Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Gevare van vetsug

Dramatiese toenames in suikersiekte, hartsiekte en ander siektes word in die vooruitsig gestel as gevolg van “die epidemie van vetsug wat Europa teister”, berig The Independent van Londen. Die voorsitter van die Internasionale Taakmag teen Vetsug het in Milaan, Italië, die volgende vir ’n vergadering van mediese deskundiges uit 26 lande gesê: “Dit is ’n wêreldwye krisis, en daar moet nou dringend opgetree word om hierdie stille epidemie van ernstige siektes en toenemende gesondheidskoste te stuit. Ons sal met ’n gesondheidsramp te kampe hê as ons nie iets daaromtrent doen nie.” Alle Europese lande is betrokke, en in sommige gebiede word tussen 40 en 50 persent van die bevolking geraak. Sedert 1980 het vetsugsyfers in Engeland gestyg van 8 tot 20 persent onder vroue en van 6 tot 17 persent onder mans. Die redes wat gegee is, sluit ’n onaktiewe lewenswyse en ’n ryker dieet in—wat albei met groter welvaart verband hou. Die grootste rede tot kommer is die aantal kinders wat oorgewig is. Volgens professor Jaap Seidell, voorsitter van die Europese Vereniging vir die Studie van Vetsug, “is daar aanduidings dat ’n groter deel van die volgende geslag op ’n vroeër ouderdom vetsugtig en oorgewig raak”.

Die negatiewe kant van globalisasie

Ekonomiese globalisasie is besig om ’n wêreldmark te skep wat beter geleenthede vir baie bied, maar dit lei ook tot groter risiko’s, berig die Britse koerant The Guardian. Die interafhanklikheid van nasies in die opkomende wêreldekonomie maak dit moontlik dat ’n oënskynlik alleenstaande gebeurtenis—soos die devaluasie van die Thaise baht in 1997—wêreldwyd finansiële paniek kan saai. “Dertig jaar gelede”, sê The Guardian, “was die verskil tussen die rykste vyfde van die wêreld se mense en die armste vyfde 30 tot 1. Teen 1990 het dit so toegeneem dat dit 60 tot 1 was en vandag is dit 74 tot 1. . . . Van die mense wat die meeste voordeel uit globalisasie trek, is misdadigers, wat nou wêreldwye markte vir dwelms, wapens en prostitute kan uitbuit.”

Kan jy verkoues vermy?

Jy kan verkoues dalk nie geheel en al vermy nie, maar daar is voorsorgmaatreëls wat jy kan tref, sê The New York Times. Die volgende is van die belangrikstes: Probeer om, indien enigsins moontlik, groot groepe mense te vermy en nie mense wat duidelik verkoue is se hand te skud nie. Daarbenewens moet jy nie jou oë en neus vryf nie, en was jou hande gereeld. Sulke voorsorgmaatreëls help omdat die hande dikwels verkouevirusse aan die delikate oog- en neusvliese oordra. Verkouevirusse op ’n oppervlak of op die hande kan ’n hele paar uur aan die lewe bly, en iemand wat verkoue is, kan nog ’n ruk voor en ná die tekens van die siekte duidelik is ander aansteek. Ander voorsorgmaatreëls sluit in dat jy ’n gebalanseerde dieet volg en veral versigtig is wanneer jy by kinders is. Waarom? Omdat hulle tussen vyf en agt keer per jaar verkoue kry!

Geestesgesondheid in Afrika

“Na raming ly 100 miljoen mense, uit die 600 miljoen mense van Afrika suid van die Sahara, aan geestesiektes”, berig die Suid-Afrikaanse koerant The Star. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is oorlog en armoede hoofsaaklik vir hierdie hoë syfer verantwoordelik. ’n Verwante faktor is dat die ondersteuning van die uitgebreide familie afneem. Volgens professor Michael Olatawura van Nigerië word hierdie “tradisionele Afrika-veiligheidsnet” deur Westerse waardes, dwelmmisbruik en burgerlike geweld ondermyn. Familielede reis boonop al hoe verder op soek na werk. “Die ekonomiese probleme van Afrika-regerings het ons vermoë verydel om gesondheid te ondersteun soos ons moet”, sê professor Olatawura.

Oorlogstapyte

Die gruwels van oorlog word uitgebeeld in ’n buitengewone kunsvorm in Afganistan, berig The News van Mexikostad. Afgaanse handwerkers weef al die afgelope 20 jaar uitbeeldings van krygstuig in hulle beroemde tapyte in. Tussen die tradisionele motiewe van voëls, moskees en blomme kan daar ook masjiengewere, handgranate en pantservoertuie gesien word. Die tapytkenner Barry O’Connell sê hoewel ’n mens die motiewe nie altyd met die eerste oogopslag opmerk nie, is baie ontwerpe “so akkuraat wat hulle ikonografie betref” dat dit dikwels moontlik is om “tussen AK-47- en AK-74-aanvalsgewere te onderskei”. Daar word gesê dat die meeste van die tapytwewers vroue is wat oorlogslagoffers is. Die weef van hierdie unieke tapyte is vir hulle ’n subtiele manier om hulle gevoelens te lug.

