Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dbt—’n Idee voor sy tyd?

Dbt—’n Idee voor sy tyd?

 Dbt—’n Idee voor sy tyd?

Waarom moet baie mense hulle horlosies twee keer per jaar verstel? Dit is werklik ’n irritasie vir party wanneer horlosies vorentoe of agtertoe verstel moet word. En wanneer verstel jy dit vorentoe en wanneer agtertoe? In Engels herinner die frase “spring forward and fall back” mense wanneer elke verandering, in die lente en herfs, plaasvind. Hoe het dagligbesparingstyd (DBT) ontstaan? Wie het daarmee begin?

Die Encyclopædia Britannica sê dat Benjamin Franklin in 1784 aanvanklik die idee voorgestel het om daglig te bespaar. Meer as ’n eeu later het ’n Engelsman, William Willett, die idee bevorder. Maar Willett het gesterf voordat ’n wet deur die Parlement uitgevaardig is.

Volgens die Britse skrywer Tony Francis het Willett, ’n meesterbouer van Chislehurst, Kent, vir die eerste keer gedink aan hoe nuttig dit sal wees om tyd te skuif terwyl hy vroeg een someroggend te perd in Petts Wood gery het. Terwyl hy gery het, het hy baie huise met toe hortjiesvensters gesien. ‘Wat ’n verkwisting van daglig!’ moes hy gedink het. Hy het steun probeer werf sodat die Britse Parlement ’n wet sou uitvaardig wat die aanpassing van tyd sou toelaat. Deur alle horlosies eenvoudig in die lente- en somermaande 80 minute vorentoe te skuif, vier keer met 20 minute elke keer, en dan in die herfs terug te skuif, sou dit mense toelaat om saans meer daglig te geniet.

Francis berig dat Willett in een van sy pamflette geskryf het: “Lig is een van die grootste gawes van die Skepper aan die mens. Terwyl daglig ons omring, heers daar vrolikheid, druk sorge nie so swaar op ons nie en skep ons moed om die lewe aan te pak.”

Koning Eduard VII het nie vir ’n parlementêre wet gewag nie. Hy het Sandringham, sy koninklike herehuis met 7 900 hektaar land, ’n dagligbesparingsone verklaar. Hy het later dieselfde gedoen met die koninklike landgoed by Windsor en Balmoral.

Wat het die politici uiteindelik oorreed om toe te gee en DBT aan te neem? Hulle wou gedurende die Eerste Wêreldoorlog brandstof bespaar deur die behoefte aan kunsmatige lig te verminder! Ander lande het gou die idee om soortgelyke redes aangeneem. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is daar selfs van dubbelsomertyd in Engeland gebruik gemaak. Daarvolgens is ’n verskil van twee uur in die somer en een uur in die winter toegelaat.

Daar is ’n monument in Petts Wood vir William Willett, op die prent regs. Dit is opgedra aan “die onvermoeide voorstander van ‘somertyd’”. Die byskrif onder die sonwyser sê: “Horas non numero nisi aestivas”, wat beteken: “Ek tel nie ure nie tensy [hulle] somerure is.”

[Foto-erkenning op bladsy 31]

Met dank aan die National Trust