Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die manipulasie van inligting

Die manipulasie van inligting

 Die manipulasie van inligting

“Deur die vindingryke en volgehoue gebruik van propaganda kan selfs die hemel vir mense as die hel voorgestel word en, omgekeerd, die ellendigste lewe as ’n paradys.”—ADOLF HITLER, MEIN KAMPF.

NAMATE kommunikasiemiddele toegeneem het—van die drukpers tot die telefoon, radio, televisie en die Internet—het die vloei van oorredende boodskappe dramaties toegeneem. Hierdie kommunikasierevolusie het tot ’n inligtingsontploffing gelei, aangesien mense deur tallose boodskappe uit elke oord toegegooi word. Baie reageer op hierdie druk deur boodskappe vinniger te absorbeer en te aanvaar sonder om dit te ondersoek of te ontleed.

Die slinkse propagandis hou van sulke kortpaaie—veral dié wat rasionele denke omseil. Propaganda moedig dit aan deur die emosies op te wek, onsekerhede uit te buit, munt te slaan uit die dubbelsinnigheid van taal en deur die reëls van logika te verdraai. Soos die geskiedenis toon, kan sulke taktiek baie doeltreffend wees.

’n Geskiedenis van propaganda

Vandag het die woord “propaganda” die negatiewe bybetekenis van oneerlike taktiek, maar oorspronklik is dit nie wat die woord veronderstel was om te beteken nie. “Propaganda” kom blykbaar van die Latynse naam van ’n groep Rooms-Katolieke kardinale, die Congregatio de Propaganda Fide (Kongregasie vir die Verbreiding van die Geloof). Hierdie komitee—wat kortweg Propaganda genoem is—is in 1622 deur pous Gregorius XV gestig om oor sendelinge toesig te hou. Geleidelik het “propaganda” begin verwys na enige poging om ’n opvatting te versprei.

Maar die konsep van propaganda is nie in die 17de eeu gebore nie. Van die oudste tye af het die mens elke beskikbare medium gebruik om ideologieë te versprei of om sy roem en mag te vergroot. Kuns het byvoorbeeld sedert die dae van die Egiptiese farao’s ’n propagandistiese doel gedien. Hierdie konings het hulle piramides ontwerp om ’n beeld van mag en duursaamheid uit te dra. Die boukuns van die Romeine het eweneens ’n politieke funksie gehad—die verheerliking van die staat. Die woord “propaganda” het gedurende  die Eerste Wêreldoorlog oor die algemeen ’n negatiewe bybetekenis gekry toe regerings die inligting wat die media oor die oorlog versprei het begin manipuleer het. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Adolf Hitler en Joseph Goebbels hulle as uitstaande propagandiste onderskei.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het propaganda in toenemende mate ’n instrument geword om landsbeleid te bevorder. Die Weste sowel as die Oosblok het alles in hulle vermoë gedoen om die ondersteuning te kry van die groot massas mense wat nog nie kant gekies het nie. Elke aspek van die volkslewe en landsbeleid is vir propagandistiese doeleindes uitgebuit. In onlangse jare het propagandategnieke al hoe meer gesofistikeerd geword, soos duidelik in verkiesingsveldtogte en advertensies van tabakmaatskappye gesien word. Sogenaamde kenners en ander leiers is in diens geneem om die rookgewoonte voor te stel as iets wat jou aantreklik en gesond laat lyk en nie as die gesondheidsgevaar wat dit eintlik is nie.

 Leuens, leuens!

Die nuttigste taktiek van die propagandis is die gebruik van blatante leuens. Dink byvoorbeeld aan die leuens wat Martin Luther in 1543 oor die Jode in Europa geskryf het: “Hulle het putte vergiftig, moorde gepleeg, kinders ontvoer . . . Hulle is venynig, bitter, wraaksugtig, geslepe slange, moordenaars en duiwelskinders wat ander pynig en leed aandoen.” Sy aanbeveling vir sogenaamde Christene? “Steek hulle sinagoges of skole aan die brand . . . Hulle huise [moet] ook afgebreek en vernietig word.”

