Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

 Ons beskou die wêreld

Probleme met Marsruimtetuie

In Desember kon NASA nie kontak maak met sy Mars Polar Lander nadat die ruimtetuig Mars se atmosfeer binnegegaan het nie. Die probleem het ontstaan slegs ongeveer twee maande ná die probleem met die Mars Climate Orbiter, wat moes help om inligting van die landingstuig na die Aarde toe te stuur. Waarom die landingstuig misluk het, is onbekend. Maar een van die redes waarom die wenteltuig van koers af gegaan het, was omdat die ruimtetuig se navigasiebevelseine in Engelse maateenhede in plaas van die gebruikliker metrieke stelsel was! Hierdie verskil het verhinder dat navigasie-inligting reg oorgedra word. Hoewel NASA-wetenskaplikes teleurgestel is oor hulle verliese, beplan hulle nog om hulle doelwitte na te streef, sê CNN. Dit is naamlik “om oor die rooi planeet se klimatologiese en geologiese geskiedenis te leer; om na tekens van lewe te soek en om die grondslag vir bemande verkenningstogte te lê”.

’n Chinese skryfstelsel wat uitsterf

’n Unieke skryfstelsel wat Noe Sjoe genoem word en net deur vroue verstaan word, is al eeue lank in ’n paar klein dorpies in die Hunan-provinsie, in suidelike China, in gebruik. Plattelandse vroue het dit ontwikkel in ’n tyd toe meisies formele opvoeding ontsê is. Die skrif bestaan uit ongeveer 700 fonetiese karakters, in vergelyking met die duisende Chinese ideografiese karakters. Noe Sjoe word met delikaat geronde en skuins lyne geskryf, wat Jang Joeeqing, ’n rolprentmaker wat Noe Sjoe gedokumenteer het, beskryf as “baie vroulik en pragtig, . . . ook baie beeldend omdat dit op doek geweef en as patrone geborduur is”, berig The Sunday Times van Londen. Die vroue het volkstradisies opgeteken en hulle lot in die lewe in liedjies en gedigte beskryf wat in Noe Sjoe geskryf is. Nadat vroue in 1949 gelyke regte in China toegestaan is, het die gebruik van Noe Sjoe begin afneem. Vandag is daar slegs drie mense wat die eertydse skryfstelsel gebruik, en hulle is bejaarde vroue.

Gewelddadige videospeletjies

Die navorser Brent Stafford, van die Simon Fraser-universiteit in Brits-Columbië, Kanada, het na aanleiding van ’n studie van 600 jongmense wat videospeletjies speel, gewaarsku dat baie speletjies “ons kinders leer om geweld te verheerlik”. Die tydskrif Maclean’s berig: “Party fanatiese spelers wat die gewelddadigste en realistiesste speletjies verkies, ‘vermoor’ tot 1 000 ‘avatars’ (karakters op die skerm) in een aand, dikwels in grusame tonele wat baie realisties is.” Die navorsing het gedokumenteer in watter mate gewelddadige videospeletjies ontwerp is om op ’n speler se emosies in te werk en “jong verstande in wêrelde mee te voer wat hulle ongevoelig maak vir geweld, selfs moord”. Die videospeletjiebedryf, met ’n jaarlikse omset van R107 miljard, is “groter as die rolprent- en televisiebedryf saam”. Stafford moedig ouers aan om te weet watter speletjies hulle kinders speel en op hulle hoede te wees vir enige neiging tot kompulsiewe gedrag.

Verslae van oorloë

“Daar word tans 27 oorloë in die wêreld gevoer”, sê Psychology Today. Volgens ’n berig deur Stockholm se Internasionale Vredesnavorsingsinstituut het meer as 150 000 Liberiërs in hulle 7-jarige burgeroorlog gesterf, en 500 000 mense het in die 15-jarige burgeroorlog in Angola hulle lewe verloor. Meer as 37 000 mense het sedert 1984 in konflikte in Turkye gesterf, en oorlog in Sri Lanka het sedert 1983 meer as 60 000 lewens geëis. “Altesaam het meer as 20 miljoen mense—meestal burgerlikes—sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog in oorlog gesterf”, sê die tydskrif. “Oorlog sal moontlik onvermydelik bly . . . weens ekonomiese oorwegings. Oorlog is een [van] die grootste bedrywe ter wêreld, met ’n jaarlikse besteding van $800 miljard [R5,1 biljoen], en dit lewer ook ’n ontsaglike hoeveelheid buit.” Die tydskrif sê: “Wat ’n uiters eienaardige spesie is ons tog wat so wreed teenoor ons eie soort is.” Die Verenigde Nasies het vanjaar ’n internasionale jaar van vrede verklaar.

