Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

 Ons beskou die wêreld

Kleuters en TV

Die Amerikaanse Akademie vir Kindergeneeskunde beveel aan dat kinders onder die ouderdom van twee nie televisie kyk nie, berig The Toronto Star. Navorsing oor vroeë breinontwikkeling toon dat babas en kleuters direkte kontak met ouers en ander versorgers nodig het. TV-kykery kan “inmeng met interaksie wat hulle sosiale, emosionele en kognitiewe vaardighede help ontwikkel”. Nie alle kenners stem egter saam nie. Die Kanadese Kindergeneeskundige Vereniging sê byvoorbeeld dat kinders wat onder ouerlike toesig ’n maksimum van 30 minute na goeie programme kyk “’n geleentheid het om deur ’n ouer onderrig te word”. Albei organisasies stem egter saam dat jong kinders nie ’n televisie of rekenaar in hulle slaapkamer moet hê nie en dat die TV nie as ’n kinderoppasser gebruik moet word nie. Aangesien TV-kykery die gesondheid van kleintjies kan benadeel, word daar aanbeveel dat “kinders aangemoedig word om buite te speel, boeke te lees, legkaarte te bou of speletjies te speel”.

Frustrasie by die werk

Waarom verloor party mense hulle humeur of word hulle selfs gewelddadig by die werk? Volgens ’n sielkundige van Toronto, Sam Klarreich, is die rede moontlik nie alleen stres nie, maar ook dat mense nie frustrasie kan hanteer nie. Hy glo dat hierdie toestand in party werknemers ontwikkel wat voel dat daar van hulle verwag word “om by die werk alles te gee en dan te ontdek dat dit wat hulle daaruit kry nie in verhouding is met wat hulle ingesit het nie”, berig die Globe and Mail. Klarreich waarsku dat langdurige woede “’n baie ongesonde emosie” is wat tot beroerte of ’n hartaanval kan lei. Hy moedig werknemers aan om te leer om frustrasie te aanvaar en met hulle werkgewers te praat en kalm te bespreek hoeveel werk hulle realisties gesproke kan doen. Daarenteen, raai Klarreich werkgewers aan om op te let na werknemers wat lyk of hulle uitbrand en om hulle ekstra hulp te gee, hulle werklas te verminder of aan te beveel dat hulle ’n dag verlof neem.

Sang maak die hart vrolik

Wetenskaplikes het gevind dat sang chemiese stowwe in die brein vrystel wat jou ontspanne en gelukkig laat voel, berig die Duitse koerant Stuttgarter Nachrichten. Navorsers sê dat sang die “molekules van emosie” in die brein wakker maak. Gevolglik “druk sang glo nie alleen emosies uit nie, maar skep dit ook [emosies]”, sê die verslag. Musiekonderwysers sê dat baie mense vandag meen dat dit “outyds” is om te sing of dat hulle nie juis ’n baie goeie stem het nie, en gevolglik los hulle sang en musiek vir die media. Hierdie navorsing toon egter dat dit goed is vir mense om self te sing.

Diefstal van gewasse

In etlike Duitse state kla boere dat al hoe meer van hulle gewasse gesteel word, berig die Siegener Zeitung. Diewe dra emmers vol komkommers weg en laai hope aspersies op hulle ligte vragmotors. In een geval het hulle 7 000 aarbeiplantjies gesteel. Hoewel party dalk kos steel weens hulle verslegtende finansiële situasie, lyk dit of dit vir ander ’n stokperdjie is. Boere vertel dat hulle “allerhande motors” naby die gestroopte lande sien. Die lande is in baie gevalle kilometers ver van waar die eienaars woon, en in hierdie lande word die diewe selfs vermeteler. Een raadgewer het aanbeveel dat boere mis op hulle gewasse gooi om die diewe te ontmoedig.

Sosiaal aktiewe mense leef langer

Volgens ’n nuwe studie deur Harvard-universiteit lewe bejaarde mense wat betrokke is by sosiale bedrywighede, soos om kerk toe te gaan, uit te eet, sportgebeurtenisse by te woon en te gaan fliek, gemiddeld twee en ’n half jaar langer as mense wat minder sosiaal is. Daar is lank aangeneem dat dit die fisiese sy van sulke bedrywighede is wat mense help, het Harvard se Thomas Glass, hoof van die studie, gesê. Maar hy het bygevoeg dat hierdie studie “miskien die sterkste omstandigheidsgetuienis tot op hede [voorsien] dat ’n betekenisvolle doel mense aan die einde van hulle lewe langer laat lewe”. Glass het gesê dat lewe in amper elke geval verleng is deur meer te doen, ongeag die aktiwiteit.

