HOU AAN WAAK!
Sal ’n wêreldoorlog binnekort gebeur? – Wat sê die Bybel?
Gedurende die afgelope 30 jaar het baie mense gevoel dat die verhoudings tussen die verskillende lande stabiel is en selfs verbeter het. Maar wat onlangs gebeur het, wys dat dit dalk nie waar is nie.
Mense is bekommerd dat die Gasa-oorlog die ander lande in die gebied sal affekteer omdat Israel en Hezbollah op die grens van Libanon begin veg het. – Reuters, 6 Januarie 2024.
Groepe wat deur Iran beheer word, val verskillende gebiede aan, en Iran het skielik weer begin om kernwapens te maak. Rusland en China ondersteun Iran ook nou. Dit alles hou ’n nuwe bedreiging vir die westerse lande in. – The New York Times, 7 Januarie 2024.
“Russiese aanvalle hou aan om verwoesting regoor Oekraïne te veroorsaak.” – UN News, 11 Januarie 2024.
China se groeiende ekonomie en militêre mag, Taiwan se toenemende nasionale trots en ’n gespanne verhouding tussen China en die VSA skep ’n situasie waar konflik maklik kan gebeur. – The Japan Times, 9 Januarie 2024.
Sê die Bybel enige iets oor die onstabiele situasie wat ons vandag in die wêreld sien? Sal dit tot ’n wêreldoorlog lei?
Die Bybel het huidige gebeure voorspel
Die Bybel het nie ’n spesifieke oorlog wat ons vandag sien, voorspel nie. Maar dit het wydverspreide oorloë wat so algemeen in ons tyd is en wat ‘vrede van die aarde wegneem’, voorspel. – Openbaring 6:4.
Die boek Daniël het voorspel dat “in die tyd van die einde” kompeterende wêreldmagte in ’n “stotery”, of magstryd, betrokke sou raak. Hierdie magstryd sou insluit dat hulle groot militêre mag wys en baie van hulle “skatte”, of finansiële middele, spandeer. – Daniël 11:40, 42, 43.
’n Oorlog wat kom
Die Bybel wys dat die situasie in die wêreld erger sal word voordat dit beter sal word. Jesus het voorspel dat “daar groot verdrukking [sou] wees soos daar van die begin van die wêreld af . . . nie plaasgevind het nie” (Matteus 24:21). Hierdie “groot verdrukking” sal lei tot ’n oorlog wat Armageddon genoem word, wat beskryf word as “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”. – Openbaring 16:14, 16.
Maar Armageddon sal die mensdom red, nie vernietig nie. Deur middel van hierdie oorlog sal God ’n einde maak aan menseregerings, wat so baie vernietigende oorloë veroorsaak het. Om uit te vind hoe Armageddon blywende vrede sal bring, lees die volgende artikels: