Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Liggaamsversiering—Waarom redelikheid belangrik is

Liggaamsversiering—Waarom redelikheid belangrik is

 Die Bybel se beskouing

Liggaamsversiering—Waarom redelikheid belangrik is

“YDELHEID is die dryfsand van die rede”, het ’n Franse romanskrywer geskryf. Die rede, of gesonde verstand, het beslis min te doen gehad met alles wat mense hulleself deur die eeue heen aangedoen het as gevolg van hulle ydelheid. In ’n poging om die kleinste moontlike middeltjie te hê, het 19de-eeuse vroue byvoorbeeld hulle onderlyf so styf in korsette ingegord dat hulle beswaarlik kon asemhaal. Party het gesê dat hulle middellyf maar net 33 sentimeter was. Party vroue se korsette het hulle so styf ingegord dat hulle ribbebene in hulle lewer ingedruk het, wat die dood veroorsaak het.

Hoewel daardie modegier gelukkig uitgesterf het, is die ydelheid wat dit veroorsaak het vandag nog net soveel ’n werklikheid as destyds. Mans en vroue ondergaan nog steeds moeilike, en selfs gevaarlike, prosedures om hulle voorkoms te verander. Byvoorbeeld, plekke waar tatoeëring gedoen word of gaatjies deur ’n mens se vel gemaak word, wat vroeër deur die ongure lede van die samelewing besoek is, word nou in winkelsentrums en voorstede aangetref. Trouens, in ’n onlangse jaar was tatoeëring die kleinhandelbedryf in die Verenigde State wat die sesde vinnigste gegroei het.

Drastieser vorme van liggaamsversiering neem toe, veral onder jongmense. Dit word al hoe gewilder om baie gaatjies in verskeie liggaamsdele te laat steek—onder meer tepels, neuse, tonge en selfs geslagsdele. Vir ’n kleiner groepie is selfs dít reeds te mak. Hulle probeer drastieser dinge aan hulle liggaam doen, soos om brandmerke daarop te maak, dit te sny * en voorwerpe onder hulle vel in te steek om opsigtelike holtes en bulte te vorm.

’n Ou gebruik

Om die liggaam te versier of te verander, is niks nuuts nie. In sekere dele van Afrika word rituele insnydings en tatoeëermerke al eeue lank gebruik om spesifieke familiegroepe of stamme te identifiseer. Dit is interessant dat sulke gebruike in baie van hierdie lande nou in onguns verval het en afneem.

Tatoeëermerke, gaatjies deur die vel en insnydings was in Bybeltye al bekend. Dit is merendeels deur heidense nasies in verband met hulle godsdiens beoefen. Dit is te verstane dat Jehovah sy volk, die Jode, verbied het om daardie heidene na te volg (Levitikus 19:28). As God se “eiendomsvolk” is die Jode dus teen verderflike valse godsdiensgebruike beskerm.—Deuteronomium 14:2.

 Christelike vryheid

Christene is nie onder die Mosaïese Wet nie, al bevat dit sekere beginsels wat nog vir die Christengemeente geld (Kolossense 2:14). Hulle kan dus binne die perke van fatsoenlikheid self kies watter soort versiering hulle wil dra (Galasiërs 5:1; 1 Timoteus 2:9, 10). Maar hierdie vryheid is nie sonder perke nie.—1 Petrus 2:16.

Paulus het in 1 Korintiërs 6:12 geskryf: “Alles is my geoorloof; maar nie alles is voordelig nie.” Paulus het begryp dat sy vryheid as ’n Christen hom nie die reg gegee het om te doen wat hy wil sonder om ander in ag te neem nie. Liefde vir ander het sy gedrag beïnvloed (Galasiërs 5:13). Hou nie net ‘’n oog op julle eie sake nie’, het hy gemaan, “maar ook in persoonlike belangstelling op dié van die ander” (Filippense 2:4). Sy onselfsugtige beskouing is ’n uitstekende voorbeeld vir enige Christen wat die een of ander soort liggaamsversiering oorweeg.

Bybelbeginsels om in gedagte te hou

Een van die opdragte van Christene is om die goeie nuus te verkondig en ander daarvan te leer (Matteus 28:19, 20; Filippense 2:15). ’n Christen sal nie wil toelaat dat enigiets, selfs sy voorkoms, ander ontmoedig om na daardie boodskap te luister nie.—2 Korintiërs 4:2.

Terwyl versierings soos deursteekjuwele of tatoeëermerke moontlik onder party mense gewild is, moet ’n Christen hom of haar afvra: ‘Watter soort reaksie sal so ’n versiersel uitlok in die gebied waar ek woon? Sou ek my met ’n sekere element van die samelewing identifiseer? Al laat my gewete dit toe, watter uitwerking sal dit op ander in die gemeente hê as ek deursteekjuwele dra of ’n tatoeëermerk het? Sou hulle dit beskou as ’n blyk van “die gees van die wêreld”? Sal dit twyfel laat ontstaan oor my “gesonde verstand”?—1 Korintiërs 2:12; 10:29-32; Titus 2:12.

Van die dinge wat mense aan hulle liggaam doen, hou ’n ernstige mediese risiko in. As vuil naalde gebruik word om iemand te tatoeëer, kan dit bydra tot die verspreiding van hepatitis en HIV. Die kleurstowwe wat gebruik word, veroorsaak soms velsiektes. Dit kan soms maande duur voor gaatjies vir deursteekjuwele genees, en dit kan vir die grootste deel van daardie tyd pynlik wees. Dit kan ook bloedvergiftiging, bloeding, bloedklonte, skade aan die senuwees en ernstige infeksies veroorsaak. Daarbenewens kan party prosedures nie maklik ongedaan gemaak word nie. Na gelang van die grootte en kleur van ’n tatoeëermerk kan dit etlike duur en pynlike laserbehandelings verg om dit te laat verwyder. Gaatjies deur die vel kan lewenslange letsels veroorsaak.

Dit is ’n persoonlike besluit of ’n mens hierdie risiko’s wil loop of nie. Maar iemand wat God wil behaag, erken dat ’n mens jouself aan God opoffer as jy ’n Christen word. Ons liggame is lewende offers wat ons aan God bring sodat hy dit kan gebruik (Romeine 12:1). Gevolglik beskou ryp Christene hulle liggaam nie as hulle eie eiendom wat hulle kan skend of ontsier soos hulle wil nie. Veral diegene wat aan die vereistes voldoen om die leiding in die gemeente te neem, is bekend vir hulle matige gewoontes, gesonde verstand en redelikheid.—1 Timoteus 3:2, 3.

Wanneer Christene hierdie Bybelopgeleide denkvermoë aankweek en daarvolgens leef, sal dit hulle help om die buitensporige, masochistiese gebruike van hierdie wêreld te vermy, wat so “vervreemd is van die lewe wat tot God behoort” (Efesiërs 4:18). Hulle kan dus hulle redelikheid voor alle mense laat blyk.—Filippense 4:5.

[Voetnoot]

^ par. 5 Daar is ’n groot verskil tussen snye wat om mediese of selfs om estetiese redes gemaak word en jongmense, veral tienermeisies, wat hulle kompulsief sny of vermink. Laasgenoemde is dikwels ’n simptoom van ernstige emosionele spanning of mishandeling, wat moontlik professionele hulp verg.