Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Begeerte om te lewe

’n Begeerte om te lewe

 ’n Begeerte om te lewe

MARY het aan kliniese depressie gely en het ook ander gesondheidsprobleme gehad. Maar sy was nie afgesonderd van haar familie nie en sy het ook nie alkohol of dwelms misbruik nie. Mary se geval lig die feit goed toe dat nie alle risikofaktore teenwoordig hoef te wees vir iemand om in alle erns selfmoord te probeer pleeg nie.

Dit het ’n tyd lank gelyk of Mary deel van die statistiek sou word wat getuig van die doeltreffendheid waarmee ouer mense hulle lewe beëindig. Sy was dae lank in ’n koma in die waakeenheid van die plaaslike hospitaal, sonder enige reaksies en met swak lewenstekens. Haar bekommerde man, John, was die meeste van die tyd langs haar bed. Die dokters het John en die familie gewaarsku dat Mary dit dalk nie sal oorleef nie en dat sy moontlik permanente breinskade sou hê selfs al sou sy dit oorleef.

Sally, ’n buurvrou wat een van Jehovah se Getuies is, het Mary elke dag kom besoek. “Ek het haar familie aangemoedig om nie moed op te gee nie”, sê Sally. “My ma, wat aan suikersiekte ly, was ’n paar jaar gelede weke lank in ’n koma. Die dokters het vir ons familie gesê dat sy dit nooit sou oorleef nie, maar sy het. Ek het Mary se hand vasgehou en met haar gepraat, soos ek met my ma gedoen het, en dit het vir my gevoel of sy wel swakkies daarop reageer.” Teen die derde dag het sy sterker gereageer, en dit het gelyk of Mary mense herken het, al kon sy nie praat nie.

‘Kon ek dit verhoed het?’

“John het onder vreeslike skuldgevoelens gebuk gegaan”, sê Sally. “Hy was seker dat dit alles sy skuld was.” Dit is ’n algemene reaksie op die selfmoord of selfmoordpoging van ’n geliefde. “Ek het hom daaraan herinner dat Mary behandeling vir kliniese depressie ontvang het. Sy was siek en kon nie help dat sy depressief was nie, net soos hy nie kon help dat hy fisies siek is nie.”

Mense wie se geliefdes selfmoord pleeg, word dikwels deur dié vraag geteister: Wat kon ek gedoen het om dit te verhoed? As ’n mens wakker is vir waarskuwingstekens en risikofaktore kan jy dalk ’n selfmoordpoging verhoed. Maar indien nie, moet jy onthou dat jy nie verantwoordelik is vir iemand anders se selfvernietigende optrede nie (Galasiërs 6:5). Dit is veral belangrik om te onthou in gevalle waar die familielid met selfmoordneigings  doelbewus probeer om ander te laat skuldig voel. Dr. Hendin, wat vroeër aangehaal is, sê: “’n Mens moet in gedagte hou dat mense wat selfmoord pleeg dikwels probeer om die gevoelens van ander te beïnvloed of te manipuleer, selfs al sal hulle nie daar wees om die sukses of mislukking van hulle pogings te sien nie.”

Dr. Hendin sê verder: “In die geval van ouer mense met selfmoordneigings wil die pasiënt dikwels sy volwasse kinders sowel as broers en susters of huweliksmaat beïnvloed, beheer of dwing om meer beskermend teenoor hom te wees. Dit is dikwels onmoontlik om aan die pasiënt se eise te voldoen, die pasiënt dring dikwels onversetlik op hierdie eise aan en selfmoordpogings wat nie ernstig is nie, word dikwels gevolg deur pogings wat wel ernstig is.”

Familielede wat hulle in hierdie situasie bevind, voel moontlik dat hulle werklik onder uiterste druk verkeer, meer as wat hulle kan hanteer. Maar ons moet nooit vergeet dat Jehovah God die dooies opwek nie en dat dit heel moontlik ons geliefdes sal insluit wat hulle eie lewe weens depressie, geestesiektes  of wanhoop geneem het.—Sien “Die Bybelse beskouing: Selfmoordslagoffers—Sal hulle opgewek word?” in die Ontwaak! van 8 September 1990, bladsye 22-3.

Hoewel selfmoord nie geregverdig kan word nie, is dit gerusstellend om te weet dat die toekomsvooruitsigte van ons geliefdes in die hande is van ’n God wat ten volle verstaan dat swakhede en gesondheidsprobleme ’n mens tot so ’n wanhopige daad kan dryf. Die Bybel sê van Jehovah: “So hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.”—Psalm 103:11-14.

