Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Graffitivrye Parys?

“Die taakspan is indrukwekkend”, sê die Franse koerant Le Figaro. Daar is “17 toegeruste paneelwaens, 7 minibusse wat spesifiek gebruik word om graffiti te bestry, twaalf bromponies en ongeveer 130 werkers wat bygestaan word deur 16 verkenners wie se werk dit is om graffiti op te spoor”. Die oogmerk van Parys se nuwe antigraffiti-afdeling is om binne ’n jaar 90 persent van Parys se graffiti van mure en luike te verwyder—na raming is daar “200 000 vierkante meter [graffiti] op munisipale en openbare geboue en 240 000 vierkante meter [graffiti] op privaat mure”. As die stad sy doel bereik, sal net 24 000 vierkante meter graffiti teen Februarie 2001 op privaat geboue oorbly, en “enige nuwe graffiti behoort te verdwyn binne 12 dae nadat dit opgespoor is”. Die skoonmaakprojek sal na verwagting altesaam 480 miljoen Franse frank (R506 miljoen) kos.

Ewe veel oorvoed as ondervoed

“Die aantal oorgewig mense in die wêreld is nou gelyk aan die aantal honger, ondervoede mense”, sê The New York Times, wat kommentaar gelewer het oor ’n studie deur die Worldwatch-instituut. Ongeveer 1,2 miljard is ondervoed en honger, en ’n gelyke aantal of meer eet nou te veel. Wêreldwyd is meer mense as ooit tevore ondervoed, en die aantal mense wat ondervoed en oorvoed is, neem in alle gemeenskappe toe. “Ons het ’n lewenswyse geskep waarin ons so min fisiese werk doen dat die kalorieë wat ons inneem baie meer is as die kalorieë wat ons gebruik, en daardie ekstra kalorieë word in vet omgesit”, het Lester R. Brown, president van Worldwatch, oor die toenemende aantal oorgewig mense gesê. “Verlede jaar was daar 400 000 vetafsuigingoperasies in [die Verenigde State]. Dit toon hoe die balans versteur is.”

Amerikaners het die meeste troeteldiere

Van die wêreld se 500 miljoen troeteldiere is ongeveer 40 persent daarvan in die Verenigde State. “Byna 60 persent van die land se huisgesinne het ten minste een van 70 miljoen katte, 56 miljoen honde, 40 miljoen voëls, 100 miljoen vissies, 13 miljoen marmotte en ander klein soogdiere, asook 8 miljoen reptiele”, berig National Geographic. Brittanje het die tweede meeste troeteldiereienaars—meestal katte en honde. “Maar daar is 21 miljoen vissies in Frankryk, meer as katte en honde saam”, sê die tydskrif.

Japan se Hooggeregshof lewer uitspraak ten gunste van Getuie

Japan se Hooggeregshof het beslis dat “chirurge ’n vrou se selfbeskikkingsreg geskend het toe hulle haar tydens ’n operasie ’n bloedoortapping gegee het en sodoende hulle belofte gebreek het om dit nie te doen nie, al het dit beteken dat sy sou sterf”, sê die koerant die Daily Yomiuri. “Dit was die eerste keer dat die Hooggeregshof beslis het dat ’n pasiënt se reg om besluite in verband met haar behandeling te neem ’n mensereg is.” Misae Takeda, een van Jehovah se Getuies, is in 1992 die oortapping gegee terwyl sy nog onder verdowing was ná ’n operasie om ’n kwaadaardige lewergewas te verwyder. Die vier regters van die Hooggeregshof het eenparig beslis dat die dokters verkeerd opgetree het omdat hulle nie aan haar verduidelik het dat hulle haar dalk ’n bloedoortapping sou gee as hulle dit tydens die operasie nodig geag het nie en hulle haar sodoende haar reg ontneem het om te besluit of sy die operasie wou ondergaan of nie. Die beslissing van 29 Februarie 2000 het gesê: “Wanneer ’n pasiënt weier om ’n oortapping te aanvaar weens sy of haar godsdiensoortuiging, moet so ’n wens gerespekteer word.” Familielede het die hofsaak voortgesit nadat Misae in 1997 gesterf het.—Sien asseblief Die Wagtoring van 15 Desember 1998, bladsye 26-9, vir besonderhede.

Hoe die aarde se spesies gered kan word

“Dit is nie ’n oorweldigende taak om ’n groot deel van die wêreld se spesies van uitsterwing te red nie”, sê die Daily News, ’n koerant van die stad New York. “Wetenskaplikes wat die aarde se krimpende wildernisse ondersoek het, het tot ’n verbasende slotsom gekom: Meer as ’n derde van die planeet se plant- en diersoorte lewe uitsluitlik op slegs 1,4% van die landoppervlakte.” Die navorsers stel voor dat meer gedoen word om 25 spesieryke gebiede in plekke soos Brasilië, Madagaskar, Borneo, Sumatra, die tropiese Andes en die Karibiese Eilande te beskerm. Die meeste van die gebiede is tropiese reënwoude. “As ’n paar honderdmiljoen dollar per jaar vir hierdie teikengebiede opsy gesit word, kan ons heelwat doen om te verseker dat die volle verskeidenheid van lewe op die aarde bewaar word”, het Russell Mittermeier, president van Conservation International gesê. Hoewel sowat 38 persent van hierdie gebiede reeds volgens wet beskerm word, is dit meestal net op papier, aangesien mynbou, weiding en houtkappery voortduur.

