Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die piramides van Mexiko

Die piramides van Mexiko

Die piramides van Mexiko

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO

VANDAG weet die meeste mense van die piramides van Egipte. In Amerika, en veral in Mexiko, het argeoloë ook baie piramidevormige strukture gevind. Soos die piramides in Egipte is die Mexikaanse piramides baie eeue oud en in geheimsinnigheid gehul.

’n Egiptiese piramide is ’n graf wat deur ’n groot simmetriese hoop stene omsluit is. Gange aan die binnekant lei na die grafkelder, die belangrikste deel van die piramide. Maar die Mexikaanse piramide is ’n groot hoop grond met ’n tempel daarop en ’n trap aan die buitekant wat jou na bo lei. Met ’n paar uitsonderings is die piramides wat in Amerika gevind is nie grafte nie.

Teotihuacán—“Die stad van die gode”

Een van die uitsonderlikste piramides in Mexiko is die een by Teotihuacán. Teotihuacán is ongeveer 50 kilometer noordoos van Mexikostad geleë en is nog steeds ’n raaisel vir antropoloë en argeoloë. Die bouers van hierdie antieke metropolis het die stad meer as 500 jaar voor die verskyning van die Asteekse kultuur verlaat. Die naam Teotihuacán, wat van die Nahuatl-taal kom, beteken “Die stad van die gode” of “Waar mense gode word”. Die Asteke het die naam vermoedelik aan die stad gegee toe hulle dit besoek het.

Een van die redakteurs van die tydskrif National Geographic, George Stuart, verduidelik dat “Teotihuacán die eerste ware stadsentrum in die Westelike Halfrond was . . . Dit het aan die begin van die Christelike era tot stand gekom, ongeveer sewe eeue lank bestaan en toe ’n legende geword. Tydens die hoogtepunt van sy vooruitgang, ongeveer 500 n.C., het dit na raming ’n bevolking van 125 000 tot 200 000 gehad.”

Amper in die middel van die stad staan die groot Piramide van die Son. Dit is ongeveer 220 meter by 225 meter by die basis, en sy vyf terrasse rys op tot by sy huidige hoogte van ongeveer 63 meter. Om die bokant van die piramide te bereik, moet ’n mens meer as 240 trappe klim. Noord van die antieke stad is die Piramide van die Maan, met sy spits 40 meter hoog. Daar was vroeër tempels bo-op hierdie twee hoofpiramides.

In onlangse dekades is baie omtrent hierdie piramides geleer. Maar soos Stuart dit stel, “weet ons nog steeds amper niks oor die herkoms van die Teotihuacános, watter taal hulle gepraat het, hoe hulle gemeenskap georganiseer is en wat tot hulle agteruitgang aanleiding gegee het nie”.

Ander piramides

Reg in die hart van Mexikostad kan ’n mens die Hooftempel van die Asteke besoek. Hoewel daar nie ’n piramide te sien is nie, kan die oorblyfsels van ’n piramidestruktuur wat die basis vir die Hooftempel was nog gesien word. Argeoloë het twee altare opgegrawe waar menseofferandes gebring is.

Die piramides by Chichén Itzá is onder dié in Mexiko wat die meeste besoek word. Daar is baie antieke ruïnes in die Maja-streek, maar hulle is die toeganklikste omdat hulle naby die stad Mérida in Yucatan geleë is. Hoewel dit in Maja-gebied gebou is, toon die strukture dat die Tolteke vroeër invloedryk in hierdie streke was. Party geboue gee ’n mens ’n aanduiding van die gevorderde wiskundige en sterrekundige kennis van die bouers.

In Palenque sal besoekers ’n indrukwekkende Maja-kompleks vind wat deur die Chiapas-oerwoud omsluit word. Tussen die talle piramides en geboue is die Paleis en die Tempel van die Inskripsies. Die Tempel van die Inskripsies “is een van die beroemdste tempels in die hele Mesoamerika omdat dit nie soos al die ander net die basis van ’n tempel was nie, maar ’n grafmonument”, verduidelik die boek The Mayas—3000 Years of Civilization. “Binne-in is daar ’n gewelfde trap wat afloop na die indrukwekkendste grafkelder wat nog in die Maja-gebied gevind is.” Die graf is vir ’n goewerneur gebou wat in die sewende eeu gelewe het—Pakal, of Uoxoc Ahau.

Dit is slegs ’n paar van die piramides in Mexiko. Ander ruïnes en piramides kan in baie plekke regoor die land gevind word. Daar is ook groot piramides in Guatemala en Honduras. Al hierdie antieke strukture toon dat die inwoners van Mesoamerika hoërliggende grond wou hê waarop hulle hulle plekke van aanbidding kon bou. Walter Krickeberg, skrywer van die boek Las Antiguas Culturas Mexicanas, het geskryf: “Die gebruik om tempels op ’n trapvormige basis te bou, kan teruggevoer word tot ’n antieke aanbidding van hoogtes.” Hy voeg by: “Terwyl ons die hemel as ’n ‘gewelf’ beskou, het dit vir ander volke ’n berg verteenwoordig waarlangs die son soggens opgekom en saans ondergegaan het; gevolglik is die hange trapvormig soos dié van ’n enorme gebou. Derhalwe het die ‘nagemaakte berg‘ . . . die vorm van ’n trappepiramide aangeneem en het dit ’n simbool van die hemel onder die talle volke van Mesoamerika geword, soos uit legendes en gebruike afgelei kan word.”

Hierdie idee herinner Bybelstudente dalk aan die Bybelverslag oor die Toring van Babel, wat in ’n stad geleë is wat later Babilon genoem is. Genesis 11:4 sê van die bouers van hierdie toring: “En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ’n stad bou en ’n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ’n naam maak.” Nie ver van die ruïnes van Babilon af nie het argeoloë piramidestrukture gevind wat as ziggoerats bekend staan.

Die vorm van aanbidding wat in Babilon ontstaan het, het na baie wêrelddele versprei en het waarskynlik die gebied bereik wat later as Mexiko bekend geword het. Dit sal nie verbasend wees as die ziggoerats van Babilon sowel as die godsdiens wat daar beoefen is, die modelle was vir die geheimsinnige en indrukwekkende piramides van Mexiko nie.

[Prent op bladsy 16]

Teotihuacán

[Erkenning]

CNCA.-INAH.-MEX Reproducción Autorizada por el Instituto Nacional de Antropología e Historia

[Prent op bladsy 17]

Palenque