Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bloedoortappings—’n Lang omstrede geskiedenis

Bloedoortappings—’n Lang omstrede geskiedenis

 Bloedoortappings—’n Lang omstrede geskiedenis

“As rooi bloedselle vandag ’n nuwe medisyne was, sou dit baie moeilik wees om dit te laat registreer.”—Dr. Jeffrey McCullough.

IN DIE winter van 1667 is ’n gewelddadige kranksinnige genaamd Antoine Mauroy na Jean-Baptiste Denis, die beroemde geneesheer van koning Lodewyk XIV van Frankryk, gebring. Denis het net die regte “geneesmiddel” vir Mauroy se kranksinnigheid gehad—’n oortapping van kalfbloed, wat hy gemeen het ’n kalmerende uitwerking op sy pasiënt sou hê. Maar dit het nie die gewenste uitwerking op Mauroy gehad nie. Sy toestand het weliswaar na ’n tweede oortapping verbeter. Maar die Fransman het weer kranksinnig geword, en nie lank daarna nie het hy gesterf.

Hoewel daar later vasgestel is dat Mauroy eintlik aan arseenvergiftiging dood is, het Denis se eksperimente met dierebloed ’n heftige geskil in Frankryk ontlok. In 1670 is die prosedure uiteindelik verbied. Mettertyd het die Engelse Parlement en selfs die Pous dieselfde gedoen. Bloedoortappings het gedurende die volgende 150 jaar in onbruik geraak.

Vroeë gevare

In die 19de eeu het bloedoortappings weer ’n oplewing gehad. Aan die voorpunt van die herlewing was ’n Engelse verloskundige genaamd James Blundell. Met sy verbeterde tegnieke en gevorderde instrumente—en omdat hy aangedring het dat net mensebloed gebruik moet word—het Blundell bloedoortappings weer onder mense se aandag gebring.

Maar in 1873 het F. Gesellius, ’n Poolse dokter, ’n demper op die oortappingsherlewing gesit met ’n skrikwekkende ontdekking: Meer as die helfte van die mense wat oortappings ontvang het, het gesterf. Toe vooraanstaande geneeshere hiervan te hore kom, het hulle die prosedure begin afkeur. Die gewildheid van oortappings het weer eens afgeneem.

Toe, in 1878, het die Franse geneesheer Georges Hayem ’n soutoplossing vervolmaak, wat hy gesê het as ’n plaasvervanger vir bloed kan dien. Anders as bloed het die soutoplossing geen newe-effekte gehad nie, het dit nie gestol nie en was dit maklik om te vervoer. Dit is dus te verstane dat Hayem se soutoplossing algemeen gebruik is. Maar dit was vreemd genoeg nie lank voordat mense weer bloed as ’n beter opsie beskou het nie. Waarom?

 In 1900 het die Oostenrykse patoloog Karl Landsteiner die bestaan van bloedgroepe ontdek, en hy het gevind dat een bloedgroep nie altyd met ’n ander groep verenigbaar is nie. Geen wonder dat soveel oortappings in die verlede noodlottige gevolge gehad het nie! Hierdie situasie kon nou verander word deur eenvoudig seker te maak dat die bloedgroep van die skenker met dié van die ontvanger verenigbaar is. Met hierdie kennis het geneeshere weer nuwe vertroue in oortappings gekry—net betyds vir die Eerste Wêreldoorlog.

Bloedoortappings en oorlog

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was dit ’n algemene gebruik om gewonde soldate bloedoortappings te gee. Bloed stol natuurlik vinnig, en voorheen sou dit feitlik onmoontlik gewees het om dit na die slagveld te vervoer. Maar vroeg in die 20ste eeu het dr. Richard Lewisohn, van die Mount Sinai-hospitaal in die stad New York, suksesvol geëksperimenteer met ’n teenstolmiddel genaamd natriumsitraat. Hierdie opwindende deurbraak is deur party dokters as ’n wonderwerk beskou. “Dit was amper asof hulle die son laat stilstaan het”, het dr. Bertram M. Bernheim geskryf, ’n vooraanstaande geneesheer in sy dag.

Die Tweede Wêreldoorlog het ’n toename in die vraag na bloed gesien. Daar was oral in openbare plekke plakkate waarop slagspreuke verskyn het soos “Gee nóú bloed”, “Jou bloed kan hom red” en “Hy het sy bloed gegee. Sal jy joune gee?” Die oproep om bloed te skenk, het ’n geweldige positiewe reaksie uitgelok. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is sowat 13 000 000 eenhede in die Verenigde State geskenk. Daar word geskat dat meer as 260 000  liter in Londen geskenk en versprei is. Bloedoortappings het natuurlik etlike gesondheidsgevare ingehou, soos mense gou uitgevind het.

