaat. Kinders van verskillende ouderdomme word in die “gesin” ingesluit. Omdat hulle ouer en jonger “broers” en “susters” het, leer die kinders om vir mekaar om te gee en word hulle sodoende gehelp om nie selfsugtig te word nie. Pogings word aangewend om die kinders so vroeg as moontlik in ’n “gesin” in te skakel. Vleeslike broers en susters word altyd saam in dieselfde “gesin” gehou.

Dorpe bestaan uit ongeveer 15 “gesinne”, wat elk in hulle eie huis woon. Al die kinders word geleer om hulle “moeder” te help om die nodige huistakies te doen. Hoewel hulle nie ’n vader het nie, word ’n man se hulp ingeroep om vaderlike raad te gee en die nodige dissipline toe te dien. Die kinders woon plaaslike skole by. Elke “gesin” ontvang ’n vasgestelde maandelikse toelae om hulle uitgawes te dek. Voedsel en klere word plaaslik gekoop. Die doel is om kinders aan die tipiese gesinslewe bloot te stel met al sy probleme en vreugdes sodat hulle sover as moontlik ’n normale lewe kan lei. Dit berei hulle voor om gesinne van hulle eie te begin wanneer hulle volwassenes is.

Nog steeds op soek na die ideale oplossing

Aannemingsagentskappe, weeshuise, SOS-Kinderdorpe, UNICEF en soortgelyke organisasies of groepe doen nuttige werk wanneer hulle minderbevoorregte kinders probeer help. Maar nie een van hulle kan die feit dat sommige mense minderbevoorreg is uit die weg ruim nie. Al wil hulle dit ook hoe graag doen, hulle kan nie die gebreklike kind gesonde ledemate gee nie, die verstand van die verstandelik gestremde kind aktiveer nie, ’n kind met sy ouers verenig wat mekaar verlaat het of geskei is nie of hom weer in die liefdevolle arms van sy afgestorwe ouer plaas nie.

Ongeag hoe hard mense probeer, hulle kan nie die ideale oplossing vir die probleme van kinders voorsien nie. Maar dit sal opgelos word! Ja, en waarskynlik gouer as wat jy verwag. Maar hoe?

[Voetnoot]

^ par. 17 Sien die reeks “Landmyne—Wat kan gedoen word?” wat in ons nommer van 8 Mei 2000 verskyn het.

[Prente op bladsy 8, 9]

’n Kind het ’n behoefte aan en verdien die liefde van albei ouers