Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan die wetenskap ewige lewe tot stand bring?

Kan die wetenskap ewige lewe tot stand bring?

 Die Bybel se beskouing

Kan die wetenskap ewige lewe tot stand bring?

JARE GELEDE sou so ’n vraag belaglik gewees het. Maar nou oorweeg sommige mense die moontlikheid ernstig. Wetenskaplikes het dit alreeds reggekry om die lewensduur van vrugtevlieë en wurms te verdubbel deur tegnieke te gebruik wat na party se mening op mense toegepas kan word.

Navorsing het getoon dat normale menseselle sterflik is en net ’n beperkte aantal kere verdeel. Daarna hou hulle op om te verdeel. Dit is ’n proses wat al vergelyk is met ’n interne horlosie wat bepaal wanneer mense oud word en sterf. Wetenskaplikes werk nou daaraan om hierdie horlosie terug te stel.

Een gewilde teorie is dat die sleutel tot veroudering aan die eindpunt van elke DNS-string lê, en dit word die telomere genoem. Die telomere is al vergelyk met die plastiekomhulsels aan die punt van skoenveters wat keer dat die veters uitrafel. Wetenskaplikes het opgemerk dat die telomere soos ’n brandende lont korter word elke keer wat party selle verdeel. Dit lyk of die telomere uiteindelik so verkort dat die sel ophou verdeel. Maar as ’n sekere ensiem teenwoordig is, word telomere nie korter nie. Volgens dié teorie kan dit die selle dus die potensiaal gee om oneindig aan te hou verdeel. ’n Beampte van een maatskappy wat by hierdie werk betrokke is, het gesê: “Dit is die eerste keer dat menslike onsterflikheid moontlik lyk.” Maar nie alle wetenskaplikes stem saam nie.

Hoe die dood veroorsaak is

Mense wat geloof in die Bybel stel, glo natuurlik al millenniums lank dat dit vir mense moontlik is om vir ewig te lewe. Hulle vertrou nie op menslike wetenskaplikes nie, maar op die Meesterwetenskaplike, wat alle lewensvorme geskep het, Jehovah God.—Psalm 104:24, 25.

Die Bybel toon dat die mens se dood nie deel van die Skepper se voorneme uitgemaak het nie. Die eerste mensepaar is na God se beeld geskep en in ’n paradystuin geplaas. Hulle was volmaak, met geen geestes- of liggaamsgebreke nie. Gevolglik het hulle die vooruitsig gehad om vir ewig op aarde te lewe. Dit is wat God vir hulle in gedagte gehad het. Hy het hulle die opdrag gegee om kinders voort te bring en die Paradys geleidelik oor die hele aarde uit te brei.—Genesis 1:27, 28; 2:8, 9, 15.

Soos Genesis hoofstuk 3 toon, het Adam opsetlik teen God in opstand gekom al het hy geweet dat hy met die dood gestraf sou word. Wat meer is, deur ’n weg van ongehoorsaamheid te volg, het hy sonde en die dood oor sy ongebore  nageslag gebring. Die apostel Paulus het dit so verduidelik: “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde, en die dood [het] só tot alle mense deurgedring . . . omdat hulle almal gesondig het” (Romeine 5:12). Met ander woorde, omdat Adam gesondig het, was sy liggaam nie meer volmaak nie. Hy het geleidelik oud geword en gesterf. Sy nageslag het daardie gebrek oorgeërf.

Mensedood is dus die gevolg van Adam se opstand en die oordeel wat God daarna uitgespreek het. Mense sal nie daarin slaag om hierdie oordeel te verander nie. Hoewel die wetenskap groot mediese vooruitgang gemaak het, is die geïnspireerde woorde van Moses, wat 3 500 jaar gelede geskryf is, nog steeds waar: “Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.”—Psalm 90:10.

Jehovah se voorsiening vir die ewige lewe

Gelukkig is daar hoop! Hoewel alle mense nou uiteindelik sterf, is dit nie Jehovah se voorneme dat hierdie situasie onbepaald voortgaan nie. Al het Adam en Eva verdien om te sterf, het God geweet dat daar baie onder hulle ongebore kinders sou wees wat met waardering op sy liefdevolle leiding sou reageer. Hy het vir sulke mense voorsiening vir eindelose lewe op aarde gemaak. Die psalmis het geskryf: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Maar hoe sal dit tot stand gebring word?

Dit sal nie gebeur omdat mense die geheime van die DNS ontrafel nie. Die ewige lewe is eerder ’n gawe wat Jehovah aan diegene sal gee wat geloof in hom beoefen. Omdat hy besef het dat die nageslag van Adam en Eva gered moes word, het hy voorsiening gemaak dat hulle die ewige lewe kan verkry—die losprysofferande van Jesus Christus. Jesus het na hierdie voorsiening verwys toe hy gesê het: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.

Jesus was, soos Adam, ’n volmaakte mens. In teenstelling met Adam was Jesus volmaak gehoorsaam aan God. Jesus kon dus sy volmaakte menselewe opoffer om vir Adam se sonde te betaal. Deur middel van hierdie liefdevolle daad, wat die skaal van geregtigheid gebalanseer het, kon Adam se kinders van die doodsvonnis verlos word. Almal wat gevolglik geloof in Jesus stel, sal die ewige lewe as ’n gawe van God ontvang.—Romeine 5:18, 19; 1 Timoteus 2:5, 6.

As mense onvolmaaktheid te bowe kon kom en ewige lewe vir hulleself tot stand kon bring, sou die losprysofferande onnodig gewees het. Die Bybel gee hierdie wyse raad: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan. Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God, wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is; wat trou bly tot in ewigheid.”—Psalm 146:3-6.

Die ewige lewe sal nie deur wetenskaplike navorsing tot stand gebring word nie, maar deur Jehovah. God kan en sal doen wat hy hom ook al voorneem. “By God sal geen verklaring ’n onmoontlikheid wees nie.”—Lukas 1:37.

[Foto-erkenning op bladsy 18]

© Charles Orrico/SuperStock, Inc.