Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom het my vriend my seergemaak?

Waarom het my vriend my seergemaak?

Jongmense vra . . .

Waarom het my vriend my seergemaak?

“Ek het ’n paar vriendinne gehad . . . Toe maak hulle vriende met ’n ander meisie, en as ek na hulle toe geloop het, het hulle stilgebly. . . . Hulle het alles sonder my begin doen. Dit het my regtig seergemaak.”Karen. *

DIT kan met die beste vriende gebeur. Een dag is die twee onskeibaar; die volgende dag praat hulle nie eens met mekaar nie. “’n Vriend is veronderstel om iemand te wees op wie jy kan vertrou en wat jy in jou vertroue kan neem, iemand na wie toe jy kan gaan ongeag wat gebeur”, sê die 17-jarige Nora. Maar soms begin jou beste vriend dalk optree asof hy jou grootste vyand is.

Vriendskap onder skoot

Wat lei daartoe dat ’n goeie vriendskap skipbreuk ly? Vir Sandra het die probleme begin toe haar vriendin Megan een van haar gunstelingbloese geleen het. “Toe sy dit terugbring”, sê Sandra, “was dit vuil en was daar ’n klein skeurtjie in die mou. Sy het nie eers iets daaroor gesê nie, asof ek dit nie sou agterkom nie.” Hoe het Sandra gevoel oor Megan se onbedagsaamheid? “Dit het my woedend gemaak”, sê sy. “Dit het gevoel asof sy geen respek vir my goed . . . of vir my gevoelens gehad het nie.”

Dit kan ook seermaak as ’n goeie vriend iets doen of sê wat jou in die verleentheid stel. Dit het met Cindy gebeur toe sy ’n groep van haar skoolmaats vertel het dat sy nog nie ’n boek vir haar boekbespreking gelees het nie. Skielik het haar vriendin Kate haar begin uittrap. “Sy het my belaglik laat lyk voor ’n klomp van ons vriende”, sê Cindy. “Ek was so kwaad vir haar. Dinge het daarna baie verander.”

Soms ontstaan daar ’n skeuring wanneer ’n vriend meer tyd saam met nuwe maats begin deurbring. “Ek het ’n goeie vriendin gehad wat deel geword het van ’n kliek”, sê die 13-jarige Bonnie. “Sy het my begin ignoreer.” Of jy begin dalk agterkom dat iemand uit eiebelang met jou vriende is. “Ek en Bobby was regtig goeie vriende”, sê Joe, wat 13 is. “Ek het gedink dat hy van my as persoon gehou het, maar ek het uitgevind dat hy net van my gehou het omdat my pa in die advertensiewese is en altyd goeie kaartjies vir wedstryde en konserte kon kry.” Hoe voel Joe nou? “Ek sal Bobby nooit weer vertrou nie!” sê hy.

In sommige gevalle vertel ’n vriend dalk iets vir ander wat jy vertroulik wou hou. Allison het byvoorbeeld met haar vriendin Sara oor die persoonlike probleem van ’n werksmaat gepraat. Die volgende dag het Sara in die teenwoordigheid van die werksmaat daaroor gepraat. “Ek het nooit gedink dat sy so ’n nuusdraer sou wees nie!” sê Allison. “Ek was woedend.” Rachel, 16, het ’n soortgelyke ondervinding gehad toe ’n goeie vriendin iets verklap het waaroor die twee gepraat het toe hulle alleen was. “Ek was skaam en het ook gevoel dat sy my verraai het”, sê Rachel. “Ek het by myself gedink: ‘Hoe kan ek haar ooit weer in my vertroue neem?’”

’n Vriendskap kan ’n bron van emosionele ondersteuning wees, veral wanneer daar ’n gevoel van wedersydse besorgdheid, vertroue en respek is. En tog kan selfs hegte vriendskappe tye van spanning deurgaan. Die Bybel sê ronduit: “Daar is metgeselle wat geneig is om mekaar aan stukke te breek” (Spreuke 18:24, NW). Wat ook al die oorsaak, dit kan jou verpletter wanneer jy voel dat jy deur ’n vriend verraai is. Waarom gebeur dit?

Waarom vriendskappe verswak

Geen verhouding tussen mense—hetsy tussen jongmense of volwassenes—is sonder probleme nie. Dit is immers net soos die Christendissipel Jakobus geskryf het: “Ons almal struikel baie kere. As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook sy hele liggaam in toom te hou” (Jakobus 3:2; 1 Johannes 1:8). Aangesien almal foute maak, moet jy dit verwag dat ’n vriend die een of ander tyd iets sal doen of sê wat jou seermaak. Jy onthou dalk selfs ’n tyd toe jy daardie persoon ook seergemaak het (Prediker 7:22, NW). “Ons is almal onvolmaak, en ons gaan mekaar af en toe kwaad maak”, sê die 20-jarige Lisa.

Buiten menslike onvolmaaktheid is daar ander faktore wat moontlik ’n rol speel. Onthou, namate jy groei en volwasse word, sal jou belangstelling—sowel as dié van jou vriende—gewoonlik verander. Gevolglik vind twee mense wat voorheen baie in gemeen gehad het moontlik dat hulle stadig maar seker van mekaar vervreem raak. Een tiener het oor haar beste vriendin gesê: “Ons bel mekaar nie baie gereeld nie en wanneer ons wel met mekaar praat, stem ons byna oor niks meer saam nie.”

