Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

My geloof word in Pole beproef

My geloof word in Pole beproef

 My geloof word in Pole beproef

SOOS VERTEL DEUR JAN FERENC

EK WAS maar net ’n jong seun toe die Tweede Wêreldoorlog gewoed het. Ek kan my oom wat een van Jehovah se Getuies was nog goed onthou. Hy het ons tuis besoek en vir ons uit die Bybel gelees. My ouers het nie belanggestel nie, maar my broer Józef, my suster Janina en ek het werklik belanggestel. Elkeen van ons het kort daarna ons toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Ek was net 14 jaar oud toe ek gedoop is.

Ons ouers het begin luister toe hulle die goeie uitwerking sien wat Bybelstudie op ons lewe gehad het. Toe my pa besef dat die Bybel afgodediens veroordeel, het hy gesê: “As dit is wat die Woord van God sê, het die priesters ons daaromtrent onkundig gelaat. Seun, haal al die beelde van die mure af en gooi hulle weg!” My ouers is ongeveer twee jaar later gedoop. Hulle het Jehovah tot hulle dood getrou gedien.

Probleme waarvoor ons te staan gekom het

Jehovah se Getuies het voor moeilike tye te staan gekom nadat die oorlog geëindig het. Die kantoor in Lodz is byvoorbeeld deur die Departement van Veiligheid deursoek, en diegene wat daar gewerk het, is gearresteer. In Oos-Pole het guerrillas van die Nasionale Weermag, onder die invloed van die Katolieke geestelikes, Jehovah se Getuies wreed aangeval. *

Ongeveer hierdie tyd het die Kommunistiese owerheid ook die toestemming teruggetrek wat hulle ons vantevore gegee het om ons byeenkomste te hou, en hulle het probeer om die byeenkomste wat alreeds aan die gang was, te onderbreek. Die toenemende teenstand het ons nogtans net meer vasbeslote gemaak om met die verkondiging van God se Koninkryk voort te gaan. In 1949 was daar ver oor die 14 000 Getuies in Pole.

Ek het kort voor lank ’n pionier geword, ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies. My eerste toewysing was ongeveer 500 kilometer van die huis af. Mettertyd is ek egter as ’n reisende opsiener aangestel om in die gebied oos van Lublin te dien, nie te ver van my ouerhuis af nie.

Gearresteer en vervolg

In Junie 1950 is ek gearresteer en deur die Kommunistiese owerheid daarvan beskuldig dat ek vir die Verenigde State spioeneer. Ek is in ’n klam kelder gegooi. Saans is ek uitgebring vir ondervraging deur ’n ondersoekbeampte. “Die godsdiensgenootskap waaraan jy behoort, is ’n sekte en ’n vyand van ons Staat”, het hy vir my gesê. “Julle kantoor werk vir die Amerikaanse Intelligensiediens. Ons kan dit bewys! Jou broers het alreeds erken dat hulle deur die land gereis het en gegewens oor militêre fasiliteite en fabrieke ingewin het.”

Hierdie aantygings was natuurlik heeltemal vals. Die beampte het my nietemin aangeraai om ’n vorm te onderteken om, wat hy genoem het, “jou skandelike organisasie” te versaak. Hy het keer op keer probeer om my te laat teken. Hy het my selfs probeer oorreed om die name en adresse neer te skryf van al die Getuies wat ek geken het en die plekke van waar ons publikasies versprei is. Sy pogings was vergeefs.

 Daarna het die beamptes my met ’n knuppel geslaan totdat ek my bewussyn verloor het. Hulle het my dan met water natgegooi om my by te bring, waarna die ondervraging hervat is. Die volgende nag is ek wreed op my hakke geslaan. Ek het God hardop gesmeek om my die krag te gee om dit te verduur. Ek voel hy het. Daardie nagtelike ondervragings het byna ’n jaar lank gereeld plaasgevind.

Ek is in April 1951 uit die gevangenis vrygelaat, maar baie Getuies was nog steeds in die gevangenis. Ek het na ’n verantwoordelike Getuie gegaan en ’n nuwe toewysing gevra. “Is jy nie bang om weer gearresteer te word nie?” het hy my gevra. “Ek is selfs meer vasbeslote om te werk waar daar hulp nodig is”, het ek geantwoord. Ek het my werk as ’n reisende opsiener voortgesit, en later is ek gevra om die drukwerk en verspreiding van ons publikasies in Pole te organiseer.

Ons het destyds primitiewe mimeograwe en wasplate gebruik om kopieë van Die Wagtoring te maak. Die gehalte van ons drukwerk was swak, en ons moes buitensporige pryse betaal vir papier, wat op daardie tydstip skaars was. Die kopiëring moes in afgesonderde plekke gedoen word, soos skure, kelderverdiepings en solderkamers. Diegene wat betrap is, het tronkstraf gekry.

Ek onthou ’n droë put wat ons gebruik het. In sy muur, ongeveer 11 meter onder die grond, was daar ’n deurtjie wat na ’n klein kamertjie gelei het waar ons die tydskrifte gemimeografeer het. Iemand moes ons met ’n tou laat afsak om daar uit te kom. Eendag het ek in ’n groot houtemmer in die put afgesak toe die tou skielik breek. Ek het tot onder geval en my been gebreek. Nadat ek ’n ruk lank in die hospitaal was, het ek teruggegaan om met die mimeograaf te werk.

