Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe gesinne met chroniese siekte saamleef

Hoe gesinne met chroniese siekte saamleef

 Hoe gesinne met chroniese siekte saamleef

OM MET iets te kan saamleef, kan beskryf word as “die vermoë om die druk waaraan ’n mens onderwerp word doeltreffend die hoof te bied en te verwerk” (Taber’s Cyclopedic Medical Dictionary). Dit behels dat ’n mens die probleme van chroniese siekte op so ’n manier die hoof bied dat jy ’n mate van beheer en gemoedsrus kan geniet. En in die lig van die feit dat die hele gesin deur chroniese siekte geraak word, is die liefdevolle en lojale ondersteuning van elke gesinslid nodig sodat die gesin suksesvol daarmee kan saamleef. Kom ons kyk na van die maniere waarop gesinne met chroniese siekte saamleef.

Die waarde van kennis

Dit is dalk onmoontlik om die siekte te genees, maar as ’n mens weet hoe om daarmee saam te leef, kan dit die verstandelike en emosionele uitwerking van die siekte verklein. Dit is in ooreenstemming met ’n ou spreuk wat sê: “’n Man van kennis ontwikkel krag” (Spreuke 24:5). Hoe kan ’n gesin die kennis kry wat nodig is om met die siekte saam te leef?

Die eerste stap is om ’n behulpsame dokter te vind wat ’n goeie kommunikeerder is, een wat gewillig is om die tyd te neem om alles sorgvuldig vir die pasiënt en die gesin te verduidelik. “Die ideale dokter”, sê die boek A Special Child in the Family, “is besorg oor die hele gesin en het ook al die nodige mediese vaardighede.”

Die volgende stap is om spesifieke vrae te vra totdat jy die situasie so goed as moontlik verstaan. Onthou egter dat dit maklik is om verbouereerd te raak en te vergeet wat jy wil vra wanneer jy by die dokter is. Een  nuttige wenk is om vrae voor die tyd neer te skryf. Jy wil dalk veral uitvind wat ’n mens te wagte kan wees van die siekte en die behandeling en wat jy daaromtrent kan doen.—Sien die venster “Vrae wat ’n gesin aan ’n dokter kan stel”.

Dit is veral belangrik om die broers of susters van ’n chroniese siek kind voldoende inligting te gee. “Verduidelik van die begin af wat verkeerd is”, raai een ma aan. “Hulle kan maklik voel dat hulle uit die familiekring gestoot word as hulle nie verstaan wat aangaan nie.”

Party gesinne het ook nuttige inligting gevind deur navorsing te doen in ’n plaaslike biblioteek, in ’n boekwinkel of op die Internet—en het heel dikwels omvattende inligting oor spesifieke siektes gekry.

Behou ’n redelike lewensgehalte

Dit is net natuurlik dat gesinslede wil hê dat die pasiënt ’n redelike lewensgehalte moet behou. Neem byvoorbeeld Neil du Toit, wat in die eerste artikel genoem is. Hy raak nog steeds gefrustreerd as gevolg van die aftakelende uitwerking van sy siekte. Hy bestee nietemin ongeveer 70 uur per maand aan wat hy die meeste geniet—om met mense in sy gemeenskap oor sy Bybelse hoop te praat. “Dit verskaf my ook innerlike bevrediging”, sê hy, “om Bybelonderrigting in die gemeente te gee.”

Lewensgehalte behels ook die vermoë om liefde te betoon en te ontvang, om aangename bedrywighede te geniet en om hoop te koester. Pasiënte wil nog steeds die lewe geniet in die mate wat hulle siekte en behandeling sal toelaat. ’n Pa wie se gesin al meer as 25 jaar met siekte saamleef, verduidelik: “Ons geniet die buitelewe, maar as gevolg van my seun se beperkings kan ons nie op staptoere gaan nie. Daarom doen ons dit anders. Ons besoek plekke waar ’n mens buite kan wees, maar dit nie nodig is om jou te veel in te span nie.”

