Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Suikerriet—’n reus onder die grasse

Suikerriet—’n reus onder die grasse

 Suikerriet—’n reus onder die grasse

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

WAT sal ons sonder suiker doen? Dit sal ’n oordrywing wees om te sê dat die wêreld tot stilstand sal kom—maar baie mense se dieet sal drasties moet verander as daar nie meer suiker was nie. Ja, vandag het suikerinname in die meeste wêrelddele ’n deel van die daaglikse lewe geword, sodat suikerproduksie ’n wêreldwye bedryf geword het.

Miljoene mense, van Kuba tot Indië en van Brasilië tot Afrika, verbou en oes suikerriet. Trouens, suikerproduksie was ’n tyd lank die wêreld se grootste en winsgewendste bedryf. Daar kan gesê word dat suikerriet ’n invloed op die wêreld gehad het soos min ander plante.

Sal jy graag meer oor hierdie merkwaardige plant wil leer? Kom dan saam met ons na ’n streek in Queensland, Australië, waar suikerriet verbou word. Hoewel hierdie gebied slegs ’n klein suikerrietprodusent is, het doeltreffende boerdery- en verwerkingsmetodes dit een van die wêreld se voorste uitvoerders van ru-suiker gemaak.

’n Besoek aan die suikerrietgebied

Die lug is warm en bedompig. Die tropiese son bak op ’n veld van ryp suikerriet. ’n Groot masjien wat soos ’n koringstroper lyk, beweeg stadig deur die hoë suikerriet en kap die stingels af, en stort dan die gekapte riet in ’n sleepwa wat langs die stroper beweeg. Suikersap drup na ’n rukkie uit die afgekapte riet, en ’n soet, swaar reuk hang in die lug. Die kosbare sap van hierdie merkwaardige gras het sy reis van die veld na die suikerpotjie op jou tafel begin.

Nie te lank gelede nie is suikerriet hier in Australië met moeite met die hand afgekap, soos dit nog in baie lande gedoen word waar suikerriet verbou word. Stel jou die toneel voor. Werkers kap die suikerriet met die hand af. ’n Ry swetende suikerrietkappers beweeg stadig deur die suikerrietveld. Die werkers neem met amper militêre presisie bondels regop suikerrietstingels met een hand en trek dan die stingels stewig eenkant toe om hulle gemeenskaplike basis oop te maak. Suis, kap! Suis, kap! Met kragtige houe kap werkers die stingels na aan die grond met kapmesse af. Hulle gooi die stingels eenkant in netjiese rye en beweeg dan verder na die volgende stoel, of bondel, suikerriete. Hierdie situasie is wêreldwyd geleidelik aan die verander namate meganisasie nou in al hoe meer lande plaasvind.

Australië se suikerrietgebied bestaan hoofsaaklik uit ’n kusstrook van ongeveer 2 100 kilometer in lengte, wat grotendeels parallel  loop met die bekende Groot Barrière-rif. (Sien die artikel “’n Besoek aan die Groot Barrière-rif” in die Ontwaak! van 8 Junie 1991.) Die heeljaarse warm, klam klimaat hier laat die suikerriet floreer, en ongeveer 6 500 kwekers woon hoofsaaklik op klein familieplase, wat langs die kus versprei lê soos trossies druiwe aan ’n wingerd.

Ná ’n lang rit sien ons in die verte die suikerstad Bundaberg, aan Queensland se sentrale kus. Wanneer ons teen ’n klein heuwel afgaan, word ons deur ’n asemrowende panorama begroet—sover as wat die oog kan sien, is ’n see van golwende suikerriet! En watter verskeidenheid in kleur! Die verskillende suikerrietvelde is op verskillende stadiums van rypheid, daarom vorm hulle ’n lappieswerkmosaïek van helder skakerings van groen en goud, met klein lappies sjokoladebruin op plekke wat hierdie jaar braak gelê het of onlangs skoongemaak is.

