Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die gevare van rylopery

Die gevare van rylopery

 Die gevare van rylopery

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

Op ’n warm somersdag in 1990 het die 24-jarige Britse rugsakreisiger Paul Onions op die Hume-hoofweg, suid van Sydney, Australië, geryloop. Paul was dankbaar toe ’n vreemdeling stilhou om hom ’n geleentheid te gee. Hy het glad nie geweet dat dit hom amper sy lewe sou kos nie. *

PAUL het in die voorste sitplek van die voertuig gesit en met die bestuurder gesels, heeltemal onbewus van enige gevaar. Binne minute het die skynbaar goedgunstige bestuurder aggressief en stryerig geword. Toe het die bestuurder skielik uit die pad getrek en gesê dat hy musiekkassette onder die sitplek wou uithaal. Hy het nie kassette nie, maar ’n vuurwapen uitgehaal—wat hy teen Paul se bors gehou het.

Paul het die bestuurder se bevel om te bly sit, geïgnoreer, sy sitplekgordel afgeruk, uit die motor geduik en so vinnig as wat hy kon al langs die hoofweg gehardloop. Die bestuurder het hom te voet agternagesit, hoewel ander motoriste kon sien wat gebeur. Hy het hom uiteindelik ingehaal, aan sy T-hemp gegryp en teen die grond gegooi. Paul het hom losgeruk, voor ’n aankomende voertuig ingehardloop en die verskrikte bestuurder, ’n moeder met kinders, gedwing om stil te hou en haar om hulp gesmeek. Die vrou het hom laat inklim, oor die verkeerseiland gery en weggejaag. Paul se aanvaller is eers later as ’n reeksmoordenaar geïdentifiseer wat sewe rugsakreisigers vermoor het, waarvan party in pare geryloop het.

Wat het hierdie slagoffers sulke aanloklike teikens vir die moordenaar gemaak?  By die moordenaar se verhoor het die regter gesê: “Al die slagoffers was jonk. Hulle was tussen 19 en 22 jaar oud. Almal het ver van die huis af gereis, gevolglik sou hulle nie gou vermis word as enigiets met hulle gebeur het nie.”

Vryheid om te gaan waar jy wil

Dit is vandag vir baie meer mense moontlik om in die buiteland te reis as wat dit ’n paar jaar gelede was. Byvoorbeeld, oor ’n tydperk van vyf jaar het die aantal Australiërs wat Asië besoek het meer as verdubbel. Baie tieners en jong volwassenes gaan per vliegtuig na verafgeleë bestemmings op soek na ondervinding en avontuur. Baie van hierdie reisigers beplan om te ryloop om hulle uitgawes te besnoei. Ongelukkig is dit in die meeste wêrelddele nie meer so interessant en betreklik veilig om te ryloop soos dit vroeër was nie—nie vir die rylopers of diegene wat hulle oplaai nie.

’n Positiewe gesindheid en entoesiasme om te reis, kan eenvoudig nie nugtere, praktiese wysheid vervang nie. “Omdat jong mense gretig is om te reis, maak dit dikwels dat hulle vertrek sonder om behoorlik voorbereid te wees vir die reis en sonder om die gevare of hulle verantwoordelikhede ten volle te verstaan”, sê ’n boekie wat vir gesinne geskryf is wat na hulle vermiste kinders soek.

Die boekie voeg by: “Mense wat met ’n georganiseerde toergroep reis, op ’n sakereis is of ’n goed beplande reisplan volg, word baie selde vermis. Hetsy in Australië of in ’n ander land, die meeste mense wat uiteindelik vermis verklaar word, is blykbaar rugsakreisigers en diegene wat goedkoop reis.”

Of ’n mens nou ryloop of nie, as jy sonder ’n reisplan reis—al is dit aanloklik vir party wat nie ingeperk wil voel nie—kan dit jou meer aan gevaar blootstel. Wanneer familielede en vriende nie weet waar ’n reisiger hom bevind nie, kan hulle nie van veel hulp wees in geval van nood nie. Sê byvoorbeeld ’n reisiger beland bewusteloos in ’n hospitaal en niemand by die huis weet waar hy is nie?

Behou kontak

Die Britse joernalis Richard Shears het in sy boek Highway to Nowhere oor sewe vermiste rylopers geskryf wat “skielik opgehou het om met hulle familie en vriende te kommunikeer”. Natuurlik sal die familie aan die begin moontlik nie seker wees of hulle familielid verdwyn het en of hy net nie in kontak bly nie. Dit kan hulle huiwerig maak om dit by die owerheid aan te meld wanneer hulle nie van die reisiger hoor nie.

Een van die rylopers se telefoongesprekke met haar ouers is dikwels kortgeknip wanneer haar kleingeld opgeraak het. Wanneer die ouers terugdink aan wat gebeur het, moedig hulle families aan om hulle kinders van foonkaarte of van ’n ander manier te voorsien om huis toe te bel. Hoewel dit moontlik nie hierdie jong vrou se lewe sou gered het nie, kan gereelde kommunikasie die reisiger dikwels help om kleiner probleme te voorkom of ten minste te oorkom.

Die sewe rugsakreisigers wat hulle lewe verloor het, het miskien die reisgidse gelees wat Australië een van die veiligste lande ter wêreld vir rylopers noem. Dit was nietemin weer eens onverstandig om te ryloop—selfs in pare en selfs in een van die “veiligste” lande.

[Voetnoot]

^ par. 3 Rylopery is onwettig in sommige plekke.

[Prent op bladsy 27]

Ouers kan onnodige kommer uitskakel deur hulle kinders van foonkaarte of van ’n ander manier te voorsien om huis toe te bel