HOU AAN WAAK!
Mense verloor vertroue in politieke leiers – Wat sê die Bybel?
Gedurende die jaar 2024 sal daar meer verkiesings regoor die wêreld wees as wat daar nog ooit tevore in ’n enkele jaar was. Maar baie mense verloor vertroue in politieke leiers.
Die meerderheid Amerikaners wat aan ’n opname deelgeneem het, sê dat “die meeste politieke leiers deur selfsugtige redes gemotiveer word” eerder as ’n begeerte om die publiek te dien. a – Die Pew-navorsingsentrum, 19 September 2023.
Baie jongmense vertrou ook nie politieke leiers nie.
Tieners vandag gee dikwels om oor oplossings tot belangrike probleme, maar in opnames sê hulle dat politieke leiers nie sulke oplossings vind nie. – The New York Times, 29 Januarie 2024.
“Volgens ’n opname vertrou jongmense YouTubers meer as politieke leiers.” – The Korea Times, 22 Januarie 2024.
Kan ons vertrou dat politieke leiers ’n beter toekoms sal bring? Wie kan ons vertrou?
Wees versigtig wie jy vertrou
Dit is goed vir mense om versigtig te wees wanneer dit kom by wie hulle vertrou. Die Bybel sê: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen.” – Spreuke 14:15.
Vir goeie wenke oor hoe om te besluit watter inligting waar is en watter inligting vals is, lees die artikel “Beskerm jouself teen valse inligting”.
En selfs die eerlikste politieke leiers wat goeie bedoelings het, is beperk in wat hulle kan doen. Dit is hoekom die Bybel ons waarsku:
“Moenie op mense in ’n gesagsposisie vertrou nie, want hulle is ook maar mense en kan nie werklik red nie.” – Psalm 146:3, Die Lewende Bybel.
’n Leier wat jy kan vertrou
Die Bybel verduidelik dat God ’n leier aangestel het wat die bekwaamste en betroubaarste is: Jesus Christus (Lukas 1:32, 33). Jesus is die Koning van God se Koninkryk, ’n regering wat uit die hemel regeer. – Matteus 6:10.
Vind uit hoekom jy Jesus kan vertrou en wat hy sal doen om ons probleme op te los. Lees die artikels “Wie is die Koning van God se Koninkryk?” en “Wat sal God se Koninkryk doen?”
a Die Pew-navorsingsentrum, “Americans’ Dismal Views of the Nation’s Politics”, September 2023.