Rokery en blindheid

“Rokery is ’n vername oorsaak van blindheid”, berig die koerant die Canberra Times. Navorsers by die Australiese Nasionale Universiteit en die Universiteit van Sydney skat dat  20 persent van alle blindheid by Australiërs ouer as 50 as gevolg van rokery is. Die navorsers het studies van Australië, die Verenigde State en Europa aangehaal wat toon dat die moontlikheid dat rokers ouderdomsverwante makulaontaarding sal kry twee tot vyf keer groter is as vir nierokers. Dr. Wayne Smith van die Australiese Nasionale Universiteit het voorgestel dat hierdie waarskuwing op sigaretpakkies verskyn: “Rokery is ’n vername oorsaak van blindheid.”

Verwaarlosing en kindermishandeling

Aangemelde gevalle van kindermishandeling in Japan het gedurende die 1998-belastingjaar met 30 persent gestyg in vergelyking met die vorige jaar, sê Asahi Evening News. Deskundiges skryf dit toe aan “toenemende spanning onder moeders, wat dikwels hulle kinders alleen grootmaak”, sowel as aan “’n groter bewustheid onder die gewone publiek” van hulle verantwoordelikheid om mishandeling of verwaarlosing aan te meld. The Daily Yomiuri sê dat daar ook ’n toename in Japan is in die aantal sterfgevalle van klein kindertjies wat alleen by die huis of in ’n geparkeerde motor gelaat is. In sommige gevalle het hulle ouers by patsjinko-spykertafels gedobbel. Tot onlangs toe is min ouers in sulke gevalle strafregtelik aanspreeklik gehou. Maar nou beplan die owerheid om ouers te vervolg wat baie nalatig is.

Pasgeborenes met HIV

“Die helfte van alle babas in Afrika word met HIV gebore, die virus wat tot vigs ontwikkel”, berig United Press International. Dr. Peter Piot, uitvoerende direkteur van die Verenigde Nasies se Gesamentlike HIV/vigs-program, het gesê dat HIV en vigs die lewensverwagting in party dele van Afrika met 25 jaar verkort het. Die verslag voeg by: “Die 21 lande met die hoogste voorkomssyfer van HIV-besmetting is almal in Afrika, en in 10 van hierdie lande is ten minste 10 persent van die bevolking besmet.” Van alle vigs-verwante sterfgevalle oor die wêreld was ongeveer 80 persent in Afrika.

Pedaalkrag

“’n Fiets is een van die mees ekonomiese vervoermiddels wat energieverbruik betref—nie net omdat dit pedaalkrag gebruik nie, maar omdat sy ontwerp baie min energie vermors”, sê ’n Reuters-verslag. Toe ingenieurs by Johns Hopkins-universiteit in Baltimore ’n rekenaarbeheerde fietsdryfeenheid deur middel van ’n infrarooikamera ondersoek het, het hulle gevind dat min hitte voortgebring is terwyl die ketting beweeg het. “Tot hulle verbasing het die ingenieurs gevind dat die kettingaandrywing ’n energiedoeltreffendheidsfaktor van 98,6 persent het, wat beteken dat minder as 2 persent van die krag wat gebruik is om die voorste kettingrat te draai as hitte verlore gegaan het”, sê die verslag. “Die slegste telling wat die fiets onder verskillende omstandighede gekry het, was ’n energiedoeltreffendheidsfaktor van 81 persent.” James Spicer, wat die studie gelei het, het gesê: “Ek het dit verbasend gevind, veral wanneer jy daaraan dink dat die basiese ontwerp van hierdie kettingaandrywing in meer as 100 jaar nie verander het nie.”

“Bose reën”

’n Natuurlike verskynsel, wat as bose reën bekend staan, vind in Turpan, in die selfregerende gebied Sinkiang-Oegoer, in China, plaas. Selfs wanneer donker reënwolke in die lug verbybeweeg, bly die weer dikwels warm en droog op die grond, berig China Today. Dit lyk of daar reën uit die lug val, en ’n mens kan selfs die reën voel deur jou hande in die lug te swaai. Maar in die uiters droë klimaat van Turpan vind verdamping baie vinniger plaas as wat die reën val. Daarom verdamp die “bose reën” selfs voordat dit die grond bereik.

Dodelike dieet

’n Veearts in die Kutch-streek in westelike Indië het onlangs 45 kilogram plastieksakke uit ’n siek koei se maag gehaal, berig The Week, ’n tydskrif van Kerala, Indië. Behalwe die sakke het hy ook lap, kokosneutdoppe, ’n stuk draad en ’n skroef gevind. Koeie wat los rondloop in Indië lewe hoofsaaklik van vullis, en plastieksakke wat weggegooi is, is gevaarlik vir hulle. Selfs melkkoeie wat aan mense behoort, eet dikwels vullis wat langs die pad lê wanneer hulle na hulle weivelde loop. Die veearts, dr. Jadeja, sê dat die inname van plastiek naas bek-en-klou-seer die ernstigste probleem vir koeie is. Die onverteerbare materiaal verstop die maag sodat die koei nie kan herkou nie. Sulke koeie word dikwels gelos om dood te gaan. Skoenmakers wat baie plastiek in dooie koeie se mae gevind het toe hulle die vel verwyder het, het dr. Jadeja van die situasie bewus gemaak.