Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Klein eiland leer ons ’n belangrike les

’n Klein eiland leer ons ’n belangrike les

 ’n Klein eiland leer ons ’n belangrike les

RAPA NUI, ’n vulkaniese eiland van 170 vierkante kilometer waarop daar feitlik nie ’n enkele boom is nie, is die mees afgesonderde plek in die wêreld wat bewoon word. * Die hele eiland is nou ’n historiese monument, deels as gevolg van die klipbeelde wat moai genoem word. Dit is die handewerk van ’n eens florerende beskawing.

Die moai is uit vulkaniese rots gekap, en sommige van hulle is so diep begrawe dat net hulle reusagtige koppe gesien kan word. In ander gevalle steek die bolyf bo die grond uit, en sommige moai het nog steeds ’n hooftooisel van rots wat pukao genoem word. Verreweg die meeste van hulle lê onvoltooid in steengroewe of op eertydse paaie verstrooi, asof die werkers eenvoudig hulle gereedskap neergegooi en weggeloop het. Dié wat regop staan, wissel van alleenstaande beelde tot rye van tot 15 beelde, elkeen met sy rug na die see. Dit is te verstane dat die moai besoekers al lank dronkslaan.

In onlangse jare het die wetenskap nie net die geheim van die moai begin ontrafel nie, maar ook begin uitpluis waarom die eens florerende beskawing wat hulle gebou het, ondergegaan het. Dit is opmerkenswaardig dat die feite wat aan die lig kom meer as net geskiedkundige waarde het. Volgens die Encyclopædia Britannica leer dit “die hedendaagse wêreld ’n belangrike les”.

Hierdie les hou verband met die bestuur van die aarde, veral sy natuurlike hulpbronne. Die aarde is natuurlik baie meer kompleks en biologies uiteenlopend as ’n klein eiland, maar dit beteken nie dat ons die les wat Rapa Nui ons leer, moet ignoreer nie. Kom ons neem dus ’n paar oomblikke om van die hoogtepunte uit Rapa Nui se geskiedenis te hersien. Ons verslag begin ongeveer 400 G.J. toe die eerste families in hulle seekano’s daar aangekom het. Die enigste oë wat hulle dopgehou het, was dié van die honderde seevoëls wat daar rondgevlieg het.

’n Eilandparadys

Die eiland het nie ’n groot verskeidenheid plante gehad nie, maar dit was oortrek met woude vol palmbome, hauhau- en toromirobome, asook struike, kruie, varings en verskillende grassoorte. Ten minste ses soorte landvoëls, insluitende uile, reiers, ralreiers en papegaaie, het in hierdie afgeleë gebied gefloreer. Rapa Nui was ook “die vrugbaarste broeigebied vir seevoëls in Polinesië en waarskynlik in die hele Stille Oseaan”, sê die tydskrif Discover.

Die koloniste het moontlik hoenders en eetbare rotte, wat hulle as ’n lekkerny beskou het, na die eiland gebring. Hulle het ook gewasse saam met hulle gebring: taro, jam, patats, piesangs en suikerriet. Die grond was vrugbaar; daarom het hulle onmiddellik die land begin skoonmaak en begin plant—’n proses wat voortgeduur het namate die bevolking gegroei het. Maar Rapa Nui was maar klein, en hoewel dit dig bebos was, het dit min bome gehad.

Rapa Nui se geskiedenis

Wat ons van Rapa Nui se geskiedenis weet, is hoofsaaklik op drie studievelde gegrond: stuifmeelontleding, argeologie en paleontologie. By stuifmeelontleding word stuifmeelmonsters uit die sediment van poele en moerasse geneem. Hierdie monsters toon die verskeidenheid en voorkoms van plante oor  baie honderde jare. Hoe dieper die stuifmeelmonster in die sediment gevind word, hoe vroeër is die tyd wat dit verteenwoordig.

Argeologie en paleontologie vestig die aandag op dinge soos wonings, gereedskap, die moai en die oorblyfsels van diere wat as voedsel gebruik is. Aangesien alle verslae van die Rapa Nui in beeldskrif is en moeilik is om te ontsyfer, is jaartalle wat kontak met Europeërs voorafgaan maar net skattings, en baie van die veronderstellings kan nie bewys word nie. Daarbenewens strek sommige verwikkelinge, soos hulle hieronder uiteengesit word, moontlik oor meer as een opeenvolgende tydperk. Alle jaartalle, wat in vet letters geskryf is, is in die Gewone Jaartelling.

400 Tussen 20 en 50 Polinesiese nedersetters kom hier aan, waarskynlik in dubbelkano’s van 15 meter of langer wat ’n vrag van meer as 8 000 kilogram elk kan dra.

