Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Vikings—veroweraars en koloniseerders

Die Vikings—veroweraars en koloniseerders

 Die Vikings—veroweraars en koloniseerders

DIT was ’n dag in Junie in die jaar 793 G.J. Die monnike op die klein eilandjie Lindisfarne, wat ook Heilig genoem is, naby die kus van Northumberland, Engeland, was rustig besig met hulle daaglikse bedrywighede, onbewus van die smal, lae skepe wat vinnig oor die golwe nader gekom het. Die skepe het onopgemerk op die strand gegly, en skrikwekkende bebaarde mans met swaarde en byle het uit die skepe gespring en na die klooster gehardloop. Hulle het die verskrikte monnike aangeval en ’n groot slagting onder hulle aangerig. Die invallers het goud, silwer, juwele en ander skatte van die klooster as buit geneem. Toe het hulle weer die Noordsee ingevaar en verdwyn.

Die plunderaars was Vikings, en hulle wrede tref-en-vlug-aanvalle het Europa se aandag getrek en het die begin van die Vikingera ingelui. Die Vikings het weldra sulke vrees by mense ingeboesem dat mense oral in Engeland gebid het: “Red ons, o Heer, van die toorn van die Noormanne.” *

Wie was hierdie Vikings? Waarom het hulle skielik asof uit die niet te voorskyn gekom, drie eeue lank ’n belangrike rol in die geskiedenis gespeel en toe skynbaar verdwyn?

Boere en plunderaars

Die Vikings se voorouers was Germaanse volke wat ongeveer 2 000 jaar voor die Vikingera van noordwestelike Europa na Denemarke, Noorweë en Swede—Skandinawië—begin migreer het. Soos hulle voorvaders was die Vikings boere, selfs dié wat op plundertogte gegaan het. In kouer dele van Skandinawië het hulle meer op jag, visvangs en walvisvangs staatgemaak. Vikinghandelaars het in groter gemeenskappe gewoon, en van hier af het hulle Europa se handelsroetes in hulle sterk seilskepe bevaar. Wat het dan veroorsaak dat hierdie skynbaar onskadelike volk wat voorheen onbekend was in net een geslag so berug geword het?

Een moontlikheid is oorbevolking, maar baie geskiedkundiges meen dat dit slegs vir westelike Noorweë met  sy beperkte bewerkbare grond gegeld het. The Oxford Illustrated History of the Vikings sê: “Die meeste van die Vikings van die eerste geslag het rykdom gesoek, nie land nie.” Dit was veral die geval met konings en vorste wat ’n aansienlike inkomste nodig gehad het om hulle mag te behou. Ander Vikings het Skandinawië moontlik verlaat om weg te kom van familievetes en plaaslike oorloë.

Nog ’n moontlike faktor is dat ryk Vikingmans dikwels meer as een vrou gehad het. Gevolglik het hulle baie kinders gehad. Maar gewoonlik het die eersgeborene alles geërf, en sy jonger broers en susters moes vir hulleself sorg. Volgens die boek The Birth of Europe het onterfde seuns “’n groot en gevaarlike klas van elitekrygers gevorm wat gedwing is om op enige manier ’n bestaan te voer, hetsy deur verowerings in hulle vaderland of as seerowers”.

Die Vikings het die regte vaartuig vir tref-en-vlug-aanvalle gehad—die galei. Geskiedkundiges prys die galei as een van die uitsonderlikste tegnologiese prestasies van die vroeë Middeleeue. Hierdie vaartuie, wat min diepgang gehad het en deur seile of roeispane aangedryf is, het die Vikings die meesters van elke see, meer en rivier binne hulle bereik gemaak.

Vikinguitbreiding

Party geskiedkundiges sê dat die Vikingera in die middel van die agtste eeu begin het, kort voor die Vikings se aanval op Lindisfarne. Hoe dit ook al sy, die Lindisfarne-aanval het gehelp om mense van die Vikings bewus te maak. Van Engeland af het hulle Ierland toe gegaan en weer eens kloosters aangeval wat vol skatte was. Daarna het die Vikings, met hulle galeie vol buit en slawe, vir die winter huis toe gevaar. Maar in 840 G.J. het hulle van hulle tradisie weggebreek en in die gebied oorwinter wat hulle geplunder het. Trouens, die Ierse stad Dublin het as ’n ingeslote grondgebied van die Vikings ontstaan. In 850 G.J. het hulle ook in Engeland begin oorwinter, en hulle eerste basis was die eiland Thanet by die mond van die Teemsrivier.

Kort voor lank het Deense sowel as Noorweegse Vikings by die Britse eilande aangekom, nie meer as plundergroepe nie, maar as leërs in galeivlote. Sommige van hierdie skepe was moontlik tot 30 meter lank en kon tot 100 krygers aan boord neem. In die daaropvolgende jare het Vikings die noordooste van Engeland verower, ’n gebied wat later as Danelaw bekend gestaan het omdat Deense kultuur en wette ’n groot invloed daar uitgeoefen het. In die suide van Engeland in Wessex het die Saksiese koning Alfred en sy opvolgers die Vikings egter teruggehou. Maar toe, ná ’n groot veldslag in 1016 by Ashington en die dood van koning Edmund van Wessex later daardie selfde jaar, het die Vikingleier Knut—’n verklaarde Christen—die alleenheerser van Engeland geword.