 Wêreld se oudste skeepswrakke

Oseanograwe het die wrakke van twee Fenisiese skepe ontdek wat uit ongeveer 750 v.G.J. dateer, berig die Franse tydskrif Sciences et avenir. Die bote van 15 en 18 meter, wat aan die kus van Israel op ’n diepte van ongeveer 500 meter lê, is die oudste skepe wat nog in die oop see gevind is. Die bote het van die hawestad Tirus af gevaar met wynkruike van erdewerk en was waarskynlik op pad na Egipte of die stad Kartago in Noord-Afrika. Volgens die International Herald Tribune het die ontdekker van die skepe, Robert Ballard, gesê: “Die groot dieptes in die oseane, die afwesigheid van sonlig, die groot druk, bewaar geskiedenis blykbaar baie beter as wat ons gedink het.” Die navorsers het gesê dat hierdie ontdekking “kan help om ’n hele nuwe hoofstuk te open in die navorsing oor hierdie antieke seevarende kultuur”.

Eerste keuse vir ontspanning

In ’n onlangse studie is 1 000 mense in 30 lande gevra wat hulle graag doen om stres te verminder of te verlig. Wêreldwyd het 56 persent van dié met wie onderhoude gevoer is, aangedui dat musiek hulle eerste keuse is, berig Reuters-nuusagentskap. In Noord-Amerika het 64 persent gesê dat musiek boaan hulle lys is, in vergelyking met 46 persent in ontwikkelde Asië. Oor die algemeen was TV-kykery tweede, gevolg deur bad of stort. “Wanneer ’n mens dink aan die koste van musiek en die beskikbaarheid daarvan via die radio, TV, persoonlike CD-spelers, die Internet en soveel ander nuwe kanale”, het Tom Miller, hoof van die studie deur Roper Starch Worldwide, gesê, “is dit nie verbasend dat meer as die helfte van die wêreld na musiek luister vir ontspanning nie.”

Armoede—’n wêreldprobleem

Die president van die Wêreldbank, James D. Wolfensohn, het onlangs sy kommer uitgespreek oor volgehoue wêreldarmoede. Wolfensohn het gesê dat ’n derde van die aarde se sesmiljard mense nog steeds in volslae armoede lewe, berig die koerant La Jornada van Mexikostad. Hy het bygevoeg dat die helfte van die aarde se inwoners van minder as R10 per dag lewe; ’n miljard mense van minder as R5. Hoewel hy trots is op die vooruitgang wat die Wêreldbank in die stryd teen armoede gemaak het, het Wolfensohn syfers verskaf wat toon dat die probleem wydverspreid is en lank nie opgelos is nie. Hy het gesê: “Ons moet erken dat armoede ’n wêreldprobleem is.”

As jy twyfel, gooi dit weg

Party soorte skimmel, soos dié in bloukaas, is veilig om te eet. Maar ander kan gevaarlik wees, veral vir mense wat swak gesondheid het, waarsku die UC Berkeley Wellness Letter. Die skimmel op brood en graanprodukte is van die giftigste. Dikwels het die sigbare skimmel wortelagtige draadjies wat in die kos indring. Daarbenewens kan die gifstowwe wat deur skimmel vervaardig word nie vernietig word deur die kos te kook nie. Die Wellness Letter beveel aan:

▪ Hou kos verkoel, en gebruik dit voor skimmel daarop groei.

▪ Raak ontslae van klein vrugte, soos bessies of druiwe, wat muf is. Was vrugte net voordat jy dit gaan eet, aangesien nattigheid skimmel bevorder.

▪ As daar skimmel op klein dele van groot, harde vrugte en groente soos appels, aartappels, blomkool of uie is, kan dit veilig uitgesny word. Sagte vrugte, soos perskes en waatlemoene, met skimmel moet weggegooi word.

▪ Harde kaas met skimmel kan gedeeltelik gered word deur die buitenste deel ten minste twee tot drie sentimeter van die skimmel weg te sny. Maar gooi sagte kaas en jogurt weg as daar skimmel op is, asook brood, vleis, oorskietkos, neute, grondboontjiebotter, stroop en ingelegde vrugte.

Gesonder braaivleis

“Kos wat nie goed gaar is nie, was nog altyd ’n bron van kommer wat voedselveiligheid betref, maar in onlangse jare word kos wat oorgaar is—veral vleis, hoender en vis wat oor die kole gebrand of geskroei word—met ’n langtermyngesondheidsgevaar verbind”, sê die Kanadese koerant die National Post. Wanneer vleis by ’n hoë temperatuur gaargemaak word, vorm kankerverwekkende verbindings wat heterosikliese amiene (HSA’s) genoem word. Die verslag het voorgestel dat ’n eenvoudige marineersous met “’n suurvormende bestanddeel, soos suurlemoensap, lemoensap of asyn”, gebruik word om braaivleis veiliger te maak. In herhaalde toetse het navorsers by die Amerikaanse Instituut vir Kankernavorsing “gevind dat die gemarineerde kos 92% tot 99% minder HSA’s bevat het as die kos wat nie gemarineer is nie—en dit het nie ’n verskil gemaak of dit 40 minute of twee dae lank gemarineer is nie”.