Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Noodlenigingswerk ná die storms in Frankryk

Noodlenigingswerk ná die storms in Frankryk

 Noodlenigingswerk ná die storms in Frankryk

Deur Ontwaak!-medewerker in Frankryk

FRANÇOISE het die deur oopgemaak om hout vir die kaggel te kry. “Ek kon my oë eenvoudig nie glo nie”, sê sy. “Die water was tot by die drumpel, en ’n groot golf het deur die tuinhekkie gestroom.” Haar man, Thierry, met water tot by sy nek, het ’n leer in die garage gaan haal. Die gesin het die solderkamer bereik, waar hy ’n opening in die dak gesny het. Papnat en vreesbevange het die egpaar en hulle drie kinders vier lang ure gewag om gered te word. ’n Franse polisiehelikopter het hulle uiteindelik gekry en hulle na veiligheid opgehys.

Riviere het hulle oewers oorstroom as gevolg van stortreën, en dit het dyke gebreek en brûe vernietig. Modderwater, met golwe wat soms tien meter hoog was, het alles in hulle pad meegesleur. Meer as 30 mense is in die storm dood—hulle was in hulle motors vasgekeer of het in hulle slaap verdrink. Een slagoffer wat gered is, het die verskriklike Novembernag met die “tyd van die einde” vergelyk. ’n Hele gebied in suidwestelike Frankryk—329 dorpe—is ’n rampgebied verklaar.

Die ergste het nog voorgelê

Die suidwestelike dele was nog besig met opruimingswerk toe nog ’n ramp hulle tref. ’n Buitengewone sterk laagdrukstelsel oor die Atlantiese Oseaan het orkaansterkte winde laat ontstaan. Die eerste stormwind het op 26 Desember 1999 oor die noordelike dele van Frankryk getrek, en die tweede het die suide die volgende nag verwoes. Windsnelhede van meer as 200 kilometer per uur is opgeteken. Volgens amptelike verslae het Frankryk ten minste nie sedert die 17de eeu so ’n storm gehad nie.

 Hélène was agt maande swanger ten tye van die storm. “Ek was verskriklik bang”, sê sy. “My man was met sy motorfiets op pad huis toe, en buite het ek takke oral sien rondwaai. Ek kon nie help om daaraan te dink dat hy nooit sy baba sou sien nie. My man het skaars tuisgekom toe die water in ons huis begin styg het. Ons moes deur die venster uitspring.”

In Frankryk het ten minste 90 mense gesterf. Party het verdrink en ander is deur vallende dakteëls, skoorstene of bome getref. Honderde ander is erg beseer, onder meer ’n aantal burgerlike en militêre reddingswerkers. Die stormwinde het ook buurlande getref, en meer as 40 mense is dood in Brittanje, Duitsland, Spanje en Switserland.

Die nadraai

Van Frankryk se 96 administratiewe gebiede is 69 amptelik tot “natuurrampgebiede” verklaar. Na raming was die skade ongeveer 70 miljard frank (R74 miljard). Die verwoesting in party stede, dorpe en hawens het diegene wat dit gesien het aan ’n oorlogsgebied herinner. Bome of elektriese spantorings wat omgeval het, het paaie en spoorlyne versper. Dakke is van geboue afgeruk, hyskrane het omgeval en bote is op die kaaie gegooi. Duisende plantkwekers het hulle lewensbestaan verloor omdat kweekhuise en boorde vernietig is.

In net ’n paar uur het die wind Frankryk se woude en parke verwoes en honderdduisende hektaar bosgebied met die grond gelykgemaak. Volgens die Franse Nasionale Bosboudepartement is daar na raming 300 miljoen bome vernietig. Indrukwekkende bome wat al eeue oud is, is ontwortel of soos vuurhoutjies gebreek. Die wind het groot gebiede in die woude van Aquitanië en Lotharinge platgevee.

“Die dag ná die storm het ek in die woude ingegaan”, het Bernard gesê, wat een van Jehovah se Getuies is en as ’n bosbewaarder werk. “Dit was verbasend. Wanneer ’n mens so ’n toneel sien, kan jy nie help om ontroer te word nie! Hier is 80 persent van ons gemeente afhanklik van die woud vir hulle bestaan. Mense, veral die bejaardes, ly erg aan skok.” Op die terrein van die paleis van Versailles is 10 000 bome vernietig. “Dit sal die park  twee eeue neem om weer soos vantevore te lyk”, het een van die hooftuiniers gekla.