800 Die hoeveelheid boomstuifmeel in die sediment verminder, wat daarop dui dat ontbossing begin het. Grasstuifmeel neem toe namate gras na van die ontboste gebiede versprei.

900-1300 Ongeveer een derde van die oorblyfsels van diere wat gedurende hierdie tydperk vir voedsel gevang word, is dolfynskelette. Die eilandbewoners gebruik groot kano’s wat van die boomstamme van groot palmbome gemaak word om dolfyne in die oop see te vang. Bome voorsien ook die hout om die toerusting te maak wat gebruik word om die moai te skuif en op te rig, want teen hierdie tyd is die vervaardiging van die moai al goed op dreef. Toenemende landboubedrywighede en die behoefte aan vuurmaakhout laat die woud geleidelik kleiner word.

1200-1500 Die vervaardiging van beelde bereik ’n hoogtepunt. Die Rapa Nui gebruik baie van hulle hulpbronne om moai en die seremoniële platforms te maak waarop hulle staan. Die argeoloog Jo Anne van Tilburg skryf: “Die Rapa Nui se maatskaplike struktuur het die vervaardiging van meer en groter beelde sterk aangemoedig.” Sy sê verder dat “sowat 1 000 beelde oor 800 tot 1 300 jaar gemaak is . . . , een vir elke sewe tot nege mense toe die bevolking volgens skatting op sy hoogste was”.

Die moai is klaarblyklik nie aanbid nie, hoewel hulle ’n rol in begrafnis- en landbouritusse gespeel het. Hulle is dalk as ’n woning vir geeste beskou. Dit lyk asof hulle ook ’n simbool van hulle bouers se mag, status en geslagslyn was.

1400-1600 Die bevolking bereik ’n hoogtepunt van tussen 7 000 en 9 000 mense. Die  laaste lappies woud verdwyn, deels omdat die inheemse voëls uitgesterf het wat die bome bestuif en die sade versprei het. “Elke inheemse landvoëlspesie het sonder uitsondering uitgesterf”, sê Discover. Rotte het ook tot die ontbossing bygedra; getuienis toon dat hulle die palmpitte geëet het.

Erosie begin kort daarna plaasvind, strome begin opdroog en water word skaars. Omstreeks 1500 kom dolfynskelette nie meer voor nie, moontlik omdat daar nie meer groot genoeg bome is om kano’s mee te maak nie. Dit is nou onmoontlik om die eiland te verlaat. Seevoëls word uitgeroei wanneer mense desperaat word vir voedsel. Meer hoenders word geëet.

1600-1722 Die afwesigheid van bome, toenemende grondbenutting en gronduitputting dra by tot meer misoeste. Grootskaalse hongersnood kom voor. Die Rapa Nui verdeel in twee vyandige groepe. Die eerste tekens van maatskaplike chaos verskyn, moontlik selfs van kannibalisme. Dit is die bloeityd vir die kryger. Mense begin in grotte woon vir beskerming. Omstreeks die jaar 1700 is daar ’n skerp afname in die bevolking tot ongeveer 2 000.

1722 Die Nederlandse ontdekkingsreisiger Jacob Roggeveen is die eerste Europeër wat die eiland ontdek. Dit vind op Paassondag plaas, en daarom noem hy dit Paaseiland. Hy teken sy eerste indruk op: “[Paaseiland se] woeste voorkoms gee die indruk van volslae armoede en absolute verlatenheid.”

1770 Teen ongeveer hierdie tyd begin vyandige stamme van die oorblywende Rapa Nui mekaar se beelde omgooi. Tydens die besoek van die Britse ontdekkingsreisiger kaptein James Cook in 1774, sien hy baie beelde wat omgegooi is.

1804-63 Kontak met ander beskawings neem toe. Slawerny, wat nou algemeen in die Stille Oseaan is, asook siekte eis ’n swaar tol. Die tradisionele kultuur van die Rapa Nui kom merendeels tot ’n einde.

1864 Teen hierdie tyd is al die moai omgegooi en is baie se koppe opsetlik afgekap.

1872 Slegs 111 inboorlinge is op die eiland oor.

Rapa Nui het in 1888 ’n provinsie van Chili geword. In onlangse jare het Rapa Nui ’n gemengde bevolking van ongeveer 2 100 gehad. Chili het die hele eiland ’n historiese monument verklaar. Baie beelde is weer opgerig om Rapa Nui se unieke karakter en geskiedenis te bewaar.

’n Les vir vandag

Waarom het die Rapa Nui nie gesien waarop hulle afstuur en die ramp probeer keer nie? Let op wat verskeie navorsers oor die situasie sê.

