Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulp vir slagoffers van marteling

Hulp vir slagoffers van marteling

 Hulp vir slagoffers van marteling

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DENEMARKE

“DIT IS MAKLIKER OM GEBREEKTE BENE TE GENEES AS OM ’N GEBROKE SIEL TE GENEES.”—Dr. Inge Genefke.

’N JONG man loop in ’n rustige straat in ’n Europese stad af en gaan staan om na handelsware te kyk wat in ’n winkelvenster uitgestal is. Skielik bewe sy hande. Sy knieë knak. Hy gryp na sy nek asof hy besig is om te verstik. Hy het so pas in die venster die weerkaatsing van twee polisiemanne in uniform gesien. Die jong man het geen wette oortree nie en hy het geen rede om bang te wees nie. Maar die blote gesig van mans in uniform neem hom terug na ’n plek duisende kilometers daarvandaan en na ’n tyd jare gelede toe hy ’n slagoffer van marteling was.

Dit kan die verhaal wees van enigeen van miljoene mans, vroue en selfs kinders. Dit kan die verhaal wees van iemand wat jy ken. Die slagoffer van wrede mishandeling is dalk ’n vlugteling of ’n immigrant wat in julle buurt ingetrek het. Sy kinders is moontlik saam met jou kinders op skool. Jy ken hom dalk as ’n stil, kalm, hoflike buurman wat hom gewoonlik eenkant hou. Maar die uiterlike kan misleidend wees; dit verberg moontlik die innerlike onrus wat die slagoffer voel terwyl hy worstel met herinneringe aan fisiese en emosionele lyding uit die verlede. Enige beeld—of geluid—kan maak dat hy gruwels uit die verlede herleef. Een van hierdie slagoffers verduidelik: “Wanneer ek ’n baba hoor huil, dink ek aan mense wat ek in die tronk hoor huil het. Wanneer ek ’n swiepgeluid in die lug hoor, onthou ek die lat wat op en af beweeg—die geluid wat dit gemaak het net voordat dit my getref het.”

Marteling is nie net die domein van politieke ekstremiste en terroristegroepe nie. In verskeie lande word dit ook deur die weermag en polisie gebruik. Waarom? Marteling kan ’n vinnige en doeltreffende manier wees om inligting te bekom, om ’n bekentenis af te pers, inkriminerende getuienis te kry of om wraak te neem. Volgens Denemarke se dr. Inge Genefke, ’n toonaangewende deskundige op die gebied van marteling, het regerings in sommige gevalle “aan bewind gekom en hulle posisie behou deur marteling te gebruik”. Een slagoffer het dit só gestel: “Hulle wou my breek sodat  ander kon sien wat gebeur wanneer ’n mens die regering kritiseer.”

Vir baie mense behoort die idee om hulle medemens te martel net tot die duister Middeleeue. In 1948 het die Verenigde Nasies immers die Universele Verklaring van Menseregte aangeneem, wat sê: “Niemand sal aan marteling of aan wrede, onmenslike of vernederende behandeling of straf onderwerp word nie” (Artikel 5). Maar party deskundiges meen dat tot 35 persent van die wêreld se vlugtelinge al gemartel is. Waarom is marteling so algemeen? Watter uitwerking het dit op slagoffers, en wat kan gedoen word om hulle te help?

Die nadraai

Dit is nie verbasend dat baie slagoffers van marteling uit hulle vaderland vlug om elders ’n nuwe lewe te begin nie. Maar hoewel die plek dalk verander, duur die lyding voort—fisies sowel as sielkundig. Byvoorbeeld, die slagoffer ondervind moontlik skuldgevoelens omdat hy nie sy vriende of familielede teen mishandeling kon beskerm nie. Hy kan ook ’n diepgaande wantroue teen ander ontwikkel en bang wees dat elkeen wat hy teëkom ’n spioen is. “Die slagoffer van marteling sal altyd ’n vreemdeling wees”, sê die skrywer Carsten Jensen. “Hy het vir goed sy vertroue in die wêreld verloor.”

Die gevolg is ’n kombinasie van fisiese en emosionele trauma wat die slagoffer en enigeen wat hom probeer help, kan verbyster. Die fisiese probleme kan soms maklik behandel word, maar nie die sielkundige probleme nie. “Ons het aanvanklik gedink: ‘Goed, ons sal hulle gebreekte bene gesond maak—dan kan hulle huis toe loop’”, erken dr. Genefke. “Maar ons het gou uitgevind dat dit die pyn in hulle hart was wat hulle verteer het.” Dr. Genefke sê nietemin: “Dit was ’n verrassing om uit te vind dat dit wel moontlik is om slagoffers te ondersteun en te help, selfs ná baie jare.”

In 1982 het dr. Genefke saam met ander Deense dokters ’n klein eenheid by Kopenhagen se Nasionale Hospitaal op die been gebring om vlugtelinge te behandel wat slagoffers van marteling was. Uit hierdie klein begin het ’n wêreldwye netwerk bekend as die Internasionale Rehabilitasieraad vir Slagoffers van Marteling (IRCT) ontstaan. Van hulle hoofkwartier in Kopenhagen af reël die raad noodlenigingswerk deur meer as 100 sentrums regoor die wêreld. Deur die jare heen het die raad baie geleer oor die behandeling van slagoffers van marteling.