Diep in Europa in en verder

In 799 G.J. het Deense Vikings die gebied begin plunder wat destyds Friesland genoem is—die Europese kusgebied wat min of meer van Denemarke tot by Nederland strek. Van daar af het hulle op riviere soos die Loire en die Seine gevaar en stede en dorpe diep in die hartland van Europa geplunder. In 845 G.J. het die Vikings selfs Parys geplunder. Die Frankiese koning Karel die Kaalkop het hulle 3 000 kilogram silwer betaal om van die stad af terug te trek. Hulle het nogtans teruggekeer en nie net Parys nie, maar ook tot by Troyes, Verdun en Toul geplunder.

Vikings het ook na Spanje en Portugal geseil, waar hulle eerste bekende strooptog in 844 G.J. plaasgevind het. Hulle het verskeie klein dorpies verwoes en Sevilla selfs tydelik  beset. “Maar”, sê die Cultural Atlas of the Viking World, “die Arabiese verdedigers het so hard teruggeveg dat die Vikings gou teruggedryf is, en hulle leër is amper uitgewis.” Hulle het nietemin in 859 G.J. teruggekeer—hierdie keer met ’n vloot van 62 skepe. Nadat hulle dele van Spanje verwoes het, het hulle Noord-Afrika geplunder; en al was hulle skepe nou tot oorlopens toe vol met buit het hulle verder na Italië gevaar en Pisa en Lina (voorheen Luna) ingeval.

Vikings van Swede het oos oor die Baltiese See gevaar tot in sommige van die groot waterweë van Oos-Europa—die Wolchof-, Lowat-, Dnjepr- en Wolgarivier. Dit het hulle uiteindelik na die Swart See en die ryk lande van die Bisantynse Ryk geneem. Sommige Vikinghandelaars het selfs Bagdad met die Wolgarivier en die Kaspiese See bereik. Uiteindelik het Sweedse vorste die heersers van die uitgestrekte Slawiese lande van die Dnjepr en die Wolga geword. Die invallers is die Rus genoem, ’n woord waarvan party sê die woord “Rusland”—“Land van die Rus”—afgelei is.

Na Ysland, Groenland en Newfoundland

Noorweegse Vikings het hulle op baie van die buite-eilande toegespits. Hulle het byvoorbeeld die Orkney- en die Shetland-eilande in die agtste eeu en die Färoër-, die Hebride-eilande en oostelike Ierland in die negende eeu beset. Vikings het Ysland selfs gekoloniseer. Daar het hulle die parlementêre liggaam genaamd die Althing gestig. Die Althing is nog steeds die beheerliggaam van Ysland, en dit is die Weste se oudste parlementêre raad.

In 985 G.J. het ’n Viking met die naam Rooi Erik ’n kolonie in Groenland gestig. Later daardie jaar het Bjarni Herjolfsson, ’n mede-Noorman, van Ysland af gevaar om by sy ouers in Groenland aan te sluit. Maar hy is van koers af gewaai en het verby Groenland gevaar. “Bjarni was waarskynlik die eerste Noorman wat Noord-Amerika gesien het”, sê die Cultural Atlas of the Viking World.

Op grond van Bjarni se verslag, en waarskynlik ná die jaar 1000, het Leif Eriksson, die seun van Rooi Erik, van Groenland af weswaarts geseil na Baffin-eiland en toe langs die kus van Labrador. Hy het by ’n kaap uitgekom wat hy Vinland genoem het, na die wilde druiwe of bessies wat daar gegroei het. * Leif het daar oorwinter voordat hy na Groenland teruggekeer het. Die daaropvolgende jaar het Leif se broer Thorwald ’n ekspedisie na Vinland gelei, maar hy is tydens ’n skermutseling met inboorlinge doodgemaak. ’n Paar jaar later het tussen 60 en 160 Vikings egter  ’n nedersetting in Vinland gestig, maar weens voortgesette vyandelikhede van die inboorlinge, het hulle slegs ongeveer drie jaar gebly en nooit weer daarheen teruggekeer nie. Byna 500 jaar het verbygegaan voordat ’n Italiaanse ontdekkingsreisiger in diens van Engeland, John Cabot, Noord-Amerika as Engelse grondgebied verklaar het.

Die einde van die Vikingera

Teen die einde van hulle era het die Vikings ’n aantal nuwe politieke state geskep waaroor Skandinawiese vorstehuise geheers het. Maar hulle het nie lank buitelanders gebly nie, want baie Vikings is uiteindelik in hulle nuutgevonde kulture opgeneem, selfs wat godsdiens betref. Die Vikingvors Rollo, wat ’n deel van die gebied aan die Franse kus beset het en Normandië genoem word (wat “Land van die Noormanne” beteken), het ’n Katoliek geword. Een van sy afstammelinge was Willem, hertog van Normandië. Ná die slag van Hastings in 1066, waartydens afstammelinge van Normandiese en Engelse Vikings teen mekaar geveg het, is die seëvierende hertog Willem as koning van Engeland gekroon.

