Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die aarde—Is dit per toeval “gegrond”?

Die aarde—Is dit per toeval “gegrond”?

 Die aarde—Is dit per toeval “gegrond”?

OM TEMPERATUURUITERSTES te voorkom, moet die aarde op die regte afstand om die son wentel. Daar is al in ander sonnestelsels planete waargeneem wat om sonagtige sterre wentel en blykbaar in die ‘bewoonbare sone’ geleë is—dit wil sê, hulle kan vloeibare water onderhou. Maar selfs hierdie sogenaamde bewoonbare planete kan nog steeds ongeskik vir menselewe wees. Hulle moet ook teen die regte spoed roteer en die regte grootte wees.

As die aarde effens kleiner en ligter was as wat dit is, sou sy gravitasie swakker wees en baie van die aarde se kosbare atmosfeer sou in die ruimte in ontsnap het. Dit kan in die geval van die maan en die twee planete Mercurius en Mars gesien word. Omdat hulle kleiner en ligter as die aarde is, het hulle min of geen atmosfeer nie. Maar sê nou die aarde was effens groter en swaarder as wat dit is?

Dan sou die aarde se gravitasie sterker wees en ligte gasse, soos waterstof en helium, sou langer neem om uit die atmosfeer te ontsnap. “En nog belangriker”, verduidelik die wetenskaphandboek Environment of Life, “die delikate balans tussen die gasse van die atmosfeer sou versteur word.”

Dink net aan suurstof, wat verbranding moontlik maak. As die vlak daarvan met 1 persent sou styg, sou bosbrande meer dikwels uitbreek. Aan die ander kant, as die kweekhuisgas koolstofdioksied bly toeneem, sal ons aarde te warm word.

Die aarde se wentelbaan

Nog ’n ideale kenmerk van die aarde is die vorm van sy wentelbaan. As die wentelbaan meer ellipties was, sou ons ondraaglike temperatuuruiterstes hê. Maar die aarde se wentelbaan is byna sirkelvormig. Die situasie sou natuurlik verander as ’n reuseplaneet soos Jupiter naby ons verbybeweeg het. In onlangse jare het wetenskaplikes bewyse gevind wat toon dat sommige sterre planete so groot soos Jupiter het wat in wentelbane baie na aan hulle beweeg. Baie van hierdie planete het eksentriese wentelbane. Enige planete in sulke stelsels wat so groot soos die Aarde is, sou in die moeilikheid wees.

Die sterrekundige Geoffrey Marcy het hierdie eksterne planeetstelsels met die vier planete  Mercurius, Venus, die Aarde en Mars vergelyk wat ons binnesterrestelsel uitmaak. Marcy het in ’n onderhoud gesê: “Kyk hoe volmaak is hierdie [stelsel]. Dit is soos ’n juweel. Daar is sirkelbane. Hulle is almal op dieselfde vlak. Hulle beweeg almal in dieselfde rigting. . . . Dit is amper te goed om waar te wees.” Kan dit werklik deur die toeval verklaar word?

Ons sonnestelsel het nog ’n verbasende kenmerk. Die reuseplanete Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus wentel om die son op ’n veilige afstand van ons af. Hierdie planete is nie ’n bedreiging nie, maar vervul ’n noodsaaklike rol. Sterrekundiges het hulle al met ‘hemelse stofsuiers’ vergelyk omdat hulle gravitasie groot meteoriete opsuig, wat lewe op die aarde andersins in gevaar sou stel. Ja, die aarde is inderdaad baie goed “gegrond” (Job 38:4). Sy grootte en sy posisie in ons sterrestelsel is net reg. Maar dit is nie al nie. Die aarde het ander unieke kenmerke wat noodsaaklik vir menselewe is.

Suurstof en fotosintese

Suurstofatome maak 63 persent van die gewig van lewende organismes op die aarde uit. Verder beskerm suurstof in die bo-atmosfeer landplante en -diere teen die son se ultraviolet strale. Maar suurstof reageer maklik met ander elemente, soos wanneer dit met yster verbind en roes veroorsaak. Hoe hou die atmosfeer dan die vlak van hierdie hoogs reaktiewe element op 21 persent?

Die antwoord is fotosintese—’n wonderlike proses waardeur die aarde se plantegroei sonlig gebruik om voedsel te maak. ’n Byproduk van fotosintese is suurstof—waarvan meer as ’n miljard ton elke dag in die atmosfeer vrygestel word. “Sonder fotosintese”, verduidelik The New Encyclopædia Britannica, “sal die aarde se basiese voedselvoorraad nie meer aangevul word nie en sal dit uiteindelik heeltemal suurstofloos word.”

In wetenskaphandboeke word etlike bladsye gebruik om al die stappe van die proses wat fotosintese genoem word te verduidelik. Sommige stappe is nog nie heeltemal duidelik nie. Evolusioniste kan nie verduidelik hoe  elke stap uit iets eenvoudigers geëvolueer het nie. Trouens, elke stap lyk onvereenvoudigbaar kompleks. “Daar is geen algemeen aanvaarde beskouing van die oorsprong van fotosintese nie”, erken The New Encyclopædia Britannica. Een evolusionis het die probleem probeer wegpraat deur te sê dat fotosintese deur “’n paar pionierselle uitgevind” is.

Al is daardie woorde onwetenskaplik, openbaar dit iets anders wat ook verbasend is: Fotosintese het selwande nodig waarin die proses veilig kan plaasvind, en die voortsetting van die proses vereis selvoortplanting. Het dit alles net per toeval in ’n paar “pionierselle” plaasgevind?