Ja, pasiënte het steeds vermoëns wat dit vir hulle moontlik maak om ’n mate van bevrediging uit die lewe te put. Afhangende van die aard van die siekte kan baie nog steeds pragtige tonele en klanke waardeer. Hoe meer hulle in beheer van verskillende aspekte van hulle lewe kan voel, hoe waarskynliker is dit dat hulle ’n redelike lewensgehalte sal hê.

Hoe om moeilike emosies te hanteer

Dit is noodsaaklik dat ’n mens leer hoe om skadelike emosies te beheer. Een hiervan is woede. Die Bybel erken dat iemand dalk  met reg ontsteld kan wees. Maar dit spoor ons ook aan om “stadig tot toorn” te wees (Spreuke 14:29, NW). Waarom is dit verstandig om dit te doen? Volgens een naslaanwerk kan woede “jou van binne af verteer en jou verbitterd maak of tot gevolg hê dat jy skadelike dinge sê waaroor jy later spyt sal wees”. Net een woedeuitbarsting kan skade aanrig wat dalk lank sal neem om te herstel.

Die Bybel beveel aan: “Laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie” (Efesiërs 4:26). Ons kan natuurlik niks doen om te keer dat die son ondergaan nie. Maar ons kan stappe doen om ons “ergerlike gemoedstemming” gou te laat bedaar sodat ons nie sal voortgaan om onsself en ander skade aan te doen nie. En jy sal ’n situasie waarskynlik baie beter hanteer nadat jy bedaar het.

Soos met enige ander gesin sal daar goeie en slegte tye wees. Baie vind dat hulle met groter sukses met die situasie kan saamleef as hulle mekaar of iemand anders wat medelydend is en empatie betoon in hulle vertroue kan neem. Dit was veral so in Kathleen se geval. Sy het eers vir haar ma gesorg, wat kanker gehad het, en later vir haar man, wat aan chroniese depressie en uiteindelik Alzheimer se siekte gely het. Sy erken: “Dit het vir my ’n bron van verligting en vertroosting geword wanneer ek met simpatieke vriende kon praat.” Rosemary, wat haar ma twee jaar lank versorg het, stem saam. “Om met ’n eerlike vriendin te praat”, sê sy, “het my gehelp om my ewewig te behou.”

Maar jy moet nie verbaas wees as jy nie jou trane kan keer wanneer jy praat nie. “As jy huil, verlig dit die spanning en pyn, en dit help jou om jou hartseer te verwerk”, sê die boek A Special Child in the Family. *

Behou ’n positiewe gesindheid

“Jou wil om te lewe, kan jou onderskraag wanneer jy siek is”, het die wyse koning Salomo geskryf (Spreuke 18:14, Today’s English Version). Hedendaagse navorsers het gevind dat pasiënte se verwagtinge—hetsy negatief of positief—dikwels geneig is om ’n invloed te hê op die resultaat van hulle behandeling. Maar hoe kan ’n gesin optimisties bly wanneer ’n gesinslid lank siek is?

Hoewel hulle nie die siekte ignoreer nie, doen gesinne beter as hulle op die dinge konsentreer wat hulle nog kan doen. “Die situasie kan jou heeltemal negatief maak”, erken een pa, “maar ’n mens moet besef dat jy nog  steeds so baie het. Jy het nog steeds die lewe, julle het mekaar en julle vriende.”

Hoewel chroniese siekte nie ligtelik opgeneem moet word nie, kan ’n gesonde humorsin help om ’n pessimistiese gees te voorkom. Die Du Toits se goeie humorsin lig die punt toe. Collette, Neil du Toit se jongste suster, verduidelik: “Omdat ons geleer het om met sekere situasies saam te leef, kan ons lag oor dinge wat met ons gebeur wat ander dalk baie ontstellend sal vind. Maar dit help baie om die spanning te verlig.” Die Bybel verseker ons: “’n Vrolike hart bevorder die genesing.”—Spreuke 17:22.