“Die woud . . . het nie net eendag verdwyn nie—dit het stadig verdwyn, oor dekades. . . . As enige eilandbewoner ander oor die gevare van progressiewe ontbossing sou probeer waarsku het, sou hy geïgnoreer word as gevolg van die gevestigde belange van beeldhouers, burokrate en stamhoofde.”—Discover.

“Die prys wat hulle betaal het vir die manier waarop hulle hulle geestelike en politieke idees uitgeleef het, was ’n eiland wat in baie opsigte net ’n skaduwee geword het van sy vroeër natuurlike toestand.”—Easter Island—Archaeology, Ecology, and Culture.

“Wat met die Rapa Nui gebeur het, het getoon dat onbeheerde groei en die drang om die omgewing tot die uiterste toe te manipuleer, nie bloot aspekte van die nywerheidswêreld was nie; dit is ’n deel van die menslike natuur.”—National Geographic.

Wat sal gebeur as daar vandag geen verandering in die sogenaamde menslike natuur is nie? Sê nou die mensdom gaan voort om op ekologiese gebied onvolhoubare eise te stel aan ons aarde—ons eiland in die ruimte? Volgens een skrywer het ons een groot voorsprong op die Rapa Nui. Ons het as waarskuwende voorbeelde die “geskiedenisverslae van ander verwoeste gemeenskappe”.

Maar daar kan gevra word: Neem die mensdom kennis van hierdie geskiedenisverslae? Grootskaalse ontbossing en die voortgesette  vernietiging van die aarde se lewende dinge teen ’n verontrustende tempo toon dat hulle dit nie doen nie. Linda Koebner skryf in Zoo Book: “Die uitwissing van een of twee of vyftig spesies sal onvoorspelbare gevolge hê. Die uitsterwing van spesies veroorsaak veranderinge selfs voordat ons die gevolge daarvan verstaan.”

’n Vandaal wat een klinknael op ’n slag van ’n vliegtuig verwyder, weet nie watter klinknael die vliegtuig sal laat neerstort nie; maar wanneer daardie kritieke klinknael weg is, is die vliegtuig se lot verseël, al gaan dit miskien nie op die volgende vlug neerstort nie. Net so vernietig mense die aarde se lewende “klinknaels” teen ’n tempo van meer as 20 000 spesies per jaar, en daar is geen teken dat hulle gaan ophou nie! Wie weet wanneer die breekpunt bereik gaan word? En sal sulke voorkennis werklik ’n verskil maak?

Die boek Easter Island—Earth Island het hierdie insiggewende kommentaar gemaak: “Die persoon wat die laaste boom [op Rapa Nui] afgekap het, kon sien dat dit die laaste boom was. Maar hy (of sy) het dit nog steeds afgekap.”

‘Ons moet ons godsdiens verander’

“As daar enige hoop is”, voeg Easter Island—Earth Island by, “is dit beslis daarop gegrond dat ons ons godsdiens moet verander. Ons huidige gode van ekonomiese groei, wetenskap en tegnologie, voortdurende verhoging van die lewenstandaard en die waarde van mededinging—godhede wat ons as almagtig beskou—is soos die reusebeelde op Paaseiland. Elke dorp het met sy buurdorp gewedywer om die grootste beeld op te rig. . . . Al hoe meer aandag is gegee aan die hulpbronverterende . . . , maar sinlose, beeldhouwerk, verskuiwing en oprigting.”

’n Wyse persoon het eenkeer gesê: “Ek weet . . . dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Dis alleenlik ons Skepper wat vir ons kan wys hoe om ons “voetstappe te rig”. Dit is ook net hy wat ons uit ons ellendige toestand kan red. Hy belowe om dit te doen in sy Woord, die Bybel—’n boek wat ook talle goeie en slegte voorbeelde van vergange beskawings bevat. Hierdie boek kan beslis in hierdie donker tye ’n ‘lig vir ons pad’ wees.—Psalm 119:105.

Daardie pad sal gehoorsame mense uiteindelik na ’n paradys van vrede en oorvloed lei—’n nuwe wêreld wat hierdie klein eiland in die Stille Suidsee, wat Rapa Nui genoem word, sal insluit.—2 Petrus 3:13.

[Voetnoot]

^ par. 2 Hoewel die bewoners hulle eiland en hulleself Rapa Nui noem, is die eiland beter bekend as Paaseiland, en die bewoners word Paaseilanders genoem.

[Kaart op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Paaseiland

[Erkenning]

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 23]

“Ongeveer 1 000 beelde is gemaak”

[Prente op bladsy 25]

Die hele aarde, insluitende verafgeleë eilande, sal ’n paradys word