Dit is natuurlik een ding om bloot van mekaar vervreem te raak. Maar waarom maak party mense hulle vriende seer? Jaloesie is dikwels daarby betrokke. ’n Vriend begin byvoorbeeld afgunstig op jou raak weens jou talente of prestasies. (Vergelyk Genesis 37:4; 1 Samuel 18:7-9.) Soos die Bybel sê, ‘is jaloesie verrotting vir die gebeente’ (Spreuke 14:30, NW). Dit veroorsaak afguns en twis. Ongeag die oorsaak, wat kan jy doen as ’n vriend jou seermaak?

Stel sake reg

“Eerstens”, sê Rachel, “hou ek die persoon dop en probeer vasstel of wat hy of sy gedoen het opsetlik was.” Wanneer jy in woord of daad te na gekom is en jy voel dat dit jou tot oneer strek, moet jy nie bloot in ’n oomblik van woede reageer nie. Wees eerder geduldig en oordink die saak (Spreuke 14:29). Sal dit werklik die situasie verbeter as jy oorhaastig op die veronderstelde belediging reageer? Nadat jy oor alles nagedink het, sal jy dalk besluit om die raad in Psalm 4:4 (NW) te volg: “Wees ontsteld, maar moenie sondig nie. Sê wat julle te sê het in julle hart, op julle bed, en bly stil.” Miskien verkies jy dan om maar ‘die liefde ’n menigte sondes te laat bedek’.—1 Petrus 4:8.

Maar sê nou jy voel dat jy die verkeerde gedrag nie sommer net kan ignoreer nie? In so ’n geval sal dit dalk beter wees om met die persoon te gaan praat. “Kom bymekaar, net die twee van julle, en praat die saak uit”, sê die 13-jarige Frank. “As jy dit nie doen nie, sal jy ’n wrok koester.” Susan, 16, het ook so gevoel. “Die beste ding om te doen”, sê sy, “is om vir hulle te sê dat jy hulle vertrou het en dat hulle jou teleurgestel het.” Jacqueline verkies ook om dinge op ’n persoonlike vlak te hanteer. “Ek probeer om openlik oor dinge te praat”, sê sy. “Gewoonlik is die persoon eerlik met jou en kan julle die probleem so te sê op die plek oplos.”

Jy moet natuurlik versigtig wees om nie in ’n woedebui na jou vriend te gaan nie. Die Bybel sê: “’n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar” (Spreuke 15:18). Wag dus totdat jy kalm is voordat jy die situasie probeer oplos. “Aan die begin is jy kwaad”, erken Lisa, “maar jy moet jouself toelaat om af te koel. Wag totdat jy nie meer woedend vir die persoon is nie. Dan kan jy na hom toe gaan en die probleme vreedsaam sit en bespreek.”

Die sleutelwoord is “vreedsaam”. Onthou, jou doel is nie om jou vriend uit te trap nie. Dit is om sake vriendskaplik op te los en, indien enigsins moontlik, om die vriendskap te herstel (Psalm 34:15). Praat dus uit jou hart. “Jy kan sê: ‘Ek is jou vriendin, en jy is my vriendin; maar ek wil net weet wat gebeur het’”, stel Lisa voor. “Jy moet weet wat die rede vir die optrede was. Wanneer jy dit weet, is dit gewoonlik nie so moeilik om te hanteer nie.”

Dit sou beslis verkeerd wees om die persoon met gelyke munt te probeer terugbetaal, miskien deur oor hom te skinder en ander aan jou kant te probeer kry. Die Christenapostel Paulus het aan die Romeine geskryf: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie” (Romeine 12:17). Trouens, ongeag hoe diep jy seergemaak is, dit sal sake net vererger as jy probeer weerwraak neem. “Dis nie die moeite werd om wraak te neem nie”, sê Nora, “omdat julle nooit weer sal vriende word nie.” In teenstelling hiermee voeg sy by dat dit “jou laat voel asof jy ’n beter mens is” wanneer jy jou bes doen om die verhouding te herstel.

Maar sê nou jou vriend reageer nie op jou pogings om versoening nie? In so ’n geval moet jy onthou dat ’n mens verskillende grade van vriendskap kry. “Nie elke vriend sal ’n intieme vriend wees nie”, sê die gesinsberader Judith McCleese. “Leer dat jy verskillende soorte verhoudings kan hê.” Jy kan nietemin gerus wees omdat jy gedoen het wat jy kon om die vrede te herstel. Die apostel Paulus het geskryf: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.”—Romeine 12:18.

Storms sal selfs die beste vriendskappe tref. As jy die storm kan deurstaan sonder dat dit jou beskouing van ander of jou eiewaarde vernietig, is jy goed op pad om ’n ryp volwassene te word. Hoewel party mense dalk “geneig is om mekaar aan stukke te breek”, verseker die Bybel ons ook dat ‘daar ’n vriend is wat sterker aanhang as ’n broer’.—Spreuke 18:24NW.

[Voetnoot]

^ par. 3 Van die name in hierdie artikel is verander.

[Prente op bladsy 15]

Jy kan ’n vriendskap herstel deur te praat oor wat gebeur het