’n Professor in staatkunde en sosiale studie wat daardie era bestudeer het, sê: “Anti-Semitisme het in wese niks te doen met die optrede van die Jode nie en het derhalwe in wese niks te doen met ’n anti-Semiet se kennis van die ware karakter van die Jode nie.” Hy sê ook: “Die Jode het alles verteenwoordig wat verkeerd was, sodat mense onmiddellik op ’n natuurlike of maatskaplike euwel gereageer het deur na die veronderstelde Joodse oorsaak daarvoor te soek.”

Veralgemenings

Nog ’n baie suksesvolle taktiek van propaganda is veralgemening. Veralgemenings is geneig om belangrike feite omtrent die ware geskille te vertroebel, en dit word dikwels gebruik om hele groepe mense te verneder. “Sigeuners [of immigrante] is diewe” is byvoorbeeld ’n uitdrukking wat dikwels in party Europese lande gehoor word. Maar is dit waar?

Richardos Someritis, ’n rubriekskrywer, sê dat sulke idees in een land ’n soort “xenofobiese en baie dikwels rassistiese waansin” teenoor buitelanders tot gevolg gehad het. Daar is egter bewys dat dit net so waarskynlik is dat misdadigers in daardie land daar gebore is as dat hulle buitelanders is. Someritis meld byvoorbeeld dat opnames getoon het dat “96 uit 100 misdade [in Griekeland] deur [Grieke] gepleeg word”. “Die oorsake van misdaad is ekonomies en maatskaplik van aard”, sê hy, “en is nie op ‘ras’ gegrond nie.” Hy gee die media die skuld dat hulle “xenofobie en rassisme stelselmatig aanhelp” deur skewe beriggewing oor misdaad.

Skelname

Party mense beledig dié wat met hulle verskil deur hulle karakter of motiewe te bevraagteken pleks van hulle op die feite toe te spits. ’n Skelnaam heg ’n negatiewe etiket wat maklik is om te onthou aan die persoon, groep of idee waaraan dit gegee word. Die persoon wat die skelnaam gee, hoop dat die etiket ’n blywende indruk sal laat. As mense die persoon of die idee op grond van die negatiewe etiket verwerp en nie omdat hulle self die getuienis oorweeg het nie, het die taktiek van die een wat die skelnaam gegee het, gewerk.

In onlangse jare het ’n sterk gevoel teen sektes byvoorbeeld in baie lande in Europa en elders versprei. Hierdie neiging het emosies opgewek, die beeld van ’n vyand geskep en bestaande vooroordele teen godsdiensminderhede versterk. “Sekte” word dikwels ’n modewoord. “‘Sekte’ is ’n ander woord vir ‘ketter’”, het die Duitse professor Martin Kriele in 1993 geskryf, “en vandag is ’n ketter in Duitsland, net soos in vorige tye, [tot vernietiging verdoem]—indien nie met vuur nie . . . dan deur karakterskending, isolasie en ekonomiese vernietiging.”

Die Instituut vir die Ontleding van Propaganda sê dat “kleinerende name ’n geweldig invloedryke rol in die geskiedenis van die wêreld en in ons eie persoonlike ontwikkeling gespeel het. Dit het reputasies geskend, . . . [mense] in tronkselle laat beland en mense kwaad genoeg gemaak om oorlog te voer en hulle medemens te vermoor.”

Hulle speel op die emosies

Hoewel gevoelens dalk nie ter sake is by die vermelding van feite of die logika van ’n argument nie, speel dit ’n deurslaggewende rol in oorreding. Ervare reklamebeamptes kan net  so goed op mense se gevoelens speel as wat ’n konsertpianis die klavier kan speel.

