Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

 Ons beskou die wêreld

Planeet Aarde uniek

Volgens sterrekundiges word nuwe planete steeds ontdek wanneer wetenskaplikes die effense waggeling—wat deur die aantrekkingskrag van die planeet veroorsaak word—van die verafgeleë ster meet waarom die planete wentel. In 1999 is daar gesê dat daar 28 sulke planete buite ons sterrestelsel is. Die nuwes wat glo ontdek is, is ongeveer so groot soos Jupiter of groter. Jupiter se massa is sowat 318 keer groter as dié van die Aarde. Soos Jupiter bestaan die planete vermoedelik uit helium en waterstof. As gevolg van die wentelafstand van daardie planete is dit glo hoogs onwaarskynlik dat enige planeet van dieselfde grootte as die Aarde saam met hulle kan bestaan. En anders as die Aarde se sirkelbaan van 150 miljoen kilometer, wentel hulle in ovaalbane om hulle sterre. Trouens, een wentelbaan wissel tussen 58 miljoen kilometer en 344 miljoen kilometer weg van sy ster. “Dit begin lyk of sirkelbane wat netjies gerangskik is, soos ons in ons eie sonnestelsel sien, betreklik seldsaam is”, het een sterrekundige gesê.

Fluitkommunikasie

Spaanse skoolkinders op die eiland Gomera, een van die Kanariese Eilande, word verplig om die fluittaal te leer wat al eeue lank deur plaaslike herders gebruik word, berig The Times van Londen. Die Gomera-silbo, of fluit, wat oorspronklik ontwikkel is as ’n manier om oor die valleie in die bergagtige gebied te kommunikeer, gebruik klanke om lettergrepe van spraak na te boots. Fluiters sit hulle vingers in hulle mond om die noot te verander, en hulle hou hulle hande bak sodat die klank sal trek—tot drie kilometer ver. Hoewel die silbo in die 1960’s amper verlore gegaan het, het dit weer gewild geword, en die eiland hou nou ’n jaarlikse fluitdag. Daar is egter beperkings. “Jy kan gesprekke voer, maar daar is nie baie dinge waaroor jy kan praat nie”, sê Juan Evaristo, ’n plaaslike opvoeder.

Kinders en slaap

“Ouers moet beperkings stel, nie alleen op hoe laat hulle kinders wakker kan bly nie, maar ook op wat hulle voor slaaptyd kan doen”, sê die tydskrif Parents. “Om TV te kyk, rekenaar- en videospeletjies te speel en deur die Internet te blaai, is stimulerende bedrywighede wat kinders se verstande oortyd laat werk. En ’n vol program van naskoolse verpligtinge verhinder hulle om hulle huiswerk teen ’n redelike tyd klaar te kry.” Navorsing toon dat slaapontneming dikwels ’n ander uitwerking op jonger kinders het—hulle raak hiperaktief en onbeheerbaar, terwyl volwassenes slaperig en stil word. Wanneer kinders wat te min slaap kry by die skool is, het hulle gevolglik nie die vermoë om te konsentreer, aandag te gee, te onthou wat hulle leer en probleme op te los nie. Die kenners sê dat ouers ’n tyd moet vasstel wanneer hulle kinders moet gaan slaap en dat hulle dit ’n prioriteit moet maak—nie ’n laaste uitweg wanneer daar nie meer energie of bedrywighede is nie.

Vigs wêreldwyd

Volgens ’n nuwe verslag van die Verenigde Nasies is daar wêreldwyd “meer as 50 miljoen mense wat met HIV-vigs besmet is—dit is gelyk aan die bevolking van die Verenigde Koninkryk—en 16 miljoen het al gesterf”, sê The Globe and Mail van Kanada. “Navorsing in nege Afrikalande het getoon dat 20 persent meer vroue as mans nou met die siekte besmet is” en dat “die moontlikheid dat tienermeisies met HIV-vigs besmet sal word ongeveer vyf keer groter is as dié van tienerseuns”. Peter Piot, die uitvoerende direkteur van die Verenigde Nasies se Gesamentlike HIV/vigs-program, beskryf die situasie in Oos-Europa as “plofbaar”. Die verslag wys daarop dat “die HIV-besmettingsyfer in die voormalige Sowjetunie gedurende die laaste twee jaar meer as verdubbel het, die skerpste styging in die wêreld”. Kenners sê dat dit ’n weerspieëling is van die toename in binneaarse dwelmgebruik in daardie streek. Regoor die wêreld kry meer as die helfte van dié wat met HIV-vigs besmet is “die siekte teen die ouderdom van 25, en gewoonlik sterf hulle voor hulle 35ste verjaarsdag”.

