Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hedendaagse slawerny—Die einde is naby!

Hedendaagse slawerny—Die einde is naby!

Hedendaagse slawerny—Die einde is naby!

“Een mens se vryheid is ’n onafskeidelike deel van universele vryheid. Jy kan nie die een bedreig sonder om terselfdertyd die ander een in gevaar te stel nie.”—Victor Schoelcher, Franse Joernalis En Politikus, 1848.

“WAT is hierdie donker kant van die mens wat hom nog altyd beweeg het om sy medemens te verag, te onderwerp en te verneder?” vra die redakteurs van The UNESCO Courier. “En hoe gebeur dit dat so ’n misdaad teen die mensdom sedert die ontstaan van Menseregte ongestraf gebly het?”

Die antwoord is ingewikkeld. Hebsug is die motief vir die gebruik van goedkoop kinderarbeid en arbeiders wat werk om skuld af te betaal. Armoede en ’n gebrek aan opvoeding word die skuld gegee wanneer meisies as prostitute verkoop word of in ’n gedwonge huwelik tree. Godsdienstige norme en kulturele begrippe sit agter rituele slawerny. En die mans wat Bangkok of Manila besoek om jong vigs-vrye seuns of meisies te kry se motief is niks anders as seksuele perversie en onsedelikheid nie. Dit is alles deel van ’n wêreld waar mense ‘liefhebbers van hulleself, liefhebbers van geld, sonder natuurlike geneentheid, sonder selfbeheersing, wreedaardig’ is, volgens die apostel Paulus, ’n eerste-eeuse regstudent (2 Timoteus 3:1-5). Dit is deel van ’n wêreld waar dit ‘wat krom is, nie reguit kan word nie, en wat ontbreek, nie getel kan word nie’, om ’n eertydse staatsman met die naam Salomo aan te haal.—Prediker 1:15.

’n Verandering van denke

Beteken dit dat niks gedoen kan word of gedoen sal word om ’n permanente einde aan slawerny—hetsy in die tradisionele of in onlangser vorme—te maak nie? Hoegenaamd nie!

Die VN se Kantoor van die Hoë Kommissaris vir Menseregte (OHCHR) sê dat slawerny “’n denkwyse” is en voeg by: “Selfs wanneer slawerny afgeskaf is, laat dit letsels agter. Dit kan as ’n denkwyse voortduur—onder die slagoffers daarvan en hulle nakomelinge, asook onder die kinders van diegene wat dit beoefen het—lank nadat dit formeel verdwyn het.”

Een manier om slawerny af te skaf, sou dus wees om op ’n wêreldwye skaal ’n verandering van denke teweeg te bring—mense se gesindheid moet verander. En dit behels ’n verandering van opvoeding—mense moet geleer word om mekaar lief te hê en om mekaar se waardigheid te respekteer. Dit beteken dat mense gehelp moet word om hebsug uit hulle hart te verwyder en by hoë sedelike standaarde te bly. Wie kan sulke opvoeding voorsien? Die OHCHR sê dat “almal ’n bydrae het om te lewer tot ’n wêreldorde wat nie meer onmenslike uitbuiting duld nie”.

Beskou byvoorbeeld ’n opvoedkundige program wat wêreldwyd deur die Christengemeenskap van Jehovah se Getuies gevolg word. Hierdie program het daarin geslaag om opregtes van hart te leer om nie onmenslike uitbuiting te duld of te vergoelik nie. Miljoene mense in meer as 230 lande is hierdeur geleer om hulle medemens met waardigheid te behandel. Waarom is hierdie program suksesvol?

Omdat dit gebaseer is op die Bybel, ’n boek wat deur die Skepper van die mens geïnspireer is. Dit is ’n boek wat menslike waardigheid voorstaan. Mense wat Bybelkennis deur die opvoedkundige program van Jehovah se Getuies opdoen, leer dat ons Skepper, Jehovah, self ’n God van waardigheid is (1 Kronieke 16:27, NW). Hy behandel sy hele skepping met waardigheid. Dit sluit mans sowel as vroue van alle rasse, sosiale agtergronde en ekonomiese stande in.—Sien die venster “Menslike vryheid en waardigheid—Uit watter bron?”

Gelykheid en respek vir waardigheid

Die Bybel leer dat God “uit een mens elke nasie van die mense gemaak [het] om op die hele oppervlak van die aarde te woon” (Handelinge 17:26). Niemand kan dus daarop aanspraak maak dat hy beter as sy medemens is of die reg het om ander te onderdruk of uit te buit nie. Mense wat bereid is om te leer, begin waardeer dat “God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Hulle besef dat God se liefde allesomvattend is, aangesien die voorreg om ’n hegte verhouding met hom te hê vir almal moontlik is. Trouens, “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê”.—Johannes 3:16.

Hierdie Bybelse opvoeding het ’n diepgaande uitwerking op mense se persoonlikhede. Daardeur kan mense se harte en verstande “heeltemal nuut gemaak” word (Efesiërs 4:22-24, Today’s English Version). Dit beweeg hulle om hulle medemens met waardigheid en respek te behandel. Hulle is vasbeslote om ‘aan almal goed te doen’ (Galasiërs 6:10). Niemand kan ’n ware Christen wees en hom terselfdertyd skuldig maak aan die onmenslike uitbuiting en onderdrukking van enige ander mens nie. Jehovah se Getuies is bly om ’n Christengemeenskap soos die Christengemeente van die eerste eeu te wees, waarin ‘daar nóg Jood nóg Griek, en nóg slaaf nóg vrygeborene was. Almal was een persoon in eenheid met Christus Jesus.’—Galasiërs 3:28.