Geestelike waardes is die belangrikste

Iets wat noodsaaklik is vir die geestelike welsyn van ware Christene is dat ‘hulle hulle versoeke in alles deur gebed en smeking by God bekend maak’. Die gevolg sal wees soos die Bybel beloof: “Die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns . . . bewaak” (Filippense 4:6, 7). Nadat een ma al amper 30 jaar vir twee chroniese siek kinders gesorg het, sê  sy: “Ons het geleer dat Jehovah ’n mens werklik help om met situasies saam te leef. Hy onderskraag jou werklik.”

Daarbenewens word baie mense versterk deur die Bybelse beloftes van ’n paradysaarde sonder enige pyn en lyding (Openbaring 21:3, 4). “As gevolg van die chroniese siekte waarmee ons gesin moes saamleef”, sê Braam, “het God se belofte dat ‘die lamme sal spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel’ groter betekenis vir ons.” Soos soveel ander sien die Du Toits vuriglik uit na die tyd in die Paradys wanneer “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie”.—Jesaja 33:24; 35:6.

Skep moed. Die pyn en lyding wat so swaar op die mensdom druk, is op sigself deel van die bewys dat beter toestande op hande is (Lukas 21:7, 10, 11). Intussen kan talle versorgers en pasiënte daarvan getuig dat Jehovah inderdaad “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting [is], wat ons in al ons verdrukking vertroos”.—2 Korintiërs 1:3, 4.

[Voetnoot]

^ par. 17 Sien asseblief “Versorging—Bied die uitdaging die hoof”, in die Ontwaak! van 8 Februarie 1997, bladsye 3-13, vir ’n breedvoeriger bespreking van maniere om die emosionele uitwerking van siekte die hoof te bied.

[Venster/Prent op bladsy 8]

Vrae wat ’n gesin aan ’n dokter kan stel

• Hoe sal die siekte ontwikkel en met watter gevolg?

• Watter simptome sal daar wees, en hoe kan dit beheer word?

• Watter alternatiewe is daar vir behandeling?

• Wat is die moontlike newe-effekte, risiko’s en voordele van die verskillende behandelingsmetodes?

• Wat kan gedoen word om die situasie te verbeter, en wat moet vermy word?

[Venster/Prent op bladsy 11]

Hoe jy ondersteuning kan gee

Party mense versuim dalk om die gesin te besoek of hulp aan te bied omdat hulle nie weet wat om te sê of hoe om die situasie te hanteer nie. Ander is moontlik opdringerig en kan bydra tot die druk wat op die gesin is deur hulle “nuttige” raad op die gesin te probeer afdwing. Hoe kan ’n mens dan diegene ondersteun wat ’n chroniese siek gesinslid het sonder om op hulle privaatheid inbreuk te maak?

Luister met empatie. ‘Wees gou om te hoor’, sê Jakobus 1:19. Toon jou besorgdheid deur ’n goeie luisteraar te wees en gesinslede toe te laat om hulle hart uit te stort as hulle wil praat. Hulle sal dalk meer geneig wees om dit te doen as hulle aanvoel dat jy “meegevoel” het (1 Petrus 3:8). Hou egter in gedagte dat elke mens of gesin anders op chroniese siekte sal reageer. Moet dus “nie raad gee tensy jy regtig alles omtrent die siekte of situasie weet nie”, sê Kathleen, wat eers haar ma en later haar chroniese siek man versorg het (Spreuke 10:19). En onthou dat die pasiënt en die gesin kan besluit om nie jou raad te vra of te aanvaar nie, selfs al weet jy iets van die onderwerp.

Bied praktiese hulp aan. Hoewel jy aan die een kant bewus moet wees van die gesin se behoefte aan privaatheid, moet jy ook daar wees vir hulle wanneer hulle jou werklik nodig het (1 Korintiërs 10:24). Braam, wat deur hierdie hele reeks aangehaal is, sê: “Ons het ongelooflike hulp van ons Christenvriende ontvang. Toe ons byvoorbeeld as gevolg van Michelle se kritieke toestand by die hospitaal oornag het, het ons altyd tussen vier en ses van ons vriende gehad wat heelnag by ons gesit het. Wanneer ons ook al hulp nodig gehad het, was dit daar.” Braam se vrou, Ann, voeg by: “Dit was ’n bitter koue winter, en ons het twee weke lank elke dag ’n ander soort sop gekry. Die warm sop en al die innige liefde het ons aan die gang gehou.”