Vrees is byvoorbeeld ’n emosie wat oordeel kan vertroebel. En soos jaloesie kan vrees uitgebuit word. Die Kanadese koerant The Globe and Mail, van 15 Februarie 1999, het die volgende uit Moskou berig: “Toe drie meisies verlede week in Moskou selfmoord gepleeg het, het die Russiese media onmiddellik beweer dat hulle fanatiese aanhangers van Jehovah se Getuies was.” Let op die woord “fanatiese”. Dit is vanselfsprekend dat mense bang sal wees vir ’n fanatiese godsdiensorganisasie wat jongmense kwansuis tot selfmoord dryf. Het hierdie ongelukkige meisies werklik die een of ander verbintenis met Jehovah se Getuies gehad?

Die Globe het voorts gesê: “Die polisie het later erken dat die meisies niks met [Jehovah se Getuies] te doen gehad het nie. Maar teen daardie tyd het ’n televisiestasie in Moskou reeds ’n nuwe aanval teen die sekte geloods deur vir kykers te sê dat Jehovah se Getuies in Nazi-Duitsland met Adolf Hitler saamgewerk het—ondanks geskiedkundige bewyse dat duisende van hulle lede slagoffers van die Nazi-doodskampe was.” In die gedagtes van die verkeerd ingeligte en moontlik vreesbevange publiek was Jehovah se Getuies óf ’n selfmoordkultus óf Nazi-medewerkers!

Haat is ’n sterk emosie waarvan propagandiste gebruik maak. Gelaaide taal is veral doeltreffend om dit aan te wakker. Dit lyk asof daar ’n byna eindelose arsenaal van beledigende woorde is wat haat teenoor bepaalde rasse-, etniese of godsdiensgroepe verwek en uitbuit.

Party propagandiste buit trots uit. Ons kan dikwels agterkom wanneer daar ’n beroep op ons trots gedoen word wanneer ons uitdrukkings sien soos: “Enige intelligente persoon weet dat . . . ” of “Iemand met jou opvoeding moet erken dat . . . ” ’n Omgekeerde beroep op ons trots buit ons vrees uit om dom te lyk. Professionele oorreders weet dit alte goed.

Slagspreuke en simbole

Slagspreuke is vae stellings wat gewoonlik gebruik word om standpunte of doelstellings uit te druk. Omdat dit so vaag is, is dit maklik om daarmee saam te stem.

Wanneer daar byvoorbeeld ’n nasionale krisis of konflik is, gebruik opswepers moontlik slagspreuke soos “My land, reg of verkeerd”, “Vaderland, Godsdiens, Familie” of “Vryheid of die Dood”. Maar ontleed die meeste mense die ware geskille wat by die krisis of konflik betrokke is? Of aanvaar hulle net wat vir hulle gesê word?

Toe Winston Churchill oor die Eerste Wêreldoorlog geskryf het, het hy gesê: “’n Teken is al wat nodig is om hierdie massa vreedsame landbouers en werkers in die ontsaglike leermagte te verander wat mekaar aan stukke sal skeur.” Hy het verder gesê dat die meeste mense reageer sonder om te dink wanneer daar vir hulle gesê word wat om te doen.

Die propagandis het ook ’n wye verskeidenheid simbole en tekens waarmee hy sy boodskap kan oordra—’n salvo van 21 skote, ’n militêre saluut, ’n vlag. Liefde vir jou ouers kan ook misbruik word. Gevolglik is simbole soos die vaderland of die moederkerk waardevolle instrumente in die hande van die slim oorreder.

Die listige kuns van propaganda kan dus jou denkwyse aantas, helder denke en onderskeidingsvermoë belemmer en individue kondisioneer om as deel van ’n massa op te tree. Hoe kan jy jou daarteen beskerm?

[Lokteks op bladsy 8]

Die listige kuns van propaganda kan jou denkwyse aantas en helder denke belemmer

 [Venster/Prente op bladsy 7]

IS DIE WERK VAN JEHOVAH SE GETUIES PROPAGANDISTIES?

