Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om met minder geld klaar te kom

Hoe om met minder geld klaar te kom

 Word jy gedwing om met minder geld klaar te kom as gevolg van ekonomiese probleme wat dit moeilik maak om ’n bestaan te maak? Pandemies, natuurrampe, politieke onrus en oorloë kan vinnig die ekonomie ontwrig. As jy skielik jou inkomste verloor, kan dit baie stresvol wees. Maar daar is praktiese dinge wat jy kan doen wat op die wyse raad in die Bybel gegrond is en wat jou kan help om met minder geld klaar te kom.

1. Aanvaar die feit dat jou situasie verander het.

 Bybelwaarheid: ‘Ek het geleer om ’n oorvloed te hê sowel as om sonder iets klaar te kom.’ – Filippense 4:12.

 Al het jy minder geld as vantevore, kan jy leer om aan te pas by jou nuwe finansiële omstandighede. Hoe gouer jy jou situasie aanvaar en daarby aanpas, hoe beter sal jy en jou familie dit kan hanteer.

 Vind uit oor finansiële hulp van die regering of ander organisasies wat dalk nou aan jou beskikbaar is. Doen dadelik iets omdat sulke programme gewoonlik vir kandidate ’n beperkte tyd gee om aansoek te doen.

2. Werk saam as ’n gesin.

 Bybelwaarheid: “Planne misluk as ’n saak nie bespreek word nie, maar as daar baie raadgewers is, lei dit tot sukses.” – Spreuke 15:22.

 Bespreek die situasie met jou huweliksmaat en kinders. Met goeie kommunikasie kan jy almal in die gesin help om veranderinge wat dalk gemaak moet word, te verstaan en te ondersteun. En wanneer almal saam werk om spaarsamig te wees en nie geld mors nie, sal jy die geld wat jy het, wyslik kan gebruik.

3. Stel ’n begroting op.

 Bybelwaarheid: “Bereken [eers] die koste.” – Lukas 14:28.

 Wanneer jy gedwing word om met minder klaar te kom, is dit belangriker as ooit tevore om te weet waaraan jy al jou geld spandeer. Stel ’n begroting op deur eers neer te skryf hoeveel geld jy elke maand in jou nuwe situasie sal verdien. Maak dan ’n lys van maandelikse uitgawes wat jy nou het en dinge waaraan jy gewoonlik geld spandeer, al weet jy dat hierdie dinge moet verander. Probeer om ’n vasgestelde bedrag geld wat jy wil spaar, by jou maandelikse uitgawes in te sluit vir onverwagse uitgawes of noodgevalle.

 Wenk: Wanneer jy boekhou van jou uitgawes, moenie vergeet om kleiner aankope in te sluit nie. Jy sal dalk verbaas wees hoeveel geld jy aan hierdie kleiner dingetjies spandeer. Byvoorbeeld, een man wat boekgehou het van sy uitgawes, het besef dat hy elke jaar ’n paar duisend rand aan kougom spandeer!

4. Besluit watter uitgawes die belangrikste is en maak veranderinge.

 Bybelwaarheid: “Maak [seker] van die belangriker dinge.” – Filippense 1:10.

 Vergelyk jou inkomste met jou uitgawes, en identifiseer watter uitgawes jy kan uitskakel of minder maak sodat jy kan uitkom met die geld wat jy nou verdien. Kyk na die volgende dinge:

  •   Vervoer. As jy meer as een voertuig het, kan jy dalk een verkoop? As jy ’n duur kar het, kan jy dit inruil vir ’n goedkoper een? Kan jy publieke vervoer of ’n fiets gebruik en heeltemal sonder ’n motor klaarkom?

  •   Vermaak. Kan jy TV-dienste, soos stroming- en satellietdienste, ten minste vir ’n klein rukkie kanselleer? Is daar goedkoper opsies? Byvoorbeeld, jou plaaslike biblioteek leen dalk DVD’s, e-boeke en oudio-boeke uit sonder koste.

  •   Huishoudelike uitgawes. Bespreek as ’n gesin hoe om minder water, elektrisiteit en brandstof te gebruik. Dit lyk dalk nie so belangrik om ligte af te sit en korter storte te neem nie, maar sulke dinge kan jou help om geld te spaar.

  •   Kos. Vermy dit om by restaurante uit te eet. Maak eerder kos by die huis. Beplan jou maaltye en wanneer dit moontlik is, koop en kook in groot maat. Jy kan ook kos wat oorgebly het, gebruik om iets anders te maak. Maak ’n lys voordat jy winkel toe gaan sodat jy nie onnodige goed koop nie. Koop vars vrugte en groente wat plaaslik beskikbaar is en gewoonlik goedkoper is. Vermy dit om gemorskos te koop. Dink daaraan om ’n groentetuin te plant.

  •   Klere. Koop net klere wat vervang moet word, nie om in die mode te bly nie. Kyk uit vir uitverkopings wat aan die einde van ’n seisoen gehou word of vir klere wat in ’n goeie toestand is by ’n liefdadigheids- of ’n tweedehandse winkel. As die weer en jou omstandighede dit toelaat, hang jou klere op die wasgoeddraad om in die son droog te word. Dan hoef jy nie ’n tuimeldroër te gebruik nie, en dit sal jou geld spaar.

  •   Toekomstige aankope. Voordat jy iets koop, vra jouself: ‘Kan ek dit bekostig? Het ek dit regtig nodig?’ Is dit nodig om nou dadelik huishoudelike en elektroniese toestelle of motors te vervang of te koop? Of dalk kan jy dinge verkoop wat jy nie meer gebruik of nodig het nie? Deur dit te doen, kan jy vereenvoudig en ekstra geld inbring.

 Wenk: Wanneer jy skielik minder geld verdien, kan dit jou motiveer om op te hou met skadelike gewoontes, soos die gebruik van tabak, dobbel of die misbruik van alkohol. As jy sulke veranderinge maak, sal dit jou nie net finansieel help nie, maar jou ook help om ’n beter lewe te hê.

5. Vind uit wat die Bybel sê.

 Bybelwaarheid: “Gelukkig is dié wat besef dat hulle God nodig het.” – Matteus 5:3.

 Die Bybel gee die volgende redelike raad: “Wysheid is ’n beskerming net soos geld ’n beskerming is, maar die voordeel van kennis is: Wysheid bewaar die lewe van dié wat dit besit” (Prediker 7:12). Sulke wysheid word in die Bybel gevind, en baie mense het al gesien dat as hulle hierdie raad toepas, dit hulle help om nie onnodig angstig te wees oor finansiële dinge nie. – Matteus 6:31, 32.