Meer as ’n sesde van die Franse bevolking was in duisternis gedompel toe kragpale omgeval het. Ten spyte van die moedige pogings van die openbare dienste was tienduisende mense twee weke ná die storms nog steeds sonder elektrisiteit of telefoondienste. Party dorpies was geheel en al afgesny. Gesinne wat water uit putte moes optrek en kerse moes gebruik, het gevoel asof hulle honderd jaar gelede in plaas van op die drumpel van die 21ste eeu gelewe het.

Die storms het nie openbare geboue, kastele of katedrale gespaar nie. Heelwat godsdiensgeboue, insluitende 15 Koninkryksale van Jehovah se Getuies, is beskadig. In party plekke is vergaderinge by kerslig of paraffienlampe gehou.

Die eiendom van ongeveer 2 000 gesinne van Jehovah se Getuies is deur die storm beskadig. Dit het gewissel van bome wat omgeval het of dakteëls wat weg is tot huise wat totaal vernietig is toe riviere hulle oewers oorstroom het. ’n Hele paar Getuies is beseer. Dit was tragies toe ’n 77-jarige Getuie van die Charente-streek verdrink het terwyl sy vrou magteloos toegekyk het. Ander het byna hulle lewe verloor. Gilbert, wat 70 jaar oud is, sê: “Dis ’n wonderwerk dat ek nie dood is nie. Die deur het oopgebars, en water het met ontsettende krag ingestroom. Ek was onmiddellik in water wat ’n meter en ’n half diep was. Ek het bly lewe omdat ek aan my klerekas vasgeklou het.”

Die nodige hulp word voorsien

Die storms het buitengewone eenheid in Frankryk en die hele Europa bewerkstellig. Die koerant Le Midi libre het gesê: “Daar is tye wanneer liefdadigheid byna verpligtend is, hetsy ’n mens dit spontaan, uit vriendskap of weens jou gewete doen.”

Onmiddellik ná die storms het Jehovah se Getuies komitees gevorm om die  reddingswerk te reël om plaaslike gemeentelede asook ander te help wat deur die ramp getref is. Streekboukomitees, wat gewoonlik gebruik word om Koninkryksale te bou, het vrywilligers in spanne georganiseer. Ná die storm in November in die suidwestelike dele het 3 000 Getuies aan die reddings- en opruimingswerk deelgeneem deur die slagoffers te help om die modder en water te verwyder wat hulle huise oorstroom het. Die Getuies was van die eerste vrywilligers wat in party dorpies aangekom het. Openbare geboue, soos skole, poskantore, stadsale, ouetehuise en selfs ’n begraafplaas, is deur die Getuies skoongemaak. In baie gevalle het hulle saam met noodlenigingsdienste gewerk.

Hulp is aan almal verleen, ongeag hulle godsdiensoortuigings. “Ons het die dorp se priester gehelp. Ons  het die kelderverdieping van sy huis skoongemaak”, het een Getuie gesê. Oor ander wat hulp van die Getuies ontvang het, het hy voorts gesê: “Mense het ons beskou asof ons uit die hemel geval het om hulle te help.” Een amptenaar het gesê: “Jy kan dit beskou as hulle manier om die Evangelie te lees en hulle naaste te help. Ek dink dat dié wat gekom het die Evangelie en hulle godsdiens uitgelewe het.” ’n Getuie-vrywilliger het gesê: “Jou hart beweeg jou om te kom en so te help. Dit is werklik aangenaam om iets vir ons naaste te kan doen.”

Ná die twee stormwinde in Desember kon tientalle Getuie-families dae lank nie met hulle Christenbroers in aanraking kom nie. Onder die toesig van reisende opsieners en plaaslike ouer manne is noodlenigingspogings georganiseer. Paaie wat versper was en telefoonlyne wat nie gewerk het nie, het dit soms onmoontlik gemaak om broers te bereik wat net ’n paar kilometer verder gewoon het. Ten spyte van die gevaar dat bome kon omval, het party Getuies te voet of per fiets deur verwoeste woude gegaan om afgesonderde lede van hulle gemeente te help. Die vrywilligers het weer eens hard gewerk om skole, biblioteke, kampeerplekke en die bure se huise skoon te maak en bospaadjies oop te maak.