Party teenstanders van Jehovah se Getuies het hulle daarvan beskuldig dat hulle Sionistiese propaganda versprei. Ander het die aantyging gemaak dat die bediening van die Getuies Kommunisme bevorder. Ander het weer beweer dat die werk van Jehovah se Getuies die ideale en belange van “Amerikaanse imperialisme” bevorder. En daar is diegene wat volhou dat die Getuies anargiste is wat wanorde aanstook met die doel om die maatskaplike, ekonomiese, politieke of regsorde te verander. Hierdie botsende aantygings kan natuurlik nie almal waar wees nie.

Die eenvoudige waarheid is dat Jehovah se Getuies nie een van die bogenoemde dinge doen nie. Die werk van die Getuies word gedoen uit getroue gehoorsaamheid aan Jesus Christus se opdrag aan sy dissipels: “Julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). Hulle werk is uitsluitlik toegespits op die goeie nuus van die hemelse Koninkryk—God se instrument om vrede na die hele aarde te bring.—Matteus 6:10; 24:14.

Mense wat met Jehovah se Getuies bekend is, het geen bewys gevind dat hierdie Christengemeenskap al ooit ’n invloed was wat die goeie orde van enige land probeer ondermyn het nie.

Baie joernaliste, regters en ander het al kommentaar gelewer oor die positiewe invloed wat Jehovah se Getuies het in die gemeenskappe waarin hulle woon. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde. Nadat ’n verslaggewer van suidelike Europa ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon het, het sy gesê: “Hierdie mense het sterk familiebande, hulle word geleer om lief te hê en na hulle gewete te luister sodat hulle ander nie leed aandoen nie.”

’n Ander joernalis wat vroeër negatief oor die Getuies was, het gesê: “Hulle lei ’n voorbeeldige lewe. Hulle skend nie die standaarde van wat sedelik en reg is nie.” ’n Politoloog het eweneens oor die Getuies gesê: “Hulle behandel ander mense met opregte goedhartigheid, liefde en vriendelikheid.”

Jehovah se Getuies leer ander dat dit reg is om jou aan gesag te onderwerp. As wetsgehoorsame burgers volg hulle die Bybel se standaard van eerlikheid, waarheidliewendheid en sindelikheid. Hulle bou goeie sedes in hulle eie gesinne, en hulle help ander om te leer hoe hulle dit ook kan doen. Hulle lewe in vrede met alle mense en raak nie by ontwrigtende betogings of politieke revolusies betrokke nie. Jehovah se Getuies probeer ’n goeie voorbeeld stel in hulle gehoorsaamheid aan die wette van die menslike hoër owerhede, terwyl hulle geduldig op die Oppergesag, die Soewereine Heer Jehovah, wag om volmaakte vrede en ’n regverdige heerskappy op hierdie aarde te herstel.

Die werk van die Getuies is terselfdertyd opvoedkundig. Hulle gebruik die Bybel as grondslag en leer mense in alle wêrelddele om oor Bybelbeginsels te redeneer en so regte standaarde van gedrag en sedelike integriteit aan te kweek. Hulle bevorder waardes wat die gesinslewe verbeter en jongmense help om hulle unieke uitdagings die hoof te bied. Hulle help mense ook om die krag te vind om slegte gewoontes af te leer en die vermoë te ontwikkel om met ander oor die weg te kom. So ’n werk kan nouliks “propaganda” genoem word. In ’n klimaat waar idees vryelik sirkuleer, “verskil propaganda van opvoeding”, sê The World Book Encyclopedia.

[Prente]

Publikasies van Jehovah se Getuies bevorder gesinswaardes en hoë sedelike standaarde

[Prente op bladsy 5]

Propaganda wat oorlogvoering en die rookgewoonte bevorder, het tot baie sterftes bygedra