Sonskermmiddels en kanker

“Wanneer mense ’n sonskermmiddel met ’n hoë beskermingsfaktor aansmeer, gee dit hulle ’n valse gevoel van veiligheid  en kan dit hulle risiko verhoog om velkanker op te doen”, berig The Times van Londen. “Dit is omdat hulle langer in die Son bly en meer straling absorbeer.” Navorsers van die Europese Instituut vir Onkologie in Milaan, Italië, het gevind dat diegene wat ’n sonskermmiddel met ’n beskermingsfaktor van 30 gebruik 25 persent langer in die son bly as diegene wat een met ’n faktor van 10 gebruik. Phillipe Autier, die skrywer van die studie, sê: “Daar is nog nie onder die algemene bevolking bewys dat sonskermmiddels mense teen velkanker, veral melanoom, beskerm nie, maar oortuigende gegewens toon dat daar ’n noue verband tussen die duur van blootstelling aan die son gedurende tye van ontspanning en velkanker is.” Gesondheidsdeskundiges waarsku nou teen langdurige blootstelling aan die son, ongeag die vlak van beskerming wat ’n sonskermmiddel gee. Christopher New, hoof van die kankerveldtog van Brittanje se Gesondheidsopvoedingsowerheid raai aan: “Moenie ophou om sonskermmiddels te gebruik nie, maar onthou dat jy dit nie moet gebruik sodat jy langer in die son kan lê nie.”

Die ideale vervoermiddel?

Fietstaxi’s, ook bekend as riksjafietse, word al dekades lank in Indië gebruik. Maar die tydskrif Outlook sê dat hulle onveranderd gebly het, met “’n swaar houtstruktuur, ’n groot gietysteronderstel, ongemaklike skuins sitplekke en geen ratte nie”. In onlangse jare was daar baie teenkanting teen hulle gebruik weens die las wat dit op die drywers plaas, wat dikwels ouer, ondervoede mans is. Aangesien lugbesoedeling gevaarlike vlakke in Indië bereik, word daar nou opnuut na die riksjafietse gekyk. ’n Firma in Delhi het met ’n ontwerp vorendag gekom wat gekenmerk word deur ’n baie ligter en meer vaartbelynde struktuur wat windweerstand verminder, ’n ratstelsel wat dit baie makliker maak om te trap, ergonomies korrekte saals, handvatsels wat gewrigspanning verminder en breër, gemakliker passasiersitplekke. Volgens T. Vineet, die projekleier, “pas dit in by vandag se polities korrekte atmosfeer waar menseregte en ’n besoedelingvrye omgewing die modewoorde is”. Outlook sê: “Die nederige riksja kan nog die ideale vervoermiddel van die 21ste eeu word.”

Onvervangbare pos

Tot op hede “het die tegnologie nog nie daarin geslaag om die impak van ’n brief te vervang nie”, sê die koerant Le Figaro. In 1999 het die Franse posdiens ’n rekord van 25 miljard briewe afgelewer. Hiervan was 90 persent sakepos, en net 10 persent persoonlike korrespondensie. Amper die helfte van alle pos wat gestuur is, het die een of ander vorm van reklame behels, en 98 persent van dié wat ondervra is, het beweer dat hulle dit noukeurig gelees het. Elke dag doen Frankryk se 90 000 posbodes, waarvan 40 persent vroue is, meer as 72 000 rondtes om die 60 miljoen briewe af te lewer wat daagliks gepos word.

Bekommerde onderskrywers

Die Franse koerant Le Monde het berig dat 1999 “’n ellendige jaar vir herversekering” was. Natuurrampe het in 1998 skade ten bedrae van 570 miljard rand aangerig, waarvoor versekeringsmaatskappye vergoeding van 95 miljard rand uitbetaal het. Maar 1999—wat deur aardbewings in Turkye en Taiwan, tifone in Japan, oorstromings in Indië en Viëtnam en ander rampe gekenmerk is—kan versekeraars selfs meer kos. Versekeringonderskrywers is bekommerd oor die toenemende moontlikheid van groot rampe in digbevolkte gebiede. Die wêreld se grootste versekeringonderskrywer waarsku teen “die vernietigende gevolge” van aardverwarming en “die uitwerking van mensebedrywighede op klimaatstoestande”.

Mount Everest nou selfs hoër

“Mount Everest, die wêreld se hoogste berg, is selfs hoër as wat wetenskaplikes vroeër gedink het, en dit groei steeds”, sê ’n onlangse Reuters-verslag. “Deur van gevorderde satellietstelsels gebruik te maak, het klimmers gemeet dat Everest 29 035 voet [8 850 m] hoog is—omtrent vyf en ’n half myl . . . Dit is sewe voet [2 m] hoër as die vorige amptelike meting van 29 028 voet [8 848 m], wat destyds in 1954 gedoen is.” Die nuwe syfer is die hoogte van die sneeubedekte spits. Die hoogte van die eintlike rotskruin daaronder is nog onbekend. Die National Geographic Society neem hierdie nuwe syfer vir hulle kaarte aan. Behalwe dat die berg hoër word, beweeg dit—eintlik die hele Himalaja-bergreeks—teen 1,5 millimeter tot 6 millimeter per jaar in ’n noordoostelike rigting na China toe.