Bid saam met hulle. Soms sal daar baie min of niks van ’n praktiese aard wees wat jy kan doen nie. Maar min dinge is so aanmoedigend as om ’n opbouende skriftuurlike gedagte met pasiënte en hulle gesinne te bespreek of ’n hartgrondige gebed saam met hulle te doen (Jakobus 5:16). “Moet nooit die waarde onderskat wat ’n gebed vir—en saam met—die chroniese siekes en hulle gesinne kan hê nie”, sê die 18-jarige Nicolas, wie se ma aan chroniese depressie ly.

Ja, die regte soort ondersteuning kan baie doen om gesinne te help om met die druk van chroniese siekte saam te leef. Die Bybel stel dit so: “’n Vriend is te alle tye ’n liefdevolle metgesel, en ’n broer word gebore om probleme te deel.”—Spreuke 17:17, The New English Bible.

[Venster/Prent op bladsy 12]

Wanneer dit ’n terminale siekte is

Party gesinne sal moontlik huiwerig wees om die naderende dood van ’n geliefde wat terminaal siek is te bespreek. Maar die boek Caring—How to Cope sê “dit kan help om paniekerigheid te verlig as jy ’n idee het van wat om te verwag en wat jy moet doen”. Hier volg ’n paar wenke wat die gesin moontlik in gedagte kan hou wanneer hulle ’n geliefde wat terminaal siek is by die huis versorg, hoewel die spesifieke stappe na gelang van plaaslike wette en gebruike sal verskil.

Vooraf

1. Vra die dokter wat in die laaste dae en ure verwag kan word en wat gedoen moet word as die pasiënt in die nag sterf.

2. Maak ’n lys van die mense wat van die dood in kennis gestel sal moet word.

3. Oorweeg begrafnisopsies:

• Wat is die pasiënt se wense?

• Wil hy begrawe of veras word? Vergelyk die pryse en dienste van verskillende begrafnisondernemers.

• Wanneer moet die begrafnis gehou word? Laat tyd toe vir naasbestaandes wat moet reis.

• Wie sal die begrafnistoespraak of gedenkdiens hou?

• Waar sal dit gehou word?

4. Al is die pasiënt onder verdowing, is hy moontlik nog steeds bewus van wat om hom gesê en gedoen word. Wees versigtig om nie voor hom iets te sê wat jy nie wil hê hy moet hoor nie. Dalk kan jy hom gerusstel deur kalm met hom te praat en sy hand vas te hou.

Wanneer die geliefde sterf

Hier volg ’n lys van dinge wat ander kan doen om die gesin by te staan:

1. Laat die gesin ’n redelike tyd toe om alleen saam met die oorledene te wees sodat hulle die dood kan begin aanvaar.

2. Bid saam met die gesin.

3. Wanneer die gesin gereed is, sal hulle dalk hulp waardeer om die volgende mense daarvan in kennis te stel:

• Die dokter om die persoon dood te verklaar en ’n doodsertifikaat uit te reik.

• ’n Begrafnisondernemer, ’n lykshuis of ’n krematorium om na die lyk om te sien.

• Familielede en vriende. (Jy kan op ’n taktvolle wyse iets soos die volgende sê: “Ek bel in verband met [pasiënt se naam]. Ek is jammer, maar ek het slegte nuus. Soos jy weet, ly hy al lank aan [siekte], en hy is [wanneer en waar] oorlede.)

• ’n Koerant om ’n doodsberig te plaas as dit die gesin se wens is.

4. Die gesin wil dalk iemand saam met hulle neem om die begrafnisreëlings af te handel.

[Prent op bladsy 9]

Gesinslede moet hulle bes doen om ’n redelike lewensgehalte te behou

[Prent op bladsy 10]

Om saam met die gesin te bid, kan hulle help om met die situasie saam te leef