Besoedelde reën

Hoë vlakke van opgeloste plaagdoders het van die reënwater in Europa ongeskik gemaak om te drink, berig die tydskrif New Scientist. Chemici in Switserland het gevind dat monsters reënwater wat gedurende die eerste minute van ’n storm geneem is dikwels hoër vlakke plaagdoders bevat as dié wat deur die Europese Unie of deur Switserland as aanvaarbaar beskou word. Plaagdoders vir gesaaides dra die skuld, en die hoogste konsentrasie van sulke giftige chemikalieë kom in die eerste reëns ná ’n lang droë seisoen voor. Intussen het Sweedse navorsers die vinnig toenemende voorkoms van nie-Hodgkin se limfoom, ’n soort kanker, aan die algemene gebruik van verskeie plaagdoders vir gesaaides gekoppel. Chemikalieë wat keer dat plante op dakbedekking groei, besoedel eweneens die reënwater wat van geboue afloop.

Boerderyverwante sterftes

Meer as een persoon per week sterf op Brittanje se plase, wat boerdery een van die gevaarlikste beroepe in die land maak, berig The Times van Londen. In 1998 is die jongste slagoffer, net vier jaar oud, onder die wiele van ’n trekker vergruis, en sewe ander sterftes is deur trekkers veroorsaak wat teen skuinstes omgeslaan het. Boere word gewaarsku om dit eers goed te oorweeg voordat hulle gevaarlike werk doen en om toestande te ondersoek voordat hulle met ’n trekker teen ’n helling uit ry. David Mattey, hoofinspekteur van landbou vir die Gesondheids- en Veiligheidsadministrasie, het gesê: “Die meeste van hierdie tragedies kon verhoed gewees het as die persoon net ’n oomblik geneem het om oor die taak te dink en dit dan op ’n ietwat ander manier gedoen het.”

Ongewone kragbronne

▪ Die eiland Ouvéa, in Nieu-Kaledonië, het geen petroleum nie, maar hulle gebruik kokosolie om elektrisiteit op te wek, berig die Franse tydskrif Sciences et avenir. Die Franse ingenieur Alain Liennard het 18 jaar daaraan bestee om ’n enjin te ontwikkel wat met kokosolie werk. Die enjin dryf ’n kragopwekker aan, wat weer krag aan die ontsoutingsaanleg lewer wat die eiland se 235 gesinne van drinkwater voorsien. Liennard sê dat sy stelsel van 165 kilowatt met dieselenjins meeding wat kraglewering en brandstofverbruik betref.

▪ Intussen, in ’n eksperiment wat gedoen is in die dorpie Kalali in die staat Goedjarat, Indië, is die krag van jong osse ingespan om elektrisiteit op te wek. Die tydskrif Down to Earth, van Nieu-Delhi, berig dat ’n wetenskaplike en sy niggie ’n idee gekry het oor hoe om krag op te wek. Vier jong osse draai ’n disselboom wat gekoppel is aan ’n ratkas wat ’n klein kragopwekker aandryf. Die kragopwekker is gekoppel aan batterye, wat ’n waterpomp en ’n koringmeul van krag voorsien. Die eenheidskoste van hierdie krag is ongeveer 60 sent, in vergelyking met R6 per eenheid wanneer windmeulens gebruik word of R144 per eenheid wanneer sonpanele gebruik word, sê Down to Earth. Maar aangesien die dorpenaars die jong osse drie maande van die jaar nodig het om hulle landerye te bewerk, soek die ontwikkelaars ’n doeltreffende manier om krag te stoor vir gebruik gedurende die jong osse se afwesigheid.

Gesonde eetgewoontes

Oor die algemeen groei meisies 25 sentimeter en sit hulle 18 tot 22 kilogram aan tussen die ouderdomme van 10 en 14, terwyl seuns ongeveer 30 sentimeter groei en 22 tot 27 kilogram aansit tussen 12 en 16. Gedurende hierdie tydperk waarin hulle so vinnig groei, is dit nie ongewoon vir tieners om baie ongemaklik oor hulle gewig te voel nie, en baie raak daaroor besorg om hulle gewig te beheer. “Maar om ’n dieet te volg en minder te eet, is nie gesonde oplossings nie en word nie aanbeveel nie”, skryf die dieetkundige Lynn Roblin in The Toronto Star. Hierdie maatreëls kan die liggaam van voedingstowwe beroof, sê Roblin. Om met diëte te eksperimenteer, “berei [ook] die weg vir ongesonde eetgewoontes en kan tot ernstiger eetversteurings lei”. Tieners, sê sy, moet ’n meer realistiese liggaamsbeeld hê en ’n gesonde gewig bereik deur “gesonde eetgewoontes, ’n aktiewe lewenstyl en tevrede te wees met hulleself”.