Hoe om ondersteuning te gee

Dit is dikwels goed vir slagoffers om oor hulle ondervindings te praat. “Sowat 20 jaar gelede”, sê ’n inligtingsblad van die IRCT, “was slagoffers van marteling dikwels dubbele slagoffers. Eerstens omdat hulle aan fisiese/sielkundige marteling blootgestel is, en dan tweedens omdat hulle nie daaroor kon praat nie.”

Toegegee, dit is nie lekker om oor ’n sombere onderwerp soos marteling te praat nie. Maar as die slagoffer ’n vriend in sy vertroue wil neem en die vriend is nie bereid om te luister nie, kan die slagoffer dieper in wanhoop verval. Daarom is dit belangrik dat die slagoffer verseker word dat iemand omgee. Dit spreek vanself dat niemand sy neus in iemand anders se persoonlike sake moet steek nie. Dit is per slot van rekening die slagoffer wat moet besluit of hy iemand in sy vertroue wil neem en wanneer en met wie hy wil praat.—Spreuke 17:17; 1 Tessalonisense 5:14.

Die meeste deskundiges beveel aan dat daar aan die fisiese sowel as die  emosionele aspekte van marteling aandag gegee moet word. Party slagoffers het professionele hulp nodig om te herstel. Benaderings tot behandeling sluit asemhalings- en kommunikasie-oefeninge in. * Gevoelens van skaamte is gewoonlik van die eerstes wat aangespreek moet word. Een terapeut het vir ’n vrou wat herhaaldelik verkrag en geslaan is, gesê: “Die skaamte wat jy voel, is normaal en verstaanbaar. Maar jy moet onthou dat dit nie jou skuld is nie. Die mense wat dit aan jou gedoen het, moet hulle daaroor skaam.”

Konsentrasiekampoorlewendes

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het miljoene mense verskriklik gely in Hitler se konsentrasiekampe. Onder hulle was duisende van Jehovah se Getuies wat vervolg is omdat hulle geweier het om hulle godsdiensopvattings te verloën. Hulle geloof het hulle ongetwyfeld gehelp om sulke moeilike omstandighede te verduur. Hoe?

Lank voor hulle gevangenskap was hierdie Christene nougesette studente van God se Woord. Gevolglik het probleme wat ontstaan het hulle nie verbyster gelaat nie, en hulle het God ook nie geblameer toe hulle lyding nie onmiddellik opgehou het nie. Deur ’n studie van die Bybel het die Getuies geleer waarom God goddeloosheid toelaat en hoe hy op sy bestemde tyd ’n einde daaraan gaan maak. Bybelstudie het hulle geleer dat Jehovah ‘die reg liefhet’ en dat dit hom woedend maak wanneer die mens sy medemens mishandel.—Psalm 37:28; Sagaria 2:8, 9.

Baie van hierdie konsentrasiekampoorlewendes moes natuurlik die traumatiese gevolge van hulle beproewing verwerk. Hulle is in hierdie proses grootliks versterk deur die raad van die apostel Paulus te volg. Terwyl Paulus in ’n haglike Romeinse tronk was, ’n situasie wat hom baie angs moes besorg het, het hy vir medegelowiges geskryf: “Moet oor niks besorg wees nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.”—Filippense 1:13; 4:6, 7.

Deur Bybelstudie het hierdie handhawers van onkreukbaarheid geleer dat God beloof het om die aarde in ’n paradys te omskep, waar die pynlike gevolge van lyding, soos marteling, uiteindelik uitgewis sal word.

Jehovah se Getuies verkondig hierdie Bybelse hoop in meer as 230 lande aan hulle medemens. Stormagtige wêreldtoestande bring hulle in aanraking met baie wat gely het weens die mens se wreedheid teenoor ander. Wanneer hulle slagoffers van marteling teëkom, probeer die Getuies hierdie mense vertel van die Bybel se belofte van ’n gelukkige toekoms. Hoe gelukkig is hulle tog om die blye nuus te versprei van ’n tyd in die toekoms wanneer marteling iets van die verlede sal wees!—Jesaja 65:17; Openbaring 21:4.

[Voetnoot]

^ par. 15 Ontwaak! staan geen spesifieke behandeling voor nie. Christene moet seker wees dat enige behandeling wat hulle volg nie in stryd is met Bybelbeginsels nie.

[Lokteks op bladsy 24]

“NIEMAND SAL AAN MARTELING OF AAN WREDE, ONMENSLIKE OF VERNEDERENDE BEHANDELING OF STRAF ONDERWERP WORD NIE.”—Artikel 5, Universele Verklaring van Menseregte

[Venster op bladsy 25]

HOE JY KAN HELP

AS JY IEMAND KEN WAT BESIG IS OM VAN DIE GEVOLGE VAN MARTELING TE HERSTEL, SAL DIE VOLGENDE WENKE DALK NUTTIG WEES:

● Toon empatie. Jy kan sê: “Ek weet daar is baie probleme in jou land. Hoe gaan dit met jóú?”—Matteus 7:12; Romeine 15:1.

● Moenie nuuskierig wees of daarop aandring om hulp te verleen nie. Wees eerder vriendelik en bedagsaam. Laat die slagoffer weet dat jy gewillig is om te luister.—Jakobus 1:19.

● Moenie te behulpsaam wees nie. Moenie die slagoffer sy selfrespek of sy privaatheid ontneem nie. Die idee is om die slagoffer te help om sy las te dra en nie om dit by hom oor te neem nie.