Siektes wat deur bloed oorgedra word

Ná die Tweede Wêreldoorlog het groot deurbrake in die geneeskunde sekere operasies moontlik gemaak wat voorheen ondenkbaar was. Gevolglik het ’n wêreldwye bedryf met ’n omset van miljarde rande verrys om die bloed vir oortappings te voorsien, wat geneeshere as ’n standaardprosedure by operasies begin beskou het.

Maar oortappingsverwante siektes het gou kommer begin wek. Byvoorbeeld, tydens die Koreaanse Oorlog het byna 22 persent van diegene wat plasmaoortappings ontvang het hepatitis gekry—amper drie keer die persentasie gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Teen die 1970’s het die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer geskat dat 3 500 mense elke jaar aan oortappingsverwante hepatitis sterf. Ander het die syfer tien keer hoër gestel.

Danksy beter toetse en strenger keuring van skenkers het die aantal gevalle van hepatitis B-besmetting afgeneem. Maar toe het ’n nuwe en soms noodlottige vorm van die virus—hepatitus C—’n hoë tol geëis. Daar word geskat dat viermiljoen Amerikaners die virus opgedoen het, waarvan etlike honderdduisende dit deur ’n bloedoortapping gekry het. Deeglike toetse het weliswaar die voorkoms van hepatitus C uiteindelik laat afneem. Maar party vrees dat nuwe gevare sal kop uitsteek en eers verstaan sal word wanneer dit te laat is.

Nog ’n skandaal: HIV-besmette bloed

In die 1980’s is daar ontdek dat bloed besmet kan wees met HIV, die virus wat vigs veroorsaak. Aanvanklik wou bloedbanke nie glo dat hulle voorraad besmet kon wees nie. Baie van hulle het die HIV-gevaar aanvanklik met skeptisisme begroet. Volgens dr. Bruce Evatt “was dit asof iemand uit die woestyn gekom en gesê het: ‘Ek het ’n buiteaardse wese gesien.’ Hulle het geluister, maar hulle het dit eenvoudig nie geglo nie.”

Nietemin is skandale in verband met HIV-besmette bloed in die een land na die ander oopgevlek. Na raming is 6 000 tot 8 000 mense in Frankryk met HIV besmet deur oortappings wat tussen 1982 en 1985 gegee is. Bloedoortappings word verantwoordelik gehou vir 10 persent van die HIV-besmettings regdeur Afrika en vir 40 persent van die vigs-gevalle in Pakistan. Danksy beter toetse vind HIV-besmetting vandag selde in ontwikkelde lande as gevolg van bloedoortappings plaas. Maar sulke besmettings is steeds ’n probleem in ontwikkelende lande waar toetse nie gedoen word nie.

Dit is dus te verstane dat daar in onlangse jare groter belangstelling in bloedlose geneeskunde en chirurgie is. Maar is dit ’n veilige alternatief?

[Venster op bladsy 6]

Bloedoortappings—geen mediese standaard nie

Elke jaar word daar in die Verenigde State alleen meer as 11 000 000 eenhede rooi bloedselle in 3 000 000 pasiënte oorgetap. Met hierdie groot syfer in gedagte sou ’n mens dink dat daar ’n streng standaard onder geneeshere sal wees wat die toediening van bloed betref. Maar The New England Journal of Medicine sê dat daar verbasend min inligting is “waarop besluite oor oortappings gebaseer kan word”. Trouens, daar is baie variasies op hierdie gebied, nie net met betrekking tot presies wat en hoeveel oorgetap word nie, maar ook of ’n oortapping hoegenaamd gegee moet word of nie. “Oortapping hang van die dokter af, nie die pasiënt nie”, sê die mediese tydskrif Acta Anæsthesiologica Belgica. Met die oog hierop is dit glad nie verbasend nie dat ’n studie wat in The New England Journal of Medicine verskyn het, gevind het dat “ongeveer 66 persent van oortappings onnodig is”.

[Prente op bladsy 5]

Die Tweede Wêreldoorlog het ’n toename in die vraag na bloed gesien

[Erkennings]

Imperial War Museum, London

U.S. National Archives photos