Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die verhaal van twee riviere

Die verhaal van twee riviere

 Die verhaal van twee riviere

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË

Twee riviere wat vername lewensare in die Indiese subkontinent is, voorsien in die behoeftes van honderdmiljoene mense. Hulle oorsprong is nie te ver uitmekaar nie in die gletsergebiede van die wêreld se hoogste bergreeks, en albei vloei op majestueuse wyse meer as 2 400 kilometer, hoofsaaklik deur twee lande. Hulle loop in twee verskillende seë uit. Elke rivier was die bakermat van ’n ou beskawing. Elkeen het die ontstaan van ’n vername godsdiens gesien. Elkeen word deur die mens waardeer vir sy gawes, en een word selfs vandag nog aanbid. Hulle name? Die Indus en die Ganges; die laasgenoemde is hier in Indië as die Ganga bekend.

OMDAT die mensdom water nodig het om te bly leef en voorspoedig te wees, het vroeë beskawings om riviere ontwikkel. Aangesien riviere soms as gode en godinne verpersoonlik is, kan vroeë verslae in mitologie gehul wees. Dit is beslis waar van die geskiedenis van die Indus en die Ganga, wat in Indië ook bekend is as die Ganga Ma (Moeder Ganga).

Vir Hindoes sowel as Boeddhiste is die 6 714 meter hoë berg Kailash en die nabygeleë Manasarowar-meer die woonplek van die gode. Daar is lank geglo dat vier groot riviere uit die meer deur die monde van diere gevloei het. Die leeurivier was die Indus, en die pourivier was die Ganga.

Die Tibettane het nie buitelandse ontdekkingsreisigers verwelkom nie. Maar in 1811 het ’n Engelse veearts wat vir die Oos-Indiese Kompanjie gewerk het in verskeie vermommings deur die land gereis. Hy het berig dat geen riviere uit Manasarowar gevloei het nie, hoewel ’n paar bergstrome wel daarin geloop het. Dit was eers in die vroeë 20ste eeu wat die bronne van die Indus sowel as die Ganga ontdek is. Die Indus se oorsprong is in Tibet, noord van die Himalajas, en die Ganga begin in ’n gletsergrot teen die hange van die Himalajas in noordelike Indië.

Waar ou beskawings begin het

Daar word geglo dat die eerste inwoners van die Indiese subkontinent ooswaarts na die Indusvallei getrek het. Hier het argeoloë die ruïnes van ’n hoogs gevorderde beskawing by terreine soos Harappa en Mohendsjo-Daro gevind. In die vroeë dekades van die 20ste eeu het hierdie ontdekkings die beskouing verander dat Indië se vroeë nedersetters primitiewe nomadestamme was. Meer as 4 000 jaar gelede was die Indusbeskawing op gelyke voet met dié van Mesopotamië, indien nie meer gevorderd nie. Oorblyfsels van strate wat in blokke uitgelê is, meerverdiepinghuise en woonstelgeboue, uitstekende afvoerstelsels wat riool na septiese putte afgelei het, reusagtige graanskure, tempels en badhuise vir rituele reiniging dui alles op ’n gevorderde stedelike beskawing. Daar is ook tekens van handelsbetrekkinge met Mesopotamië en die Midde-Ooste, wat moontlik gemaak is deur die Indus wat honderde kilometers van die binneland af ’n roete na die Arabiese See voorsien het.

Deur die eeue heen het natuurrampe—miskien aardbewings of groot oorstromings van die rivier—blykbaar die stedelike beskawing van die Indusvallei verswak. Gevolglik was daar min weerstand teen invalle deur nomadestamme van Sentraal-Asië, na wie daar gewoonlik as Ariërs verwys word. Hulle het die  meeste stadsbewoners van die rivier af verdryf sodat die antieke kultuur wat om die Indus ontwikkel het nou na suidelike Indië beweeg het, waar die Drawidiese ras vandag nog as een van die vername etniese groepe van Indië voortbestaan.

Namate die Ariese stamme ooswaarts deur Indië beweeg het, het hulle hulle in die vlaktes van die Ganga begin vestig. Sodoende het die Ariese deel van die subkontinent sy unieke kultuur in noordelike Indië ontwikkel, hoofsaaklik om die Gangarivier, waar hulle vandag nog merendeels is.

Twee riviere en twee godsdienste

Argeologiese ontdekkings toon ooreenkomste tussen die godsdiens wat in die Indusvallei beoefen is en dié van Mesopotamië. ’n Aantal relieke van Hindoeïsme, wat mense lank gedink het van die godsdiens van die Ariërs afkomstig is, is in die ruïnes van Indusstede gevind. Met die samesmelting van die voor-Ariese en Ariese gode en godsdiensoortuigings het die Hindoegodsdiens ontstaan. Die Ariërs het eers die Indus as heilig beskou, maar toe hulle ooswaarts beweeg het en hulle langs die Ganga gevestig het, het hulle daardie rivier begin aanbid. Namate die eeue verbygegaan het, het stede soos Hardwar, Allahabad en Varanasi langs die Ganga ontwikkel. Dit het sentrums vir die Hindoegodsdiens geword. Vandag stroom miljoene pelgrims na sulke sentrums om in die waters van die Ganga te bad, wat as genesend en reinigend beskou word.

