Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Swaardlelie Ek wil julle graag gelukwens met die artikel “Die swaardlelie—’n besonderse blom met delikate skoonheid” (22 Februarie 2000). Ek geniet dit wanneer lede van julle kerk my besoek, al twyfel ek of ek ooit by hulle sal aansluit. In elk geval, die artikel is deur iemand geskryf wat swaardlelies werklik goed ken. Om swaardlelies te kweek, is ’n wonderlike manier om in hierdie veelbewoë wêreld te ontspan en die lewe te geniet.

C. M., Verenigde State

Selfmoord Die reeks “Selfmoord—Wie loop die grootste risiko?” (22 Februarie 2000) was so reg in die kol. Agt maande gelede is my ma skielik oorlede. My pa was nie daar toe sy gesterf het nie, en hy voel skuldig daaroor. Hy sê soms dat hy nie meer wil lewe nie. Die artikels was dus baie nuttig vir my en my pa.

R. Z., Duitsland

My oupa het twee jaar gelede selfmoord gepleeg. Ná die dood van sy vrou het sy geestesgesondheid agteruitgegaan. Julle artikels het my gehelp om te verstaan waarom hy dit moontlik gedoen het.

A. M., Verenigde State

In Januarie het my 48-jarige broer selfmoord gepleeg. Die dag ná sy gedenkdiens het my pa, wat nie een van Jehovah se Getuies is nie, hierdie nommer van die Ontwaak! in ons posbus gevind. Hy was sprakeloos, en sy oë was vol trane toe hy dit vir ons gewys het. My familie het trane van vreugde en dankbaarheid gestort oor hierdie vertroostende artikels.

B. J., Verenigde State

Ses kinders het in die afgelope jaar in ons skool selfmoord gepleeg. Dit het soveel kommer gewek dat die skool ’n selfmoordbewustheidsprogram binne die skoolstelsel begin het. Ons het hierdie nommer vir mense in gebiede aangebied wat nie gewoonlik na ons boodskap luister nie. Mense het soms die tydskrif uit ons hand geneem nog voordat ons ons aanbieding kon voltooi!

C. C., Verenigde State

Toe ek ’n tiener was, het ek twee keer ná my pa se dood selfmoord probeer pleeg. Selfs die woord “selfmoord” word deur sommige as taboe beskou. Dankie dat julle dit op die voorblad van die Ontwaak! gesit het. Ek het hierdie artikels openhartig, realisties en baie simpatiek gevind.

M. G., Frankryk

Probleme met vriende Die artikel “Jongmense vra . . . Waarom het my vriend my seergemaak?” (22 Februarie 2000) het my gehelp. My beste vriendin, met wie ek al ses en ’n half jaar vriende is, het my diep seergemaak. Met behulp van die wenke in julle artikel het ek en my vriendin die situasie rustig en kalm bespreek. As gevolg hiervan is ons nou nader aan mekaar as ooit tevore.

M. L., Verenigde State

Gestremde prediker Die artikel “’n Positiewe uitkyk ondanks gebreke” (22 Februarie 2000) het my werklik getref. Ek is jonk, en soms lyk dit of my probleme net te veel raak vir my. Konstantin Morozov se verhaal was baie aanmoedigend. Ek koester sy woorde: ‘Solank my hart nog klop, wil ek voortgaan om Jehovah te dien.’

L. C., Italië

Ek het drie kinders, en omdat my man nie my geloofsoortuiging deel nie, moet ek hulle in geestelike sake onderrig. Ek moet ook werk en na die huis omsien, en soms voel dit of ek net nie meer krag oorhet nie. Die positiewe gesindheid van Konstantin is ongelooflik! Dankie dat julle sy verhaal gepubliseer het.

O. K., Rusland