’n Gelukkige einde

Mary was twee dae lank op die rantjie van die dood, maar sy het dit oorleef. Haar verstand het geleidelik helderder geraak en John het haar huis toe geneem, na ’n huis waar alle medisyne veilig agter slot en grendel is. Mary gaan nou gereeld vir opvolgbesoeke na maatskaplike werkers op die gebied van geestesgesondheid en sê dat sy die donker drang wat so amper haar lewe gekos het, nie kan verduidelik of selfs kan onthou nie.

Nou hou Sally, John en Mary se buurvrou, elke week ’n Bybelstudie met hulle. Hulle het uit die Bybel geleer dat die probleme wat nou, veral vir ouer mense, so onoorkomelik lyk binnekort deur God opgelos gaan word. “’n Bybelstudie is op sigself natuurlik geen wondermiddel nie”, verduidelik Sally. “Jy moet vir jouself uit die Skrif bewys dat hierdie beloftes werklik is, en dan moet jy toepas wat jy leer. Maar ek dink dat John en Mary besig is om ’n ware hoop vir die toekoms te kry.”

As jou toekoms donker lyk en jy graag ’n ware hoop wil hê, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in verbinding tree. Laat hulle aan jou bewys, soos hulle aan John en Mary bewys het, dat daar geen probleem is wat God nie in die nabye toekoms kan en sal oplos nie. Ongeag hoe sleg dinge dalk nou lyk, daar is ’n antwoord. Ondersoek gerus saam met ons die vaste hoop vir die toekoms wat baie ’n hernieude begeerte gegee het om te lewe.

[Venster op bladsy 6]

Risikofaktore en waarskuwingstekens

“Risikofaktore vir selfmoord onder ouer mense verskil van dié onder jonger mense”, sê The Journal of the American Medical Association. Hierdie risikofaktore is onder meer “’n hoër voorkoms van alkoholmisbruik en depressie, groter gebruik van hoogs dodelike metodes en sosiale afsondering. Daarbenewens het ouer mense . . . meer siektes en emosionele versteurings.” Die boek Suicide, deur Stephen Flanders, noem die volgende risikofaktore, waarvan elkeen aandag verdien.

Chroniese depressie:

“Navorsers berig dat 50% of meer van diegene wat ­selfmoord pleeg ’n geskiedenis van ernstige depressie het.”

Wanhoop:

In sommige studies was selfs mense wat nie depressief gelyk het nie veel meer geneig om selfmoord te pleeg as hulle geen hoop vir die toekoms gehad het nie.

Alkoholisme en dwelmmisbruik:

“Daar word geskat dat tussen 7% en 21% [van alkoholiste] selfmoord pleeg, in vergelyking met minder as 1% van die algemene publiek.”

Gesinsinvloed:

“Studies toon dat lede van ’n gesin wat deur ’n selfmoord geraak is ’n groter risiko loop om ook selfmoord te pleeg.”

Siekte:

“Vrese oor fisiese agteruitgang, wat moontlik tot opname in ’n inrigting kan lei, kan genoeg wees om sommige ouer mense aan selfmoord te laat dink.”

Verliese:

“Die verlies kan tasbaar wees, soos ’n huweliksmaat of ’n vriend, ’n werk of ’n mens se gesondheid. Die verlies kan ook abstrak wees. Voorbeelde hiervan is eiewaarde, status of ’n gevoel van sekuriteit.”

Buiten hierdie risikofaktore noem Flanders se boek die volgende waarskuwingstekens wat nooit ligtelik opgeneem moet word nie.

Vorige selfmoordpoging:

“Dit is die vernaamste aanduiding van moontlike selfmoord.”

Praat oor selfmoord:

“Stellings soos: ‘Hulle sal hulle nie meer lank oor my hoef te bekommer nie’, of: ‘Dit sal vir hulle beter wees sonder my’, is voorbeelde van ondubbelsinnige dreigemente.”

Laaste reëlings:

“Sulke gedrag sluit in dat hulle ’n testament opstel, geliefde besittings weggee en reëlings vir troeteldiere tref.”

Persoonlikheids- of gedragsveranderinge:

Wanneer dit “gepaardgaan met verklarings van waardeloosheid of wanhoop”, kan dit “’n teken wees van depressie wat ernstig genoeg is om tot selfvernietigende gedrag te lei”.

[Prent op bladsy 7]

Oorlewendes het dikwels hulp nodig om ’n maat se selfmoord te verwerk