Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Welkom by die Copper-canyon

Welkom by die Copper-canyon

Welkom by die Copper-canyon

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO

DIE Copper-canyon is ’n natuurwonder wat in die noordelike Mexikaanse bergreeks geleë is en wat as die Sierra Madre Occidental bekend staan, en dit beslaan ongeveer 50 000 vierkante kilometer, ’n oppervlakte gelykstaande aan ongeveer die grootte van Costa Rica.

Die naam is egter ietwat misleidend. Die Copper-canyon is nie net een canyon nie, maar ’n netwerk van 20 ineengestrengelde canyons. Een van hulle is die Copper-canyon waarvan die hele reeks canyons sy naam kry. Volgens die ontdekkingsreisiger Richard Fisher is ten minste drie van hierdie canyons dieper as die Grand Canyon in die Verenigde State. *

Vanweë die buitengewone omvang van die Copper-canyon kan die meeste toeriste net ’n paar van sy talle natuurlike uitkykpunte besoek. Die indrukwekkendste uitsigte is dié oor die Copper-, Sinforosa- en Urique-canyon. Party mense voel egter dat die skouspelagtigste uitsig by Divisadero is, wat ’n panoramiese uitsig oor die sameloop van die Copper-, Urique- en Tararecua-canyon bied.

Klimaatsverskille

Skielike veranderinge in hoogte beïnvloed die klimaat en plantegroei van Copper-canyon. Miguel Gleason het dit self ondervind toe hy en ’n groep in Urique-canyon afgeklim het. Hy skryf in die tydskrif México Desconocido: “Ons het warm begin kry, en die dennewoude het verdwyn en plek gemaak vir tropiese plantegroei met piesangs, avokadopere en selfs lemoene. Ons kon dit nie glo nie. Dit is genoeg om te sê dat ek nog nooit in my lewe van koue woude na warm subtrope in so ’n kort tydjie en afstand beweeg het nie.”

Die hoë plato’s van die canyons is met 15 denneboomsoorte en 25 akkerboomsoorte bedek. Daar is ook populiere en jenewerbome in Copper-canyon. Gedurende die somer is die hele siërra oortrek met ’n groot verskeidenheid blomme, waarvan party as voedsel of natuurlike medisyne gebruik word deur die plaaslike inwoners wat as die Tarahumara bekend staan. Op hoogtes van meer as 1 800 meter bo seevlak wissel die klimaat van die siërra van matig tot koud vir die grootste deel van die jaar. In die winter val daar ligte reën en selfs nou en dan sneeu.

Terwyl besoekers ondertoe klim, tref hulle verskillende soorte bome en kaktusse aan. Laer af word ’n subtropiese klimaat gevind wat aangename winters het en waar die gemiddelde temperatuur 17 grade Celsius is. In teenstelling hiermee kan die somers in hierdie gebied nogal ondraaglik word, aangesien die temperatuur tussen 35 en 45 grade Celsius wissel, met oorvloedige reën wat riviere laat oorloop.

Die prag van die gebied word deur twee majestueuse watervalle afgerond. Die Piedra Volada, een van die hoogste watervalle in die wêreld, het ’n val van 453 meter, en die Basaseachic, ’n val van 246 meter.

’n Beskermingsgebied vir wilde diere

Copper-canyon is die habitat van ’n aansienlike verskeidenheid natuurlewe. Daar word gesê dat 30 persent van die soogdiere wat in Mexiko opgeteken is in hierdie gebied voorkom. Dit sluit in die Amerikaanse swartbeer, die poema, die Noord-Amerikaanse otter, die witsterttakbok, die Mexikaanse gryswolf, die wildevark, die voskat, die wasbeer, die Amerikaanse ratel en die streepmuishond, sowel as vlermuise, eekhorinkies en hase.

Ongeveer 400 voëlsoorte het ’n tuiste in Copper-canyon gevind, wat die goudarend en die slegvalk insluit. Die canyons is op ’n strategiese punt tussen Noord- en Sentraal-Amerika geleë, en daarom kom trekvoëls hierheen om te oorwinter. Ander stop net om te rus voordat hulle met hulle reis voortgaan.

Copper-canyon strek beslis die Skepper van alle natuurwonders, Jehovah God, tot eer. Soos koning Dawid dit eenkeer gestel het: “Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde.”—1 Kronieke 29:11.

[Voetnoot]

^ par. 4 Urique-canyon bereik ’n diepte van 1 879 meter; Sinforosa-canyon 1 830 meter en Batopilas-canyon 1 800 meter. Die Grand Canyon is ongeveer 1 600 meter diep.

[Venster/Prent op bladsy 18]

’n Uitsig vanuit die trein

Die Chihuahua- Pasifiese spoorlyn strek 938 kilometer van Ojinaga op die grens tussen Amerika en Mexiko tot by die hawe van Topolobampo aan die Stille Oseaan—en kruis Copper-canyon in die proses. Weens die kenmerkende topografie word hierdie spoorlyn as ’n groot ingenieursprestasie beskou. Op sy reis steek die trein ongeveer 37 groot brûe oor, die langste brug is 500 meter oor die Fuerterivier. Die hoogste brug toring 90 meter bo die Chínipasrivier uit.

Die trein loop ook altesaam deur 99 tonnels. Die langste word El Descanso genoem en is 1 810 meter lank. Die toeris kan gedurende die rit ’n indrukwekkende uitsig oor Copper-canyon geniet.

[Kaarte op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

VERENIGDE STATE VAN AMERIKA

MEXIKO

CHIHUAHUA

Ojinaga

Chihuahua

GEBIED BY COPPER-CANYON

La Junta

Creel

Divisadero

Topolobampo

[Prent op bladsy 15]

Basaseachic-waterval

[Erkenning]

© Tom Till

[Prent op bladsy 16, 17]

Uitsig by Divisadero

[Erkenning]

© Tom Till

[Prent op bladsy 17]

Die Tarahumara woon oral in die canyon

[Erkenning]

George Hunter/ H. Armstrong Roberts

[Prent op bladsy 17]

Ararecomeer

[Foto-erkenning op bladsy 15]

George Hunter/H. Armstrong Roberts