Ongeveer hierdie tyd het ek Danuta, ’n ywerige pionierbedienaar, ontmoet. Ons is in 1956 getroud, en die volgende vier jaar het ons saam in die bediening in die sentrale deel van Pole gewerk. Teen 1960 het ons twee kinders gehad, en ons het besluit dat Danuta die voltydse diens moes verlaat om na hulle om te sien. Ek is kort daarna weer gearresteer, en hierdie keer is ek in ’n sel vol rotte geplaas. Sewe maande later is ek tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis.

In en uit die tronk

Daar was meer as 300 gevangenes in die Bydgoszcz-gevangenis, en ek het tot Jehovah gebid sodat ek die Koninkryksboodskap aan opregtes van hart kon verkondig. Ek het met die hoof van die gevangenis gepraat en gevra of ek die haarkapper kon wees. Tot my verbasing het hy ingestem. Ek het kort daarna die gevangenes geskeer, hulle hare gesny en vir diegene getuig wat gelyk het of hulle belangstel.

Die gevangene wat as ’n haarkapper saam met my gewerk het, het spoedig op ons gesprekke gereageer. Hy het selfs begin om die dinge wat hy uit die Bybel geleer het met ander  te bespreek. Weldra het die hoof van die gevangenis ons beveel om op te hou om “ondermynende propaganda” te versprei, soos hy daarna verwys het. My medehaarkapper het ’n ferm standpunt ingeneem. Hy het verduidelik: “Ek het gewoonlik gesteel, maar nou doen ek dit nie meer nie. Ek was eens aan nikotien verslaaf, maar ek het opgehou rook. Ek het ’n doel in my lewe gevind, en ek wil een van Jehovah se Getuies wees.”

Toe ek uit die tronk vrygelaat is, is ek na Poznan gestuur om na ’n “bakkery” om te sien, soos ons ons geheime drukkerye genoem het. Teen die einde van die vyftigerjare het ons drukwerk grootliks verbeter. Ons het geleer hoe om die grootte van bladsye fotografies te verklein—’n mylpaal in ons tegnologie—en om met Rotaprint-rubberdrukperse te werk. In 1960 het ons ook boeke begin druk en bind.

Kort daarna het ’n buurman ons werksaamhede gerapporteer en is ek weer eens gearresteer. Nadat ek in 1962 vrygelaat is, het ek ’n toewysing ontvang om saam met ’n paar ander in Szczecin te dien. Maar voordat ons moes vertrek, het ons riglyne ontvang van lojale Christenbroers, of so het ons gemeen, om liewer na Kielce te gaan. Daar is ons egter gearresteer, en ek is vir nog ’n jaar en ’n half gevonnis. Ons is deur bedrieërs van binne verraai. Hulle is mettertyd opgespoor en uit ons midde verwyder.

Toe ek uiteindelik uit die tronk vrygelaat is, is ek aangestel om oor ons drukwerk in die hele Pole toesig te hou. In 1974, nadat ek tien jaar lank nie opgespoor is nie, is ek gevind en in Opole gearresteer. Kort daarna is ek na die gevangenis in Zabrze gestuur. “Jou werk as biskop is verby”, het die hoof van die gevangenis vir my gesê. “As jy aanhou om jou propaganda te verkondig, sal jy in alleenopsluiting geplaas word.”

Predikingswerk in die gevangenis

My werk as ’n bedienaar was natuurlik alles behalwe klaar. Trouens, ek het ’n Bybelstudie met twee van my medegevangenes begin. Uiteindelik het hulle sulke goeie vooruitgang gemaak dat ek hulle in ’n groot bad in die gevangenis kon doop.

Ander gevangenes het ook op ons predikingswerk gereageer, en in April 1977 het ons saam vergader om die herdenking van Christus se dood te vier (Lukas 22:19). Twee maande later, in Junie 1977, is ek vrygelaat en is ek nie weer gearresteer nie.

Die owerheid het teen daardie tyd verdraagsamer teenoor ons werk geword. Die besoeke van lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het ongetwyfeld grootliks hiertoe bygedra. In 1977 het drie van hulle in verskillende stede met opsieners, pioniers en dié wat al lank Getuies is, gepraat. Die volgende jaar het twee van hulle ’n beleefdheidsbesoek by die Departement van Godsdienssake afgelê. Maar die verbod op ons werk is eers in 1989 opgehef. Op die oomblik is daar ongeveer 124 000 bedrywige Getuies in Pole.

Weens swak gesondheid was Danuta in onlangse jare nie in staat om my te vergesel nie, maar sy wil graag hê dat ek moet aanhou om gemeentes te besoek. Ek sal vir ewig dankbaar wees vir haar versterkende hulp gedurende my gevangenskap.

Die besluit wat ek 50 jaar gelede gemaak het om Jehovah God te dien, was gewis die regte besluit. Ek het groot vreugde daaruit geput om hom heelhartig te dien. Ek en my vrou het inderdaad die woorde in Jesaja 40:29 ervaar: “Hy [Jehovah] gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.”

[Voetnoot]

^ par. 6 Sien bladsye 213-22 van die 1994 Yearbook of Jehovah’s Witnesses.

[Prente op bladsy 20]

Ons het ’n mimeograaf en later ’n Rotaprint-rubberdrukpers gebruik om die publikasies te druk

[Prente op bladsy 21]

Ek en my vrou, Danuta