Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

 Ons beskou die wêreld

Lewe vir die millennium

“Dit is ’n redelik goed bevestigde feit dat mense wat ernstig siek is aan die lewe sal vasklou om belangrike mylpale te bereik”, sê Richard Suzman van die Nasionale Instituut van Veroudering, in Bethesda, Maryland, VSA. “Ons weet nie presies hoe dit werk nie, maar dit gebeur beslis.” Meer as die gemiddelde aantal mense, wat blykbaar vasbeslote was om die jaar 2000 te sien, het gedurende die eerste week van die nuwe jaar gesterf, berig The Guardian van Londen. In Brittanje het 65 persent meer mense daardie week gesterf, en in New York-stad het die sterftesyfer met meer as 50 persent gestyg, in vergelyking met die eerste week van 1999. Robert Butler, die voorsitter van die Internasionale Sentrum vir Langlewendheid, het gesê dat hierdie syfers weerspieël wat regoor die wêreld plaasgevind het. Hy het bygevoeg: “Die wil om te lewe, kan baie sterk wees.”

Navigasie met rekenaars

Danksy elektroniese tegnologie sal skepe dalk nie meer hope papierkaarte vir navigasie nodig hê nie, sê The Daily Telegraph van Londen. In November 1999 het die Internasionale Maritieme Organisasie, deur die Duitse kantoor vir seekaartmakery, vir die eerste keer toestemming gegee vir ’n ten volle gerekenariseerde skeepsnavigasiestelsel. In plaas van papierkaarte voorsien die rekenaar twee elektroniese weergawes—’n geskandeerde reproduksie van die papierkaart en ’n digitale weergawe wat as ’n vektorkaart bekend staan. ’n Belangrike voordeel van die elektroniese kaart is dat dit te alle tye die skip se ware ligging aandui. En deur ’n radarkaart oor die rekenaarskerm te plaas, kan navigasie-offisiere dit as ’n bykomende kontrole gebruik om gevare op hulle roete na te gaan. Een skeepskaptein, wat opgewonde is oor hierdie ontwikkeling, het gesê: “Dit verlig ons las . . . sodat ons meer aandag kan gee aan loodsing, die beweging van verkeer, ander skepe en, wanneer ons ’n hawe nader, wat ons loods doen.”

Buiteaardse wesens onwaarskynlik

“In die afgelope paar dekades het ’n groeiende aantal sterrekundiges die beskouing bevorder dat buiteaardse beskawings waarskynlik tussen die sterre verstrooi is”, sê The New York Times. “Hierdie geloof in buiteaardse wesens het nie net aanleiding gegee tot tallose boeke, rolprente en televisieprogramme nie . . . , maar ook tot ’n lang wetenskaplike soektog wat gebruik maak van groot skottelantennas wat die hemel deursoek vir dowwe radioseine van intelligente buiteaardse wesens.” Daardie soektog sal waarskynlik misluk, sê twee vooraanstaande wetenskaplikes, dr. Peter D. Ward en dr. Donald C. Brownlee, skrywers van die boek Rare Earth. Nuwe bevindings in sterrekunde, paleontologie en geologie, sê hulle, toon “dat die Aarde se samestelling en stabiliteit buitengewoon seldsaam is” en dat toestande op ander plekke ongeskik vir komplekse lewensvorme is. “Ons het uiteindelik hardop gesê wat soveel mense al so lankal dink—dat komplekse lewe ten minste skaars is”, sê dr. Ward. Dr. Brownlee voeg by: “Mense sê die Son is ’n tipiese ster. Dis nie waar nie. Byna alle omgewings in die heelal is uiters ongeskik vir lewe. Dit is slegs ‘Tuin van Eden’-plekke soos die Aarde waar dit kan bestaan.”

Bybel in meer tale vertaal

“Die Bybel is nog steeds die mees vertaalde boek ter wêreld”, sê die Mexikaanse koerant Excelsior. Volgens die Duitse Bybelgenootskap is die Bybel in 1999 in nog 21 tale vertaal, wat beteken dat dit nou ten dele in ten minste 2 233 tale beskikbaar is. Hiervan is “die Ou Testament en die Nuwe Testament in hulle geheel in 371 tale vertaal, 5 meer as in 1998”. Waar word al hierdie tale gepraat? “Die grootste verskeidenheid vertalings word in Afrika gevind, met 627, gevolg deur Asië, met 553, Australië/Pasifiese streek, met 396, Latyns-Amerika/Karibiese Eilande, met 384, Europa, met 197, en die Verenigde State, met 73”, sê die koerant. Tog is “die Bybel nie eers in die helfte van die tale vertaal wat op die aarde gepraat word nie”. Waarom nie? Omdat betreklik min mense daardie tale praat, en dit is ’n uitdaging om die Bybel daarin te vertaal. Baie mense is ook tweetalig, en as die Bybel nie in een van hulle tale gedruk is nie, kan hulle dit in ’n ander taal lees.