Tekort aan geestelikes neem toe

’n “Tekort aan geestelikes” het van plattelandse gebiede in die Verenigde State na die groot stede versprei, sê The New York Times. Die artikel het die voorbeeld van ’n 110 jaar oue sinagoge genoem wat meer as drie jaar tevergeefs probeer het om ’n rabbi te kry en gesê: “Die tempel se verknorsing is nie ongewoon nie. Dit is nie net sinagoges wat dit al hoe moeiliker vind om geestelikes aan te stel nie, maar ook Rooms-Katolieke en Protestantse kerke.” Van 1992 tot 1997 het die aantal pastore met 12 persent afgeneem. ’n Woordvoerder vir die Episkopale Kerk beskryf hulle situasie as ernstig, aangesien minder as 300 van hulle 15 000 geestelikes ná 1964 gebore is. Meer as 22 persent van die gemeentes in die Hervormde Judaïsme het nie ’n voltydse rabbi nie. Net vyf jaar gelede was daar meer rabbi’s as sinagoges. Party geestelikes skryf die tekort toe aan ’n “sterk ekonomie” waarin mense “deur lonender loopbane aangetrek word”. Ander sê dit is omdat die bediening “al hoe minder byval vind” by mense. Rabbi Sheldon Zimmerman, president van die Hebreeuse Unie-kollege, waarsku: “Tensy ons op die een of ander manier meer mense kry om godsdiens hulle beroep te maak, sal dit uiteindelik ’n ramp vir georganiseerde godsdienslewe wees.”

Borsel jou tande versigtig

“Dit is moontlik om jou tande te veel te borsel”, sê ’n verslag in The Wall Street Journal. “Die probleem staan algemeen bekend as ‘tandeborselafslyting’, en dit kan sensitiewe tande, tandvleisterugtrekking en slytasie om die tandwortel veroorsaak.” Na raming het 10 tot 20 persent van die Amerikaanse bevolking “hulle tande of tandvleis beskadig omdat hulle hulle tande te veel borsel”. Mense wat hulle tande deeglik borsel en diegene wat harder tandeborsels gebruik, loop die grootste gevaar. “Hulle doen op die ou end meer skade omdat hulle deeglik wil wees”, sê die tandarts Milan SeGall. Sommige mense is geneties vatbaarder vir die probleem omdat hulle met minder been om hulle tande gebore is. Mense wat hulle tande deur tandedraadjies laat reguit maak of laat skuif het en diegene wat op hulle tande kners of hulle tande klem, is ook vatbaar. Om skade te voorkom, raai die kenners die volgende aan: Gebruik ’n sagte tandeborsel. Borsel eers die agterste tande, want aan die begin is selfs sagte tandeborsels effens ferm en veroorsaak tandepasta meer afslyting. Hou die tandeborsel liggies met net ’n paar vingers vas en nie met jou hele hand nie. Hou die tandeborsel teen ’n hoek van 45 grade met die tandvleis, en borsel liggies in ’n elliptiese beweging en moenie vorentoe en agtertoe saag nie.

Die Skewe Toring van Pisa effens gelig

Volgens ’n berig van The Associated Press het die werk om die Skewe Toring van Pisa meer regop te lig in net die eerste drie maande van die jaar ’n verbetering van vyf sentimeter tot gevolg gehad. Ingenieurs meen dat dit teen Junie 2001 stabiel genoeg sal wees om vir die publiek oopgestel te word. Die 12de-eeuse toring is meer as tien jaar laas deur toeriste geklim, toe sy helling as gevaarlik beskou is en daar aan werk begin is om dit meer regop te lig. Die werk is nou in sy laaste fase, en daar word voorspel dat die toring met tot 50 sentimeter minder sal oorhel wanneer die werk voltooi is. Voordat dit weer oopgestel word, sal die 800 ton loodteenwigte wat gedurende die projek by die basis van die toring geplaas is en die tien staalringe wat om die toring gesit is om dit te versterk, verwyder word.

Nog voordele van borsvoeding

“Behalwe dat dit jou pasgebore baba met beskermende teenliggaampies teen diarree, oorinfeksies en allergieë voorsien, voorkom borsmelk moontlik ook kanker”, sê die tydskrif Parents. ’n Studie deur die Kankersentrum van die Universiteit van Minnesota het gevind dat babas wat geborsvoed is ’n kleiner gevaar loop om leukemie—die algemeenste vorm van kanker onder kinders—te ontwikkel as babas wat met ’n bottel gevoed is. Babas wat vir ten minste ’n maand geborsvoed is, het ’n 21 persent laer risiko gehad, wat tot 30 persent toegeneem het vir babas wat vir ses maande of langer geborsvoed is.