Van selfvoortplantende sel tot mens

Wat is die moontlikheid dat atome bymekaar sal kom om die eenvoudigste selfvoortplantende sel te vorm? In sy boek A Guided Tour of the Living Cell erken die wetenskaplike Christian de Duve, ’n Nobelpryswenner: “As jy die waarskynlikheid dat ’n bakteriële sel sal ontstaan, gelykstel met die moontlikheid dat sy samestellende atome vanself bymekaar sal kom, sal selfs die ewigheid nie genoeg wees om een vir jou voort te bring nie.”

Noudat ons sover gekom het, kom ons neem ’n reusesprong van een bakteriële sel na die miljarde gespesialiseerde senuselle waaruit die mensebrein bestaan. Wetenskaplikes beskryf die mensebrein as die ingewikkeldste fisiese struktuur in die bekende heelal. Dit is werklik uniek. Groot dele van die mensebrein word byvoorbeeld assosiasiegebiede genoem. Hierdie gebiede ontleed en vertolk inligting wat van die sensoriese deel van die brein kom. Een van die assosiasiegebiede agter jou voorkop stel jou in staat om oor die wonders van die heelal te dink. Kan toevallige prosesse werklik die bestaan van hierdie assosiasiegebiede verklaar? “Ekwivalente van belangrike dele van hierdie gebiede word nie in enige ander dier gevind nie”, erken die evolusionis dr. Sherwin Nuland in sy boek The Wisdom of the Body.

Wetenskaplikes het bewys dat die mensebrein inligting baie vinniger as die kragtigste rekenaar verwerk. Hou in gedagte dat moderne rekenaartegnologie die gevolg van dekades se werk deur mense is. Wat van die voortrefliker mensebrein? Twee wetenskaplikes, John Barrow en Frank Tipler, erken die volgende in hulle boek The Anthropic Cosmological Principle: “’n Algemene eenstemmigheid het onder evolusioniste ontwikkel dat die evolusie van intelligente lewe, met ’n inligtingverwerkingsvermoë soos dié van Homo sapiens, so onwaarskynlik is dat dit waarskynlik nie op enige ander planeet in die hele sigbare heelal kon gebeur het nie.” Hierdie wetenskaplikes het tot die slotsom gekom dat ons bestaan “’n uiters gelukkige ongeluk” is.

Het dit alles per toeval gebeur?

Wat is jou gevolgtrekking? Kon die heelal met al sy wonders werklik per toeval ontstaan het? Stem jy nie saam dat elke pragtige musiekstuk ’n komponis moet hê en dat die instrumente fyn ingestel moet wees sodat dit mooi kan klink nie? Wat van ons ontsagwekkende heelal? “Ons lewe in ’n uiters fyn ingestelde heelal”, sê die wiskundige en sterrekundige David Block. Tot watter gevolgtrekking het hy gekom? “Ons heelal is ’n tuiste. Ontwerp, glo ek, deur die hand van God.”

As dit jou gevolgtrekking is, dan sal jy ongetwyfeld met die Bybel se beskrywing van die Skepper, Jehovah, saamstem: “Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand.”—Jeremia 51:15.

[Venster/Prente op bladsy 8, 9]

’N SPESIALE PLANEET

“Die spesiale toestande op die aarde as gevolg van sy ideale grootte, elementsamestelling en feitlik sirkelvormige wentelbaan op ’n volmaakte afstand van ’n langlewende ster, die son, het die versameling van water op die aarde se oppervlak moontlik gemaak. Dit is moeilik om jou selfs voor te stel dat lewe sonder water ontstaan het.”—Integrated Principles of Zoology, Sixth Edition.

[Erkenning]

NASA photo

 [Venster/Prente op bladsy 10]

LEWE—HET DIT PER TOEVAL ONTSTAAN?

In 1988 is ’n boek wat probeer verduidelik hoe lewe per toeval kon ontstaan het, geresenseer in die tydskrif Search, wat deur die Australiese en Nieu-Seelandse Vereniging vir die Bevordering van die Wetenskap uitgegee word. Op net een bladsy van die boek het die wetenskapskrywer L. A. Bennett “16 hoogs spekulatiewe verklarings [gevind], waarvan elkeen van die vorige verklaring afhanklik is vir geloofwaardigheid”. Wat was Bennett se gevolgtrekking nadat hy die hele boek gelees het? “Dit is baie makliker”, het hy geskryf, “om te aanvaar dat ’n liefdevolle Skepper lewe oombliklik geskep het en dit langs sy teleologiese [doelbewuste] weë gelei het . . . as om die tallose ‘blinde ongelukke’ te aanvaar wat nodig is om die skrywer se tesis te bevestig.”

[Prente]

Fotosintese is noodsaaklik vir voedselver-vaardiging en die suurstofkringloop

Hoe verklaar ’n mens die aarde se ideale kenmerke wat nodig is om lewe te onderhou?

Wetenskaplikes beskryf die mensebrein as die ingewikkeldste fisiese struktuur in die heelal. Hoe kon dit per toeval ontwikkel het?

[Erkennings]

Foto: Zoo de la Casa de Campo, Madrid

Monte Costa, Sea Life Park Hawaii

[Prente op bladsy 8, 9]

Grootte van planete op skaal uitgebeeld

Son

Mercurius

Venus

Aarde

Mars

Jupiter

Saturnus

Uranus

Neptunus

Pluto

[Erkennings]

Son: National Optical Astronomy Observatories; Mercurius, Jupiter en Saturnus: Courtesy of NASA/JPL/Caltech/USGS; Venus en Uranus: Courtesy of NASA/JPL/Caltech; Aarde: NASA photo; Mars: NASA/JPL; Neptunus: JPL; Pluto: A. Stern (SwRI), M. Buie (Lowell Obs.), NASA, ESA