Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hedendaagse grotbewoners

Hedendaagse grotbewoners

 Hedendaagse grotbewoners

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN LESOTHO

GROTBEWONERS in ons tyd? Ons het van hulle in Lesotho gevind, ’n bergagtige koninkryk in Suider-Afrika. Hulle dorpie, Ha Kome, is ongeveer 60 kilometer van Maseru, die hoofstad van Lesotho, tussen die voetheuwels van die majestueuse Malutiberge geleë. Gedurende die somermaande is hierdie berghange dikwels met helder rooi blomme bedek. Hierdie pragtige blomme, wat dikwels vuurpyle genoem word, vorm ’n treffende kontras met die welige groen plantegroei van die gebied.

 Verskeie families wat hier woon, volg ’n eeue oue lewenswyse. Hulle bou hulle huise binne-in die grotte van die berghang. Stokke en ander materiaal, soos riete, maak die raamwerk van die dik voorste muur uit. Die muur word met ’n mengsel van modder en beesmis gepleister. Hierdie pleister bied ’n mate van beskerming teen Lesotho se koue winters, wanneer die temperatuur tot onder vriespunt kan daal. Binne-in die grot is daar ’n holte in die vloer wat ifo genoem word en “vuurmaakplek” beteken. Ook dit word gebruik om hitte te voorsien wanneer dit koud is.

Die dak, die agterste muur en dikwels die symure word alles deur die rotswande van die grot self gevorm. Dit word met ’n mengsel van modder en beesmis gepleister, ’n proses wat elke jaar herhaal word. Dit gee die rotswand ’n bietjie kleur en ’n gladder tekstuur. Die binnekant word met beesvelle versier, waarop hulle ook slaap.

Die Westerse besoeker sal die tradisionele lewenswyse verfrissend anders vind. Mense dra oor die algemeen kleurvolle komberse en keëlvormige grashoede. Kaalvoet veewagtertjies word dikwels gesien waar hulle hulle kuddes oppas. Die mans van die dorp sal óf besig wees om in hulle mielielande te werk óf lekker aan die gesels wees met ander mans.

Tekens van die moderne tegnologie word van tyd tot tyd gesien. Die klein vliegtuie wat soms verbyvlieg en vierwielaangedrewe voertuie wat besoekers na die grotte bring, amuseer oud en jonk in die dorpie. Die meeste van die kookwerk word buite oor ’n oop vuur in swart driepootpotte gedoen. Omdat daar so min vuurmaakhout is, word droë beesmis, riete en ’n paar takkies gebruik om mee vuur te maak. Algemene huishoudelike toerusting wat in hierdie grotwonings gevind word, sluit die tradisionele handmeul in om mielies mee te maal sowel as ’n stok om mieliepap mee te roer.

Lesotho is bekend vir sy Boesmantekeninge, wat in talle grotte en op rotse oral in die land gevind word. Boesmans was die eerstes wat in die grotte van Ha Kome gewoon het. Hulle tekeninge beeld ’n groot verskeidenheid bedrywighede uit, van mense wat met bote en nette visvang tot ingewikkelde danse waartydens die deelnemers blykbaar dieremaskers gedra het. Die tekeninge beeld ook diere uit, soos bobbejane, leeus, seekoeie en elande, die grootste van alle wildsbokke. Die meeste van die tekeninge in die grotte van Ha Kome het verdwyn. Slegs ’n paar tekeninge bestaan nog as herinneringe van die Boesmans se kunsvaardigheid.

Daar is ’n groep Jehovah se Getuies wat hulle predikingswerk in ’n gebied doen wat nie te ver van Ha Kome is nie. Van tyd tot tyd besoek hulle die grotbewoners, wat bekend is vir hulle gasvryheid teenoor besoekers. Die Getuies word dikwels met ’n bord pap verwelkom wat motoho genoem word. Baie in Ha Kome neem graag Bybellektuur. Hulle toon dikwels hulle waardering vir die lektuur deur groente, eiers of ander items as bydraes vir die Getuies se opvoedkundige werk te gee.

Hierdie hedendaagse grotbewoners het ’n diepe respek vir die Bybel en hou daarvan om baie vrae oor die lewe, die dood en hulle tradisionele opvattings te vra. Die werk van ywerige Getuies in daardie gebied het heelwat Bybelstudies opgelewer. Op hierdie manier het saadjies van waarheid vrugbare grond in die harte van hierdie nederige mense gevind.—Matteus 13:8.

[Kaart op bladsy 26]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

HA KOME