’n Atmosfeer van liefde

Vir baie slagoffers van hierdie rampe, veral jong kinders en die bejaardes, was dit ’n traumatiese ondervinding. Diegene wat hulle huis of ’n geliefde verloor het, sal baie tyd en ondersteuning van familie en vriende nodig hê om weer ’n normale lewe te lei. Ná die vloede in die Aude-streek het dr. Gabriel Cottin, van ’n psigo- mediese noodgevallekomitee, gesê: “Enige ondersteuning van mense van dieselfde godsdiensorganisasie as die slagoffer is ook van groot hulp.”

Jehovah se Getuies beskou sulke hulp as ’n morele en skriftuurlike verpligting. “Daar [moet] geen verdeeldheid in die liggaam [van die ware Christengemeenskap] . . . wees nie”, het die apostel Paulus gesê. “Die lede daarvan [moet] dieselfde sorg vir mekaar . . . dra. En as die een lid ly, ly al die ander lede saam met hom.”—1 Korintiërs 12:25, 26.

“Binne ure ná die storm het tientalle Christenbroers en -susters na ons huis toe gekom om alles te help skoonmaak”, sê Hélène, wat vroeër genoem is en nou die ma van ’n woelige babadogtertjie is. “Selfs Getuies wat self deur die storm geraak is, het ons kom help. Die hulp was so wonderlik—spontaan en uit die hart!”

Odette, wie se huis deur die vloedwater vernietig is, het van mede-Getuies gesê: “Hulle het my baie vertroos. Jy kan net nie woorde vind om te beskryf hoe jy voel nie. Alles wat vir my gedoen is, het my diep geroer.” Iemand anders het die gevoelens van baie opgesom deur in waardering uit te roep: “Ons geniet werklik ’n atmosfeer van liefde!”

[Venster/Prent op bladsy 18, 19]

“SWART GETY”

In die middel van Desember, net voor die storms, het die reusetenkskip Erika in onstuimige waters ongeveer 50 kilometer van Frankryk se weskus af gesink en 10 000 ton olie in die water gestort. Ongeveer 400 kilometer van die kuslyn van Bretagne tot by Vendée was besoedel. Die storm het hierdie ekologiese ramp vererger deur die olie in ’n mag der menigte klein oliekolle op te breek, wat die besoedeling versprei het en selfs moeiliker gemaak het om te verwyder. Duisende vrywilligers, oud en jonk, het van oor die hele Frankryk gekom om hierdie klewerige olie van die rotse en sand te help verwyder.

Die ongeluk het die see se ekologie geweldig beskadig. Die oester- en skulpvisbedryf is nadelig beïnvloed. Volgens voëlkundiges het ten minste 400 000 seevoëls—papegaaiduikers, fute, seeganse en veral duikerhoenders—doodgegaan. Dit is omtrent tien keer meer as die aantal wat dood is nadat die reusetenkskip Amoco Cadiz in Maart 1978 aan die kus van Bretagne gestrand het. Baie van die voëls het op Frankryk se kus oorwinter ná hulle migrasie van Engeland, Ierland en Skotland af. Die direkteur van die Rochefort-voëlbeskermingsbond het gesê: “Dit is ’n katastrofiese olielaag. Dit is verreweg die ergste wat ons al gesien het. . . . Ons vrees dat skaars voëlgemeenskappe sal verswak of selfs van die Franse kuslyn af sal verdwyn.”

[Erkenning]

© La Marine Nationale, France

[Prent op bladsy 15]

Honderde is deur helikopters gered, soos hier in Cuxac d’Aude

[Erkenning]

B.I.M.

[Prent op bladsy 15]

In die middel van verwoeste wingerde lê ’n gebuigde spoorlyn wat nou nêrens heen lei nie

[Erkenning]

B.I.M.

[Prent op bladsy 15]

Honderde platgedrukte motors het oor die landskap verspreid gelê

[Prent op bladsy 16]

In Villedaigne was hierdie man sewe uur lank vasgekeer

[Erkenning]

J.-M Colombier

[Prent op bladsy 16, 17]

Dennebome het soos vuurhoutjies in die Creuse-gebied gebreek

[Erkenning]

© Chareyton/La Montagne/MAXPPP

[Prent op bladsy 16, 17]

Net in die tuine van die paleis van Versailles is 10 000 bome vernietig

[Erkenning]

© Charles Platiau/Reuters/MAXPPP

[Prent op bladsy 17]

Die volgende oggend in Saint-Pierre-sur-Dives, Normandië

[Erkenning]

© M. Daniau/AFP

[Prente op bladsy 18]

Spanne wat uit Jehovah se Getuies bestaan het, maak die ouetehuis in La Redorte skoon (bo) asook die stadsaal van Raissac d’Aude (regs)