Julie is die koelste maand van die jaar, en die oes- en persseisoen het net begin. Dit sal tot Desember voortduur terwyl die gewas in verskillende stadiums ryp word. Nou is ons gretig om ’n suikermeul te besoek om te sien wat met die geoeste suikerriet gebeur. Maar ons word aangeraai om eers iets oor suikerriet self te leer voordat ons dit doen. Ons besluit dus om eerstens ’n suikernavorsingstasie in die gebied te besoek. Hier ontwikkel wetenskaplikes nuwe suikerrietsoorte en doen hulle navorsing om suikerrietverbouing en -produksie te verbeter.

Oorsprong en verbouing

By die suikernavorsingstasie vertel ’n behulpsame landboukundige ons met graagte van suikerriet en verduidelik hy aan ons hoe dit verbou word. Suikerriet is oorspronklik in die reënwoude van Suidoos-Asië en Nieu-Guinee gevind en is ’n reusagtige lid van die grasfamilie, wat ’n groot verskeidenheid plante insluit, soos tuingras, graansoorte en houtagtige bamboes. Al hierdie plante vervaardig suiker in hulle blare deur middel van fotosintese. Maar suikerriet is anders in die sin dat dit groot hoeveelhede daarvan vervaardig en die suiker dan as soet sap in sy veselagtige stingels berg.

Suikerrietverbouing was baie algemeen in eertydse Indië. In 327 v.G.J. het skrywers in Aleksander die Grote se invallende leërs opgemerk dat die inwoners “’n wonderlike riet gekou het wat ’n soort heuning sonder die hulp van bye vervaardig het”. Namate die verkenning en ontwikkeling van die wêreld in die 15de eeu momentum gekry het, het suikerrietproduksie soos ’n veldbrand versprei. Vandag is daar duisende suikerrietsoorte, en meer as 80 lande dra by tot ’n jaarlikse oes van ongeveer eenmiljard ton.

In die meeste wêrelddele is dit ’n baie arbeidsintensiewe werk om suikerriet te plant. Volwasse suikerrietstingels word in steggies van ongeveer 40 sentimeter opgesny en word  in vore geplant wat ongeveer 1,5 meter uit mekaar is. Elke steggie groei tot ’n stoel van ongeveer 8 tot 12 suikerrietstingels, wat oor ’n tydperk van tussen 12 en 16 maande ryp word. Wanneer ’n mens deur ’n digte veld van ryp suikerriet loop, kan dit ’n angswekkende ondervinding wees. Suikerrietstingels en digte blare toring uit tot ’n hoogte van tot vier meter. Is daardie geritsel daar anderkant net die wind, of is dit miskien ’n slang of ’n rot? Net ingeval, miskien is dit tyd om terug te keer na die veiligheid van oop grond!

Navorsing word gedoen om maniere te vind om rietplae en -siektes te bestry. Baie van hierdie pogings het ’n mate van sukses behaal, maar nie almal nie. In 1935 het die owerheid byvoorbeeld die Hawaise rietpadda na noordelike Queensland gebring in ’n poging om die lastige rietkewer uit te wis. Ongelukkig het die rietpadda ander kos wat volop was bo die rietkewer verkies, vinnig aangeteel en self ’n groot plaag in die hele noordoostelike Australië geword.

Julle brand voordat julle oes?

Later, nadat die son ondergegaan het, kyk ons in verbasing hoe ’n plaaslike boer sy ryp suikerrietoes aan die brand steek. Binne sekondes word die klein veld deur ’n verwoestende brand verswelg met vlamme wat hoog in die naghemel opskiet. Wanneer die suikerriet gebrand word, help dit om onnodige blare en ander materiaal te verwyder wat die oeswerk en verwerking bemoeilik. Maar in onlangse tye is daar ’n groeiende neiging om sonder die skouspelagtige brandproses te oes. Hierdie metode word groensuikerrietinsameling genoem. Dit verbeter nie net die suikeroes nie, maar dit laat ook ’n beskermende blaarkombers op die grond agter wat help om gronderosie en onkruid te bestry.

