Die groeiende probleem van eensaamheid – Wat die Bybel sê
Volgens ’n onlangse opname a wat in verskillende dele van die wêreld gedoen is, voel omtrent een uit vier persone eensaam.
“Sosiale afsondering kan enige iemand van enige ouderdom op enige plek affekteer.” – Chido Mpemba, die medevoorsitter van die Wêreldgesondheidsorganisasie se Kommissie oor Sosiale Verbintenis.
Party mense dink dat net ouer mense of mense wat afgesonder is, eensaam voel. Maar mense wat jonk, gesond, suksesvol en getroud is, kan ook eensaam voel. Sosiale afsondering en eensaamheid kan ’n ernstige uitwerking op ’n persoon se fisiese en emosionele gesondheid hê.
Dr. Vivek Murthy, die Amerikaanse geneesheer-generaal, sê: “Eensaamheid is baie meer as net ’n slegte emosie.” Hy voeg by: “Die risiko om te sterf omdat ’n mens nie verhoudings of kontak met ander het nie, is soortgelyk aan die risiko om te sterf as ’n mens tot 15 sigarette per dag rook.”
Wat die Bybel sê
Ons Skepper wil nie hê dat ons sosiaal afgesonder moet wees nie. God se doel was nog altyd dat die mens goeie en bevredigende verhoudings moet geniet.
Bybelwaarheid: “God [het] gesê: ‘Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.’” – Genesis 2:18.
God wil hê dat ons ’n verhouding met hom moet ontwikkel. Hy belowe om nader aan ons te kom as ons probeer om nader aan hom te kom. – Jakobus 4:8.
Bybelwaarheid: “Gelukkig is dié wat besef dat hulle God nodig het, want die Koninkryk van die hemel behoort aan hulle.” – Matteus 5:3.
God wil hê dat ons hom saam met ander mense moet aanbid. Wanneer ons dit doen, help dit ons om gelukkiger te voel.
Bybelwaarheid: “Laat ons aandag skenk aan mekaar sodat ons mekaar tot liefde en goeie werke kan aanspoor. Ons moenie ons vergaderingbywoning verwaarloos [nie], maar ons moet mekaar aanmoedig.” – Hebreërs 10:24, 25.
Vir meer inligting oor hoekom dit belangrik is om teen eensaamheid te stry, lees die artikel “Eensaamheid in ’n wêreld vol kommunikasiemiddele”.
a The Global State of Social Connections, deur Meta and Gallup, 2023.