Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het sedes versleg?

Het sedes versleg?

 Het sedes versleg?

AS JY geskiedkundiges sou vra: “Is mense se sedes vandag beter of slegter as in die verlede?” sal party dalk antwoord dat dit moeilik is om die sedes van verskillende tydperke te vergelyk. Hulle voel miskien dat elke tyd teen sy eie agtergrond beoordeel moet word.

Neem byvoorbeeld die ontwikkeling van geweldsmisdade in Europa sedert die 16de eeu. Moorde was 400 jaar gelede nie ongewoon nie. Mense het dikwels die reg in hulle eie hande geneem, en bloedvetes was algemeen.

Maar die geskiedkundiges Arne Jarrick en Johan Söderberg skryf in die boek Människovärdet och makten (Menswaardigheid en mag) dat die tydperk tussen 1600 en 1850 in party plekke “gekenmerk is deur ’n toenemende beskaafdheid in die maatskaplike lewe”. Mense het ander se behoeftes beter in aanmerking geneem—hulle het meer empatie begin betoon. Ander geskiedkundiges sê byvoorbeeld dat diefstal en misdade wat teen eiendom gemik is in die 16de eeu baie minder algemeen was as vandag. Georganiseerde bendes diewe was ongewoon, veral in plattelandse gemeenskappe.

Daar was natuurlik slawerny, en dit het van die ernstigste misdade in die geskiedenis tot gevolg gehad—die ontvoering van mense in Afrika deur Europese handelaars en die wrede mishandeling van hierdie miljoene slawe in die lande waarheen hulle geneem is.

As ons dus oor vorige eeue terugkyk, sal ons waarskynlik vind dat party toestande in historiese perspektief gesien beter was, terwyl ander slegter was. Maar gedurende die 20ste eeu het iets gebeur wat baie anders en baie ernstig was—iets waarlik ongeëwenaard—en dit gebeur nog steeds.

Die 20ste eeu—’n keerpunt

Die geskiedkundiges Jarrick en Söderberg sê: “In die 1930’s was daar weer eens ’n skerp styging in moorde en manslag, en ongelukkig het hierdie neiging sedertdien al meer as ’n halfeeu lank voortgeduur.”

Volgens baie kommentators was daar gedurende die 20ste eeu ’n grootskaalse sedelike verval. ’n Verhandeling oor sedekunde sê: “’n Mens kan duidelik sien dat die samelewing se beskouing oor seks en wat sedelik aanvaarbaar is in die afgelope 30 tot 40 jaar baie verander het—van ’n tyd toe die samelewing dit duidelik gemaak het wat sedelik aanvaarbaar is, deur middel van streng reëls, tot ’n vryer en individualistieser beskouing.”

 Dit beteken dat die meeste individue nou voel dat seksuele gedrag en ander aspekte van sedelikheid dinge is waaroor hulle self kan besluit. Ter toeligting haal die verhandeling statistiek aan wat toon dat net 5,3 persent van alle kinders wat in 1960 in die Verenigde State gebore is buite-egtelik was. In 1990 was dit 28 persent.

In ’n lesing by die Universiteit van Notre Dame het die Amerikaanse senator Joe Lieberman die sedes van ons tyd beskryf as ’n “vakuum wat waardes betref, . . . waarin tradisionele beskouings van reg en verkeerd geleidelik afgebreek is”. Volgens Lieberman is hierdie verskynsel “al vir die grootste deel van twee geslagte aan die broei”.

Sekularisasie

Wat is volgens geskiedkundiges en ander ontleders die rede vir hierdie merkwaardige ontwikkeling gedurende die 20ste eeu? “Een van die belangrikste veranderinge in die samelewing in die laaste twee eeue is sekularisasie”, sê die boek Människovärdet och makten. Sekularisasie het beteken dat “mense die geleentheid gebied sou word om hulle eie standpunt oor verskillende sake in te neem. Hierdie idee . . . het onder die 18de-eeuse filosowe van die Verligting ontstaan, wat die eerstes was wat . . . die Bybel as die enigste bron van waarheid verwerp het.” Gevolglik wend mense hulle nie meer so baie soos in die verlede tot godsdienste, veral dié van die Christendom, vir sedelike leiding nie.