Hoewel die oes in baie lande waar suikerriet verbou word nog steeds met die hand ingesamel word, gebruik meer lande nou groot masjiene wat suikerriet sny. Hierdie enorme masjiene sny ’n pad deur die hoë suikerriet terwyl dit die stingels se toppe afkap en die blare afstroop en die stingels dan outomaties in korter stukke kap sodat dit gereed is om by die meul verwerk te word. Terwyl een suikerrietsnyer gemiddeld 5 ton suikerriet per dag met die arbeidsintensiewe kapmesmetode kan oes, kan masjiene maklik tot 300 ton per dag verwerk. Die suikerriet kan elke jaar vir etlike jare gesny  word voordat die suikerproduksie verminder en die plante vervang moet word.

Nadat die suikerriet gesny is, moet dit vinnig verwerk word, want die suikergehalte in geoeste suikerriet verswak vinnig. Om die suikerriet vinnig na die meule te kan vervoer, is daar ’n smalspoor-tremstelsel van ongeveer 4 100 kilometer wat die suikerrietproduserende gebiede in Queensland bedien. Die klein lokomotiewe wat op hierdie spore loop, is ’n kleurvolle gesig wanneer hulle deur die platteland reis en tientalle waens sleep wat tot oorlopens toe vol suikerriet is.

Deur die meul

’n Toer van ’n suikermeul is ’n interessante ondervinding. Die heel eerste ding wat ’n mens opval, is rye suikerrietwaens wat wag om leeggemaak te word. Groot kapmesse en rollers kap die suikerriet in stukke en pers die suikersap uit die vesel. Die oorblywende vesel, of bagasse, word gedroog en as brandstof gebruik om die hele meul van krag te voorsien. Wat dan nog oorbly, word aan vervaardigers van papier en boumateriaal verkoop vir gebruik in hulle produkte.

Die onsuiwerhede in die suikersap word dan verwyder, wat ’n verhelderde vloeistof agterlaat. Die herwonne onsuiwerhede, wat modder genoem word, word in kunsmis gebruik. ’n Ander byproduk, melasse, word as veevoer of as ’n grondstof in die distillasie van rum en nywerheidsalkohol gebruik. Die veelsydigheid van suikerriet en die doeltreffendheid van die meulproses is beslis indrukwekkend.

Die vloeistof word dan gekook totdat die surpluswater verdamp het en ’n stroop vorm, wat met klein suikerkristalle bestrooi word. Hierdie kristalle groei totdat hulle die vereiste grootte bereik. Hulle word dan uit die mengsel verwyder en gedroog. Die resultaat is ru-bruinsuiker. As dit verder verfyn word, sal dit hierdie ru-suiker in die bekende fyn witsuiker verander wat soveel mense op hulle etenstafels het.

Miskien sal jou tee of koffie bietjie soeter proe ná hierdie fassinerende en insiggewende toer van die suikerrietgebied. As jy ’n diabeet is, sal jy dalk natuurlik sonder suiker moet klaarkom en kunsmatige versoeters moet gebruik.

Ons was beslis beïndruk deur die veelsydigheid en vindingrykheid van die Een wat hierdie verbasende plant, die suikerriet—waarlik ’n reus onder die grasse—ontwerp het en dit so laat floreer het!

[Venster op bladsy 22]

Is dit beetsuiker of rietsuiker?

Suiker word van twee vername wêreldoeste vervaardig. Suikerriet word hoofsaaklik in tropiese gebiede verbou en maak ten minste 65 persent van die wêreld se suikerproduksie uit. Die oorblywende 35 persent kom van suikerbeet, wat in kouer klimate, soos Oos- en Wes-Europa en Noord-Amerika, verbou word. Die suikers se chemiese samestelling is identies.

[Prent op bladsy 23]

Suikerriet word voor die oes gebrand

[Prent op bladsy 23]

Suikeroesmasjien. Die trekker met ’n sleepwa

[Foto-erkenning op bladsy 21]

Alle foto’s op bladsye 21-4: Queensland Sugar Corporation