Courtesy Jamie Christiani/Bulletin of the Atomic Scientists
HOU AAN WAAK!
Oordeelsdaghorlosie skuif nader aan middernag
Op 27 Januarie 2026 het wetenskaplikes die Oordeelsdaghorlosie a se wysers nader aan middernag geskuif. Middernag stel die oomblik voor wanneer mense hulleself en die aarde vernietig.
“Die Bulletin of the Atomic Scientists se wetenskap- en veiligheidsraad het vandag die Oordeelsdaghorlosie tot 85 sekondes voor middernag gestel, die naaste wat dit al ooit aan algehele vernietiging was.” – Bulletin of the Atomic Scientists.
“Die Oordeelsdaghorlosie se boodskap kan nie duideliker wees nie. Rampspoedige risiko’s neem toe, samewerking neem af, en ons tyd raak min. Verandering is beide nodig en moontlik, maar die wêreldwye gemeenskap moet daarop aandring dat hulle leiers vinnig optree.” – Alexandra Bell, president en hoof- uitvoerende beampte, Bulletin of the Atomic Scientists.
Sal mense hulleself en die aarde vernietig? Moet ons bang wees vir wat die toekoms inhou? Wat sê die Bybel?
Wat die toekoms inhou
Die Bybel sê: “Die aarde bestaan vir ewig”, en mense “sal vir ewig daarop lewe” (Prediker 1:4; Psalm 37:29). So mense sal nie die aarde vernietig of dit onbewoonbaar maak nie.
Maar die Bybel praat wel van ’n einde. Dit sê byvoorbeeld: “Die wêreld . . . gaan verby.” – 1 Johannes 2:17.
Om uit te vind wat die Bybel bedoel wanneer dit oor die einde van die wêreld praat, lees die artikel “Is die einde van die wêreld naby? Wat is die Apokalips?”
Om te sien wat die Bybel sê oor wêreldgebeure wat nog moet gebeur, lees die artikel “Wanneer sal die wêreld tot ’n einde kom?”
Bly positief
Die Bybel kan ons help om positief te bly ten spyte van die probleme wat nou in die wêreld is. Hoe?
Die Bybel gee ons praktiese raad (2 Timoteus 3:16, 17). Byvoorbeeld, lees die artikel “Hoe om jou bekommernisse te beheer” om uit te vind hoe die Bybel jou kan help om positief te bly ten spyte van moeilike tye.
Die Bybel gee ’n betroubare hoop vir die toekoms (Romeine 15:4). Dit verduidelik presies wat ons nou en in die toekoms kan verwag, wat ons help om vol vertroue te bly ten spyte van wat vandag in die wêreld gebeur.
Om meer oor die Bybel te leer, nooi ons jou graag om ons gratis Bybelstudie met ’n onderrigter vandag te probeer.
a “Die Oordeelsdaghorlosie is iets wat die publiek waarsku oor hoe naby ons daaraan is om ons wêreld te vernietig met gevaarlike tegnologie wat ons self gemaak het. Dit is ’n metafoor, en dit herinner ons aan die gevare wat ons moet regstel as ons op die planeet wil oorleef.” – Bulletin of the Atomic Scientists.