Terwyl Hindoeïsme om die Indus begin het, het Boeddhisme sy oorsprong na aan die Ganga gehad. Dit was by Sarnath, naby Varanasi, waar Siddharta Gautama, wat Boeddha genoem is, sy eerste preek gehou het. Toe hy 79 jaar oud was, het hy glo oor die Ganga geswem waar die rivier baie breed is.

Hoe is die riviere vandag?

Rivierwater is vandag belangriker as wat dit 4 000 jaar gelede was, toe voedsel mense na die oewers van die Indus en die Ganga gelok het. Om die groot bevolkings van Indië, Pakistan en Bangladesj te onderhou, moet die riviere versigtig beheer word. (Sien die kaart op bladsye 16-17.) Internasionale ooreenkomste was nodig, aangesien die riviere deur meer as een land vloei. Pakistan het onder meer die drie kilometer lange en 143 meter hoë Tarbeladam vir besproeiing gebou. Dit is een van die grootstes in die wêreld en meer as 148 500 000 kubieke meter grond is gebruik om dit op te vul. Die Farakka-keerdam, in die Ganga, verseker dat daar ’n voldoende en bestendige toevoer van water na die rivier is om voorsiening te maak vir die toename in skeepsverkeer naby Kalkutta-hawe.

Besoedeling is ’n groot probleem in die Ganga, soos dit met baie riviere die geval is. Gevolglik is die ambisieuse Ganga-aksieplan in 1984 deur die Indiese regering in werking gestel. Aandag is geskenk aan die verwerking van riool tot kunsmis of biogas, die wegkering van afvoerpype wat in die rivier uitgeloop het en die bou van verwerkingsaanlegte vir chemiese afval.

Maar die probleem om die aarde se riviere na hulle ongerepte prag en skoonheid te herstel, is iets wat buite mense se vermoë is. Maar God sal binnekort die situasie regstel. Onder die heerskappy van sy Koninkryk ‘sal die riviere hulle hande klap’ wanneer die hele aarde ’n paradys word.—Psalm 98:8NW.

 [Venster/Kaart op bladsy 16, 17]

Die magtige Indus

Aangesien daar soveel strome is wat saamvloei om die Indus te vorm, is die ligging van die werklike bron van die rivier ’n onderwerp waaroor gedebatteer word. Maar dat hierdie groot rivier sy oorsprong hoog in die Himalajas het, is verseker. Die rivier vloei 320 kilometer in ’n noordwestelike rigting oor die hoogvlakte van Tibet, “die dak van die wêreld”, en sluit onderweg by ander strome aan. Wanneer die rivier die grens van Indië in die Ladakh-gebied nader, vind dit sy pad deur die berge en kalwe dit die rotswande onderlangs uit om ’n kanaal tussen die Himalaja- en Karakoramgebergtes te vorm. Die rivier, wat nou in Indië se gebied is, daal amper 3 700 meter oor ’n afstand van net 560 kilometer. Terwyl dit daal, vloei dit noordwaarts en draai dan skerp om die westelike punt van die Himalajas, waar die Gilgit, ’n groot rivier wat uit die Hindoe-Koesj stroom, daarby aansluit. Die waters vloei dan suid deur Pakistan. Hier beur en kronkel die rivier met groot krag deur die berge totdat die Indus uiteindelik die vlaktes bereik en deur die Pandjab vloei. Hierdie naam beteken “Vyf riviere”, aangesien vyf groot syriviere—die Beas, die Sadledj, die Ravi, die Jeloem en die Chenab—soos die uitgespreide vingers van ’n reusehand vloei om by die Indus aan te sluit en dan die majestueuse roete van 2 900 kilometer saam te voltooi.

Die vereerde Ganga

Ongeveer 100 kilometer suid van die bron van die Indus in die Himalajas begin die Ganga sy roete van meer as 2 500 kilometer na die Baai van Bengale. Op ’n hoogte van 3 870 meter straal water uit ’n gletser wat soos ’n koei se mond lyk en in Hindi Gaumukh genoem word, en dit vorm ’n stroom met die naam Bhagirathi. Sowat 214 kilometer van die bron af sluit ’n ander stroom, die Alaknanda, by Devaprayag, daarby aan. Hierdie twee strome tesame met die Mandakini, die Dhauliganga en die Pindar word die Ganga.

Die Ganga vloei suidoos oor die subkontinent, met ander groot riviere wat daarby aansluit soos die Joemna by Allahabad in Indië en dan die magtige Brahmapoetra in Bangladesj. Die Ganga en sy syriviere, wat soos ’n waaier uitgesprei is, voorsien water aan ’n kwart van die totale gebied van Indië, die vrugbare vlaktes van die Ganga. Die rivierstelsel dreineer ’n gebied van 1 035 000 vierkante kilometer en onderhou omtrent ’n derde van Indië se bevolking, wat nou meer as ’n miljard is, in een van die wêreld se mees digbevolkte gebiede. In Bangladesj word die Ganga baie breed, soos ’n binnelandse see, met allerhande soorte riviervervoer. Dan verdeel die Ganga in verskeie groot riviere en etlike stroompies om een van die grootste deltas in die wêreld te vorm.

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

 Tibet

PAKISTAN

Indus

Jeloem

Chenab

Sadledj

Harappa

Mohendsjo-Daro

INDIË

Ganga

Jamoena

Brahmapoetra

Allahabad

Varanasi

Patna

Kalkutta

BANGLADESJ

NEPAL

BOETAN

[Erkenning]

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prente]

Hindoes bad in die Ganga

[Erkenning]

Copyright Sean Sprague/Panos Pictures