’n Verandering van regering

Maar ’n drastiese verandering in die mensegemeenskap is nodig om ’n blywende einde aan alle vorme van slawerny te maak. Die Internasionale Arbeidsorganisasie sê dat dit nodig is om “die milieu te verander wat [sulke gebruike] toelaat en vergoelik” voordat die uitbuiting van mense sal ophou. Internasionale optrede, internasionale samewerking en ’n verbintenis van die wêreldgemeenskap is van die ander voorstelle wat daardie agentskap maak.

Dit sal logieserwys ’n mag vereis wat oor ons hele planeet beheer kan uitoefen, ’n mag wat in staat is om universele vryheid te verseker. Boutros Boutros-Ghali, die voormalige sekretaris-generaal van die VN, het gesê dat die werklike probleme wat ons planeet teister “op ’n wêreldskaal” opgelos moet word. Maar nie almal is so seker dat dit ooit kan gebeur nie. Die geskiedenis het getoon dat baie mense in magsposisies te selfsugtig en egosentries in hulle belange en doelwitte is om sulke internasionale samewerking te bereik.

Maar die Bybel—dieselfde boek wat miljoene geleer het om die waardigheid van hulle medemens te respekteer—toon dat dit God se voorneme is om so ’n wêreldregering tot stand te bring. In die Bybel sal jy baie beloftes van ’n nuwe wêreld van regverdigheid vind (Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13). Dit is God se voorneme om die aarde te reinig van almal wat God en hulle naaste nie liefhet nie. God het sy voorneme geopenbaar om ’n wêreldregering tot stand te bring om in regverdigheid oor mense op die aarde te regeer. Jesus het vir ons gesê om vir hierdie regering te bid in wat algemeen as die Onse Vader bekend staan.—Matteus 6:9, 10.

Die uitbuiting van mense en elke vorm van slawerny sal verdwyn onder die heerskappy van hierdie regering omdat Christus die Koning “deur reg en deur geregtigheid” sal regeer (Jesaja 9:6). Diegene wat onderdruk is, sal onder sy regverdige heerskappy verligting vind, want die Bybel sê: “Hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld.”—Psalm 72:12-14.

As jy daarna uitsien om die einde van slawerny in al sy vorme te sien, nooi ons jou om meer te leer aangaande God se voorneme om hierdie bevrydende wêreldregering tot stand te bring. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou met graagte hiermee help.

[Venster/Prent op bladsy 11]

MENSLIKE VRYHEID EN WAARDIGHEID—UIT WATTER BRON?

Ons word almal met ’n inherente behoefte aan en begeerte na waardigheid en vryheid gebore. Kofi Annan, die VN se sekretaris-generaal, het die gevoelens van baie verwoord toe hy gevra het: “Wie kan ontken dat ons almal ’n lewe vry van vrees, marteling en diskriminasie wil hê? . . . Het jy al ooit ’n vry stem gehoor wat ’n einde aan vryheid eis? Het jy al ooit ’n slaaf gehoor wat hom ten gunste van slawerny uitspreek?”

Hierdie gedagtes is nie eintlik nuut nie. Seneka, die eerste-eeuse Romeinse filosoof, het die idee verwerp dat sommige gebore word om slawe te wees en het in sy Letters to Lucilius geskryf: “Besin asseblief daaroor dat die man wat jy jou slaaf noem van dieselfde saad as jy gebore is, dieselfde mooi hemel bo hom het, soos jy asemhaal, soos jy lewe en soos jy sterwe!”

Imam ʽAlī, wat as die vierde kalief ná Mohammed vereer word, het gesê dat alle mense “gelyk in die skepping” is. Saʽdī, ’n 13de-eeuse Persiese digter, het gesê: “Die kinders van Adam is ledemate van mekaar en is uit dieselfde stof geskep. Wanneer die wêreld een lid pynig, is daar geen vrede vir die ander lede nie.”

Die Goddelik geïnspireerde geskiedenisverslag in die Bybel beklemtoon die waardigheid van alle mense. Waar Genesis 1:27 byvoorbeeld die mens se skepping beskryf, sê dit: “God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” Ons Skepper is ’n God van vryheid. “Waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid”, het die apostel Paulus gesê (2 Korintiërs 3:17). Deur die mens na sy beeld en gelykenis te skep, het Jehovah mense ’n mate van agting, selfrespek en waardigheid gegee. Deur sy skepping van “die slawerny van die verderflikheid” te bevry, sal hy ook verseker dat mense sulke vryheid en waardigheid vir ewig sal geniet.—Romeine 8:21.

[Prent op bladsy 9]

Almal is geregtig op waardigheid en vryheid

[Prente op bladsy 10]

BYBELOPVOEDING BEKLEMTOON RESPEK VIR MENSWAARDIGHEID EN ’N HOOP VIR DIE TOEKOMS

’n Gesinsbybel- studie in Benin

Die prag van hierdie Blou Nyl-waterval in Etiopië gee ’n voorskou van ’n herstelde paradys