 Gestorte ammunisie

Italiaanse vissermanne het onlangs vangste gehad wat hulle sou verkies het om nie te hê nie—chemiese wapens. Volgens Valerio Calzolaio, ondersekretaris van die Italiaanse Departement van Omgewingsake, “was dit van 1946 tot die ’70’s . . . die gebruik om van verouderde ammunisie ontslae te raak deur dit in die see te stort”. Na raming is daar ongeveer 20 000 bomme op die bodem van die Adriatiese See, naby die ooskus van Italië. Teen 1997 het 5 Italiaanse vissermanne gesterf, en 236 moes in hospitale opgeneem word weens blootstelling aan dodelike chemiese stowwe wat uit verroeste ammunisie gelek het wat hulle in hulle nette opgetrek het. Wat tot die probleem bydra, is dat vegvliegtuie gedurende die onlangse Balkan-oorlog ’n onbekende aantal bomme in dieselfde waters gegooi het, en party daarvan is alreeds in visnette “gevang”. Dit is nie net die Italiaanse waters wat hierdeur geraak word nie. Volgens skatting lê daar 100 000 ton chemiese wapens op die bodem van die Baltiese See, en soortgelyke stortterreine bestaan in die kuswaters van Japan, die Verenigde State en Groot-Brittanje.

Vergrote syfers

“Moenie altyd glo wat jy in die koerante lees nie”, sê The Economist. Joernaliste “is nie onfeilbaar akkuraat nie”. Dit is veral waar wanneer statistiek ter sprake is, veral in verband met rampe. Waarom? “In die verwarring van oorlog, of rampe in vredestyd, is dit natuurlik onmoontlik om vir seker te weet hoeveel mense gesterf het of beseer is”, sê die artikel. Om mense se nuuskierigheid te bevredig, skat joernaliste, en dikwels hoog ook, en “hulle verklein hulle skattings baie selde met verloop van tyd”. Die rede? “Almal wil iets bevorder: Joernaliste hulle berigte, redakteurs hulle koerante, noodlenigingswerkers hulle agentskappe. Selfs staatsamptenare wil dalk simpatie uitlok.” Die tydskrif beveel aan dat lesers “versigtig moet wees—vir valse inligting, voor die hand liggende oordrywings en die volgehoue neiging onder joernaliste om te oordryf”. Dit voeg by: “Ongeag die mag van die pers oor die algemeen, wat die doodmaak van mense betref, is die pen beslis magtiger as die swaard.”

Wees versigtig met troeteldiere

Volgens die Franse dagblad Le Monde het 52 persent van huishoudings in Frankryk troeteldiere. Maar ’n onlangse studie deur ’n groep veeartse by die Instituut vir Vergelykende Diere-immunologie, in Maisons-Alfort, Frankryk, toon dat Frankryk se 8,4 miljoen katte en 7,9 miljoen honde swamme en parasiete het wat vir verskillende siektes onder troeteldiereienaars verantwoordelik is. Dit sluit omlope, rondewurms, jeuksiekte, leishmaniase en toksoplasmose in. Laasgenoemde siekte kan miskrame of misvorming van fetusse by swanger vroue veroorsaak. Die verslag noem ook die talle allergiese reaksies wat deur huisdiere aangebring word en die infeksies wat veroorsaak word deur hondebyt—ongeveer 10 000 per jaar in Frankryk.

Mond-ekosisteem

“Wetenskaplikes by die Stanford-universiteit het 37 nuwe en unieke organismes in een van die uiteenlopendste ekosisteme op aarde ontdek: die mens se mond”, berig The Toronto Star. Dit verhoog die aantal mondbakterieë waarvan ons weet tot meer as 500, “’n diversiteit so groot dat dit moontlik die diversiteit van die tropiese reënwoud ewenaar, wat dikwels as die toppunt van biologiese oorvloed beskou word”. Is die bakterieë skadelik? Ná die ontdekking van die nuwe organismes in mondplaak het die mikrobioloog dr. David Relman gesê: “Sulke diversiteit is baie gerusstellend, want dit voorsien biologiese stabiliteit en beskerming.” Die Star voeg by dat die meeste soorte bakterieë ’n mens “vermoedelik goed laat voel en beskerming en voeding voorsien”. Slegs ’n paar veroorsaak probleme soos tandbederf, tandvleissiektes en ’n slegte asem.

Oorloë aan die toeneem

In 1999 het “die aantal oorloë verder toegeneem”, berig die Duitse koerant Siegener Zeitung. Die Studiegroep vir Navorsing oor die Oorsake van Oorlog, by die Universiteit van Hamburg, het 35 gewapende konflikte in 1999 getel, 3 meer as die vorige jaar. Van hulle was 14 in Afrika, 12 in Asië en een in Europa, en die ander was in die Midde-Ooste en Latyns-Amerika. Die einde van oorlogvoering is nie in sig nie, het die studiegroep gesê. Trouens, “agt oorloë het vir die eerste keer op hierdie jaar se lys verskyn, onder meer die gewelddadige konflikte in Tsjetsjnja, Nepal, Kirgizstan en Nigerië”. Een rede is dat party oorsake van konflikte lank onder die oppervlak kan broei voordat dit in ’n gewapende konflik of volskaalse oorlog uitbreek.