Willem het dadelik alle verdere Skandinawiese invloed in Engeland gekeer en ’n nuwe feodale era tot stand gebring wat gegrond was op Middeleeuse Franse regering-, grondbesit- en ekonomiese stelsels. “As ’n jaartal [dus] gekies moet word om die einde van die Vikingera aan te dui”, sê die boek The Vikings, deur Else Roesdahl, “moet dit 1066 wees.” In die 11de eeu het die oorspronklike Vikingkoninkryke in Skandinawië ook onafhanklike nasionale state geword.

Die drie eeue van Vikinggeskiedenis is ’n aksiebelaaide tydperk. Maar die beeld wat van die Vikings geskep is, dat hulle bloot plunderende barbare was wat met swaarde en byle geveg het, is nie die volle waarheid nie. Hulle was ook aanpasbaar en het uiteindelik verafgeleë lande gekoloniseer en is selfs in die plaaslike kulture opgeneem. As boere het hulle hulle in permanente nedersettings gevestig, en as heersers het hulle op vreemde trone gesit. Ja, die Vikings was nie net meesters van die seil en die swaard nie, maar ook van die ploeg en die politiek.

[Voetnote]

^ par. 3 Buite Skandinawië is die Vikings gewoonlik heidene, Dene, Noormanne of Nore genoem. Aangesien die meeste geskiedkundiges vandag die woord “Viking” vir alle Skandinawiërs van die Vikingera gebruik, gebruik ons dit ook so in hierdie artikel. Die oorsprong van die woord “Viking” is onseker.

^ par. 20 By L’Anse aux Meadows op die noordelike punt van Newfoundland is sooibedekte Noorse geboue weer opgerig, wat op argeologiese bewyse gebaseer is wat in die vroeë 1960’s daar gevind is. Hierdie bewyse toon dat die Vikings duisend jaar gelede daar was, maar dit word betwyfel of hierdie nedersetting ’n deel van die legendariese Vinland was.—Sien die Ontwaak! van 8 Julie 1999.

[Venster op bladsy 27]

DIE VIKINGS SE GODSDIENS

Die Vikings het baie mitiese gode aanbid, onder meer Odin, Thor, Frey, Freya en Hel. Odin, die god van wysheid en oorlog, was die leier van die panteon. Sy vrou was Frigga. Thor het reuse verslaan en was die heerser oor die winde en reën. Frey was ’n onsedelike god van vrede en vrugbaarheid. Sy suster Freya was die godin van liefde en vrugbaarheid. Hel was die godin van die onderwêreld.

Die name van sekere weeksdae in Engels en party ander tale kom van Noorse mitologie. Tuesday is vernoem na Tyr, die seun van Odin (wat ook as Wodan bekend staan); Woensdag is Wodan se dag; Donderdag, Thor se dag en Vrydag, Frigga se dag.

Soos hulle aanbidders het die Vikings se gode glo hulle rykdom deur diefstal, waaghalsigheid en bedrog verkry. Odin het belowe dat diegene wat heldhaftig op die slagveld sterf ’n plek in die hemelse ryk Asgard (verblyf van die gode), in die groot saal van Walhalla, sal kry. Daar kan hulle na hartelus feesvier en veg. Vikingedelmanne is dikwels begrawe met ’n boot of met klippe wat in die vorm van ’n boot uitgelê is. Voedsel, wapens, ornamente, geslagte diere en miskien selfs ’n geofferde slaaf is ook saam begrawe. ’n Koningin se diensmeisie is soms saam met haar begrawe.

Die helm met horings wat dikwels met die Vikings geassosieer word, is meer as 1 000 jaar voor die Vikingera gedra en blykbaar net tydens seremonies gebruik. Wanneer Vikingkrygers wel ’n helm gedra het, was dit ’n eenvoudige keëlvormige helm wat van metaal of leer gemaak is.

[Kaart op bladsy 26]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

VIKING- UITBREIDING

NOORWEË

YSLAND

GROENLAND

Baffin-eiland

Labrador

Newfoundland

DENEMARKE

ENGELAND

IERLAND

NEDERLAND

FRANKRYK

PORTUGAL

SPANJE

AFRIKA

ITALIË

SWEDE

RUSLAND

Kaspiese See

Bagdad

DIE OEKRAÏNE

Swart See

Istanboel

[Erkenning]

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 24]

’n Replika van ’n Vikinggalei

[Erkenning]

Bladsye 2 en 24: Antonion Otto Rabasca, Courtesy of Gunnar Eggertson

[Prente op bladsy 25]

Oorlogswapens van die Vikings

’n Vikinghelm

[Erkenning]

Oorlogswapens en helm: Artifacts on display at the Museum of National Antiquities, Stockholm, Sweden

[Prent op bladsy 27]

Leif Eriksson