Maar hoe het dit gebeur dat ’n filosofie wat in die 18de eeu geformuleer is, meer as 200 jaar geneem het om ingang te vind? “Die publiek het nie hierdie idees maklik aanvaar nie”, sê die bogenoemde boek. “Die verandering na sekularisasie was stadig.”

Al het die neiging om tradisionele sedelike standaarde en Christelike waardes te laat vaar vir die grootste deel van die laaste 200 jaar stadig gevorder, het dit gedurende die 20ste eeu vinnig begin toeneem. Dit was veral in die laaste paar dekades die geval. Waarom?

Selfsug en hebsug

’n Groot bydraende faktor is die vinnige tempo waarteen tegnologiese en ekonomiese ontwikkelinge in die 20ste eeu in die samelewing plaasgevind het. ’n Artikel in die Duitse nuustydskrif Die Zeit het gesê dat ons in ’n “dinamiese tydvak [lewe] en nie, soos in vorige eeue, in ’n wêreld wat staties is nie”. Die artikel het verduidelik dat dit tot ’n markekonomie gelei het, wat op mededinging gebaseer is en deur selfsug aangedryf word.

“Niks kon hierdie selfsug stop nie”, het die artikel voorts gesê. Gevolglik neem die  wreedheid toe wat ons daaglikse lewe kenmerk, asook korrupsie, waarby selfs die regering in baie lande betrokke is. Mense dink aan hulleself en hoe hulle die meeste genot kan kry.”

Die sosioloog Robert Wuthnow, van die Universiteit van Princeton, het deur middel van ’n deeglike meningsopname gevind dat geld baie belangriker is vir Amerikaners van vandag as vir dié van ’n geslag tevore. Volgens die studie “vrees baie Amerikaners dat die begeerte na geld ander waardes verdring het, soos mense se respek vir ander, eerlikheid by die werk en deelname in hulle gemeenskappe”.

Hebsug in die samelewing het verder toegeneem omdat baie sakebestuurders hulleself groot salarisverhogings en aantreklike aftreevoordele toegeëien het, terwyl hulle hulle werknemers aangespoor het om matig te wees wat hulle looneise betref. “Die probleem met die najaging van wins onder bedryfsleiers is dat hulle gesindhede aansteeklik is en dat hulle die sedelike drumpel van mense in die algemeen verlaag”, sê Kjell Ove Nilsson, mede-professor van sedekunde en teologiese direkteur by die Christenraad van Swede. “Natuurlik het dit ’n vernietigende uitwerking op sedes—in die samelewing sowel as op die persoonlike vlak.”

Die mediakultuur

Nog ’n groot faktor wat bygedra het tot die vinnige sedelike verval in die laaste helfte van die 20ste eeu is die mediakultuur. “Die nuwe kanaal waardeur waardes uitgedra word, is die televisieregisseurs, die rolprentmagnate, die modebase, die gangsta rap-sangers en ’n menigte ander deelnemers binne die sfeer van die elektroniese mediakultuur”, sê senator Lieberman. “Hierdie tendensstellers oefen ’n uiters kragtige invloed uit op ons kultuur en veral op ons kinders, en hulle het dikwels min of geen verantwoordelikheid gevoel vir die skadelike waardes wat hulle uitdra nie.”

As voorbeeld verwys Lieberman na ’n opname wat deur ’n heavy metal-groep met  die naam Cannibal Corpse gemaak is. Die sangers beskryf in besonderhede die verkragting van ’n vrou wat met ’n mes gedreig word. Hy en ’n kollega het by die platemaatskappy gepleit dat die CD onttrek moet word. Maar volgens Lieberman was dit tevergeefs.

Verantwoordelike ouers is dus vandag in ’n bittere stryd met die mediakultuur gewikkel oor wie hulle kinders sal beïnvloed en grootmaak. Maar wat van gesinne waar die ouers nie pligsgetrou is nie? “In daardie gevalle”, sê Lieberman, “word die kultuur die enigste standaardbepaler, en die kind se sin van reg en verkeerd en sy prioriteite in die lewe word hoofsaaklik gevorm deur wat hy deur middel van die televisie, die rolprentskerm en die CD-speler inneem.” En nou kan die Internet ook by die lys gevoeg word.

Terug na “’n sedelike steentydperk”

Hoe is die uitwerking van hierdie negatiewe invloede onder jongmense te sien? Om maar een ding te noem, in onlangse jare het al hoe meer kinders en tieners wrede geweldsmisdade teen ander kinders sowel as volwassenes gepleeg.

Daar was in 1998 ’n skokkende geval in Swede. Twee seuntjies, van vyf en sewe jaar, het hulle vierjarige speelmaatjie verwurg! Baie het die vraag gevra: Het kinders nie ’n ingeboude meganisme wat vir hulle sê om op te hou wanneer hulle te ver gaan nie? ’n Kinderpsigiater het hierdie treffende opmerking gemaak: “Iets wat jou daarvan weerhou om te ver te gaan, is iets wat aangeleer moet word”, het sy gesê. “Dit kan iets te doen hê met . . . watter rolmodelle kinders het en wat hulle van die volwassenes om hulle leer.”

Iets soortgelyks kan in gewelddadige misdadigers gesien word. Volgens Sten Levander, ’n psigiatrieprofessor in Swede, is tussen 15 en 20 persent van alle gevangenes vandag psigopate—mense wat uiters egosentries is, geen empatie het nie en nie die konsep van reg en verkeerd kan of wil verstaan nie. Waarnemers het opgelet dat selfs kinders en jeugdiges wat normaal lyk sedelik ongevoelig word. “Ons het na ’n sedelike steentydperk teruggedryf”, sê Christina Hoff Sommers, ’n filosofieprofessor. Sy het opgelet dat die meeste van haar jong studente baie onseker word wanneer hulle moet besluit wat reg en verkeerd is. Dan antwoord hulle dat daar nie iets soos reg en verkeerd is nie. Hulle glo dat elkeen self moet besluit wat die beste vir hom of haar is.

In onlangse tye het baie van haar studente beswaar gemaak teen die beginsel van die unieke waarde van menselewe. Byvoorbeeld, toe hulle gevra is wie se lewe hulle sou red as hulle moes kies tussen dié van hulle troeteldier of dié van ’n ander mens wat hulle nie ken nie, het baie van hulle gesê dat hulle die dier sou kies.

“Die probleem is nie dat jongmense onkundig, agterdogtig, wreed of bedrieglik is nie”, sê professor Sommers. “Hulle het eenvoudig geen begrip van reg en verkeerd nie.” Sy beweer dat baie jongmense vandag eintlik daaraan twyfel of daar ’n reg of ’n verkeerd is, en sy meen dat hierdie gesindheid een van die grootste gevare vir die samelewing is.

Die ondermyning van sedes in ons tyd is dus ’n werklikheid. Baie vrees dat dit verskriklike nagevolge kan hê. Die artikel in Die Zeit waarna vroeër verwys is, sê dat die vryemarkekonomie van vandag geleidelik kan “agteruitgaan en miskien eendag kan ineenstort soos onlangs met die sosialistiese stelsel gebeur het”.

Wat beteken dit alles werklik? En watter soort toekoms lê vir ons voor?

[Prente op bladsy 6, 7]

“Die nuwe kanaal waardeur waardes uitgedra word, is die televisieregisseurs, die rolprentmagnate, die modebase, die ‘gangsta rap’-sangers . . . ”